Koors. Deon Meyer
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Koors - Deon Meyer страница 25
Baie mense vra vir Domingo om homself verkiesbaar te stel. Hy sê elke keer net: “Sorry, nee.”
Saans vra Pa vir hom: “Wil jy nie weer dink nie, Domingo? Ons het jou nodig.”
“Ek het klaar gedink,” sê hy.
* * *
2 Julie, twaalf dae voor die verkiesing. Dit is net-net donker toe die ekspedisie terugkom, drie middeljarige mans, twee seuns van skaars sestien, in ’n ou tienton-skaaplorrie. Hulle was vir twee weke weg op ’n amper vrugtelose soektog na kos in die ou Noord-Vrystaat: Welkom, Virginia, Kroonstad. Hul oes is skraal, hul verlies aan moed groot.
Hulle kom eers by die Orphanage aanmeld. Pa kommandeer almal op om die vragmotor te gaan help aflaai, want die werkers by die OK Value-supermark is al huis toe. Ek en hy gaan, en Beryl en Domingo, pastoor Nkosi en Hennie Flaai en Melinda Swanevelder. Biskop Rankin is siek, hy bly.
Ons werk in die donker, in die ysige koue. Soos wat ons aftel en aandra, hoor ek hoe die mense van die ekspedisie vertel van hul ontberings, van slaggate in die paaie, van struikrowers, van dorpe se supermarkte en kafees wat leeggeplunder is deur ander mense.
Domingo dra ’n groot boks aan store toe. Hy sê: “Ja, well, it is because we are stupid.”
“Wat sê jy, Domingo?” vra Pa skerp.
Domingo gaan staan en sit die boks neer. “We are stupid,” sê hy.
“Wat beteken dit?” En Pa kom nader. Ek het hom nog nie só gesien nie. Kil, ’n ysige kyk in sy oë. Ek weet dit is die spanning van die afgelope weke, die druk van verantwoordelikheid. Ek hoor hoe almal stil raak, hoe almal kyk na Pa. En Domingo.
“Dit beteken ons moes die low-hanging fruit vir laaste gelos het – die naby dorpe – vir die winter. Vir die bad times. Ons moes op die ver plekke gaan kos soek het toe die weer mooi was.”
Pa kom nog nader aan hom. “En hoekom het jy nooit iets gesê nie?”
“’Cause nobody asked.”
“’Cause nobody asked?” sê Pa. “So ons moet vra voor ons jou wysheid kry? Dis jou idee van gemeenskaplikheid? Van ’n bydrae maak?”
“Sê jy ek maak nie ’n contribution nie?” Meer verbaas as aggressief.
Pa haal diep asem, en hy kry sy kwaad onder beheer. Hy sê: “Dis nie die punt nie, Domingo. Jy het elke aand in die Orphanage gesit en luister hoe ons planne maak, en toe bly jy stil. Maar nou staan jy hier en opmerkings maak. Nou staan jy hier en sê hoe dom dit was. Jy, wat nie jouself verkiesbaar wil stel nie.”
Domingo antwoord nie. Ek kan aan sy lyftaal sien hy weet op dié oomblik hy was verkeerd. Ek dink dit is op sy tong om die situasie te ontlont, op ’n manier wat hom sal toelaat om sy waardigheid te behou.
Hy kry nie die kans nie. “That’s just cowardly,” sê pastoor Nkosi Sebego. Hy kom staan bonkig en breed van skouer langs Pa. Hy lyk soveel groter en sterker as die lenige Domingo.
Domingo se oë vernou. “You calling me a coward?”
“I am saying that a man, a real man, would put himself in the democratic firing line. Takes a lot more guts. So yes, I think you are a coward.”
Dinge gebeur in Domingo se gesig, moontlikhede beweeg soos spoke daaroor, hulle almal maak my bang. Dit is sy oë, daardie kleurlose, ligte oë van hom, wat in woede verdonker. Hy laat sy hande sak tot by die gespe van sy lyfband. Aan die lyfband is sy twee geholsterde pistole. Hy maak die gespe los, hy gaan die pastoor kaalvuis aandurf.
Pa probeer die situasie ontlont. Hy loop tussen hulle in, sy stem het ’n informele geselstrant. “We all know Domingo is one of the bravest in our community. I’m sure he has a good reason for declining the nomination.”
Domingo se hande bly op sy gespe. Hy kyk verby Pa na pastoor Nkosi. Dit is ’n mespunt-oomblik wat rek en rek, die paar omstanders is vasgenael.
Domingo haal diep asem, ontspan, sê dan sag: “Tell me, padre, would you rather have a real man who lies about his beliefs?”
Die pastoor dink hy het die konfrontasie gewen, sy stem steeds aggressief: “What do you mean?”
“I declined the nomination because I don’t believe in democracy. Not now.”
“What do you believe in?”
“Even in a perfect world, democracy is a messy business. This world is all screwed up. What it needs, is a benevolent dictator.”
“You can’t be serious?” sê die pastoor met triomfantelike afgryse.
“Hy het die Romeine aan sy kant, Nkosi,” sê Pa, sy stem verlig en paaiend. “Hulle het ’n diktator verkies in tye van krisis. In daardie tyd was die term ‘diktator’ ’n positiewe een.”
“Then call me a Roman,” sê Domingo.
Nero Dlamini is die enigste een wat op dié oomblik sag lag.
Die pastoor blaas af. Maar ook hy moet met waardigheid retireer. “You scare people,” sê hy vir Domingo.
“I know,” sê Domingo. Hy draai om en loop.
* * *
Op 4 Julie sneeu dit weer.
Nero Dlamini noem dit die laaste strooi wat die Amanzi-kameel se rug breek. Pa verwys later na al die gebeure, van die eerste sneeu en Die KTM tot die laaste onweer, as “die perfekte storm”.
Hennie Flaai is al vir twee maande besig met die enigste noemenswaardige boerdery in die gemeenskap – ’n hoender- en eierprojek, én ’n groentekweekhuis, alles in en om die asbesgeboue van die uitgestrekte ou vakansieoord heel bo, naby die hek na die natuurreservaat.
Die sewe sentimeter sneeu doen algemene skade aan geboue en paaie, maar die grootste skade is wanneer die kweekhuis se dak weens die gewig instort. Al die plantjies daarmee heen – die tamaties en soetmielies, die groenboontjies en beet, twee weke voor Hennie dit kon begin oes. Dit was die Komitee se voedsel-versekeringspolis.
Die ysige nagte laat ’n ontstellende aantal hoenders vrek. Ons karige eierproduksie kom heeltemal tot stilstand. In die reservaat verkluim ’n klomp skape.
Die twee oudste inwoners, sekere kandidate vir die komende verkiesing, tannie Nandi Mahlangu en biskop James Rankin, word ernstig siek. Nero Dlamini is die naaste aan ’n mediese praktisyn wat ons het, en hy sê oor en oor hy weet eintlik niks. Hy skryf uit radeloosheid vir die siekes antibiotika voor. Dit help nie. Hy besef die twee oues eet nie, hulle staan hul kosrantsoene aan die kleintjies af. Nero steek ’n stokkie daarvoor. Hy sit al twee op ’n drup. Dit is te laat vir biskop James Rankin. Hy sterf op 10 Julie. Almal wat nie op ekspedisies uit is nie, woon sy begrafnis by op 12 Julie.
Tannie Nandi oorleef om verkies te word tot die Komitee. Saam met Pa, Ravi, Beryl, Nero en pastoor Nkosi. Omdat daar geen grondwet is nie, besluit die gemeenskap om almal ’n geleentheid te gee om bykomende lid van die Komitee te word: Elke