Ena Murray Keur 10. Ena Murray

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ena Murray Keur 10 - Ena Murray страница 3

Ena Murray Keur 10 - Ena Murray

Скачать книгу

frons. “Wat bedoel u?”

      “Jy is ’n jong meisie en met daardie erfenis die prooi vir wolwe. Voordat ek dit aan jou gee, moet ek weet dat die man met wie jy dit sal deel, dit waardig sal wees. Ek gaan nie dit – al wat oorgebly het van alles wat ons familie gehad het – in die hande van ’n geldwolf laat beland nie.”

      Die ouer vrou kyk stip voor haar uit en skielik is dit of daar hernieude krag in haar skraal liggaam kom sodat die aristokrasie van eeue wat deur haar are vloei met die oog sigbaar is.

      “Jy kom uit ’n trotse geslag, Lille. Jy dra adelbloed in jou are, al beteken dit vandag in Frankryk niks meer nie. Ek gaan nie toelaat dat jy met enige Jan Rap en sy maat trou nie. Jy moet dit duidelik verstaan.” Haar stem is so beslis soos wat Lille dit nog nooit gehoor het nie. “Die mans met wie jy deesdae meng, dra nie my goedkeuring weg nie. Veral hierdie jongste vryer van jou …”

      “Hy is nie ’n vryer nie,” laat Lille verontwaardig hoor, maar haar tante het die ervaring en mensekennis van baie jare agter haar.

      “Hy sal dit binnekort wees,” laat sy droog hoor. “Ek het gesien hoe hy na jou kyk vanaand toe hy jou kom haal het. Ek hou nie van hom nie.”

      Lille frons nou diep, en ook sy kyk reguit terug. “Tante, gaan u dus nou aan my dieselfde doen as wat u vader aan u gedoen het – om my voor te skryf met wie ek mag en nie mag trou nie?”

      “Nee, my kind. Want jy wil nog nie trou nie. Maar ek moet jou getroud sien voordat ek sterf. As jou keuse Louis Paquin gaan wees, moet ek dit probeer keer. Wie is hy en waar kom hy vandaan?”

      Lille se blik skram nou weg van haar tante s’n. Sy weet self nie. Tot dusver was Louis baie teruggetrokke wat besonderhede oor homself betref. Hy het net asof uit die niet in Toulon verskyn en met sy flambojante en joviale houding die stad se meisies aan sy voete gekry. Hy woon in een van die deftigste huise, maar hoewel hy skynbaar van die min ryk mense is wat nog in Frankryk oorgebly het, weet niemand waar daardie rykdom vandaan kom nie.

      Die ouer vrou se blik dwaal speurend oor die onseker gesiggie, en sy vervolg: “Begryp jy, Lille? Jy weet in werklikheid niks van die man af nie. Waar kom hy aan sy geld? Ek dink ek weet.”

      Lille kyk weer vinnig op. “Wat bedoel u?”

      “Dit was nie vir my moeilik om hom op te som nie, my kind. Die man wat ek liefgehad het, was ook van die gewone mense. Nogtans het hy ’n verfyndheid in hom gehad wat sy goeie opvoeding en agtergrond verraai het. Om ’n ryk man te wees, maak nie noodwendig van hom ’n opgevoede man nie. Jou Louis Paquin is nie ’n heer nie. Hy doen sy bes om dit voor te gee, ja, maar ’n duisend dingetjies verraai hom. Ek sal jou sê wie hy is. Hy is een van die ‘nuwe’ rykmansklas wat skielik ná die rewolusie hier ontstaan het.”

      “Nee, tante!”

      “Ja, Lille! Hy is een van daardie boewe wat, terwyl die aristokrasie na die valbyl gesleep is, die kastele geplunder het en in die naam van die rewolusie en gelykheid dwarsdeur Frankryk geroof het, ook selfs van die gewone mense. Dis waar sy rykdom vandaan kom.”

      “Ek …” Sy lek oor haar droë lippe, die donker oë groot van kommer. “Ek glo dit nie! Goed, Louis is nie verfynd nie, maar hy is nie ’n skurk nie. Ek glo dit nie!”

      Die ouer vrou se oë vernou. Is die koeël reeds te ver deur die kerk vir haar om wal te gooi? Die kommer oor haar broerskind verdiep in haar. Jare lank troetel sy al ’n droom hier binne-in haar hart. Soos Lille groter geword het, het die droom al meer vaste vorm aangeneem. Vandag, in hierdie eerste ure van die negentiende eeu, lê dit al in so ’n vaste patroon in haar dat sy weier om nou daarvan afskeid te neem. Sy sal aan ’n plan moet dink …

      Maar sy sal versigtig te werk moet gaan. Lille aard baie na haar. Sê nee, en dis so goed of jy sê sa! Sy is ’n koppige meisie as sy eers ’n besluit geneem het. Sy kan gelei word, maar laat haar nie maklik stoot nie, veral nie as dit in ’n rigting is waarvan sy nie hou nie. Dus glimlag die ouer vrou skielik en hou haar hand uit.

      “Nou goed, Lille. Ek gee jou tyd. Bewys jy aan my dat my dunk van Louis Paquin verkeerd is. En ek is nie haastig nie.”

      “Ek verstaan nie u houding nie. Wat sal u doen as ek teen u sin met ’n man trou?”

      Josephine Jacquard se gesig vererns. “Wat sal jy doen as ek jou onterf, Lille?” is haar teenvraag. “Of moet ek liewer vra, wat sal van jou word as jy skielik op ’n dag opstaan en besef dat jy nie ’n frank op jou naam besit of ooit kan hoop om te besit nie?”

      Twee paar oë ontmoet mekaar. “Voordat jy tot ’n dwase stap oorgaan, liewe kind, wil ek hê jy moet jouself hierdie vraag ernstig afvra en kyk of jy ’n antwoord daarop kan kry … ’n bevredigende antwoord vir jouself.”

      “Dreig u my, tante?” Haar stem is sag, maar die ouer vrou weet hoe belangrik haar antwoord is.

      In ’n ewe sagte, beheerste stemtoon antwoord sy dus: “Nie dreig nie, Lille. Dis net ’n moontlikheid waaraan jy moet dink.” Sy trek die jong meisie nader, soen haar teer. “Gaan slaap nou. Dis al amper oggend. Slaap gerus, my kind.”

      Maar Lille Jacquard doen net mooi die teenoorgestelde. Hoewel sy moeg en vaak was, ontwyk die slaap haar nou terwyl sy by haar kamervenster staan en kyk hoe die eerste oggendskemer van 1 Januarie 1800 oor die stad kruip.

      Sy kan die onrus in haar nie meer ignoreer nie. Die onverwagte, openbarende gesprek met haar tante het baie spoke in haar wakker gemaak. Wat as sy haarself op ’n dag sonder ’n frank in die sak bevind? Sy is as rykmansdogter gebore en grootgemaak. Selfs nadat hulle in Toulon kom bly het, in veel eenvoudiger omstandighede as die kasteel waaraan sy gewoond was, het niks hulle werklik ontbreek nie. Uit die aard van die saak moes hulle ’n eenvoudige lewe voer om nie agterdog te wek nie. Maar as sy skielik op ’n dag brandarm moet wees soos duisende ander Franse om haar?

      Sy besef maar te goed hoe haglik haar posisie sal wees. Sy kan nie werk nie. Sy sal nooit vir haarself kan sorg en die mas alleen opkom nie. Al wat sy sal kan doen, is om ’n ryk man te soek om mee te trou, of sy hom liefhet of nie.

      Louis Paquin se gesig verskyn voor haar. Op die oog af lyk hy na ’n baie aantreklike Fransman, en heel aan die begin het sy gevlei gevoel dat hy haar bo al die ander meisies in Toulon begin uitsonder het om uit te neem ten spyte daarvan dat sy in ’n eenvoudige huisie nie ver van die hawe af woon nie. Sonder Louis se geselskap sal Toulon ook amper ondraaglik vir haar wees, want hoewel daar baie jong, aantreklike Fransmanne in die stad is wat maar te graag ’n vriendskap met die pragtige donkerkop sou wou sluit, is almal in Frankryk verarm. Net hier en daar tref jy mense soos Louis aan wat nog geld het, en almal weet waar die meeste van daardie geld vandaan kom … van roof en plunder toe Frankryk in die stuiptrekkings van die rewolusie was.

      Maar is Louis ook een van hulle? Sy weet nie. Natuurlik het sy hom nog nooit gevra nie. Daarvoor is sy te fyn opgevoed. Tot dusver het sy ook nie een keer daaraan gedink dat hy dalk op daardie manier aan sy rykdom gekom het nie. Maar nou … As haar tante gelyk het?

      Waarheen en tot wie moet sy haar wend as haar tante skielik wegval? is die volgende vraag op haar lippe. Die mense wat sy as kind geken het, het almal onder die valbyl gesterf. En hier in Toulon ken sy maar net ’n paar, en dan ook baie oppervlakkig. Tant Josephine wou nooit gehad het dat sy te intiem met Toulon se mense raak nie, juis uit vrees dat iemand sal agterkom dat hulle van die gehates is wat die valbyl vrygespring het. Tot op hierdie dag van die negentiende eeu is enige oorblywende lid van daardie gehate groep nog nie sy lewe heeltemal veilig nie, al staan die valbyle reeds

Скачать книгу