Koukonap. Johann Botha

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Koukonap - Johann Botha страница

Koukonap - Johann Botha

Скачать книгу

      

      Johann Botha

      Koukonap

      ’n Vaalrivier-storie

      Queillerie

      Vir Koot, Theo, Fritz en Renier

      1. Xilofoon

      Die Fouries reis per trein van Ficksburg in die Oos-Vrystaat na Koukonap in die Noord-Kaap. Al die reëlings vir hul verhuising is afgehandel; hul trek is reeds met ’n meubelwa op pad. Dit laat hulle anderhalf dag met nie veel meer om te doen nie as om te kyk hoe die veld by hul kompartement se vensters verbyskuif en stadig maar seker verander.

      Wat Lood betref, nie ten goede nie.

      Teen die tyd dat hulle Kimberley agterlaat, is daar van die milde Oos-Vrystaatse landskap – sy koringlande en kersieboorde, vuurhoutjiepopuliere soos fakkels langs die paaie, goue sandsteenkranse en blou berge tot in die verskiet – geen sprake meer nie.

      Die Noord-Kaap bestaan blykbaar uit doringbome, klipkoppies en vaal vlaktes met dwarrelwindjies en lugspieëlings.

      “En nog doringbome,” sê Lood.

      Van Belmont af ervaar hulle ’n hitte wat hulle nie ken nie. Die kompartement is ’n bakoond en die droë wind deur die oop vensters bring geen lafenis nie.

      Lenie verset haar teen hul groeiende beklemming. “Vir my is die doringbome tog ook mooi. Kyk net al die verskillende silhoeëtte. En wat van die aalwyne daar teen die koppie? Is dit nie vir jou ook mooi nie, Lood? … Lood?”

      “Baaaie mooi,” sê Lood. Wat sou hom besiel het om ’n verplasing na hierdie barre baster-Kalahari te aanvaar?

      Van sulke bedenkings was klein Dries Fourie salig onbewus. Vir hom was die ganse reis een lang avontuur vol nuwe indrukke en ervarings.

      Dit het al op Ficksburg begin, toe die treklorrie voor hul huis stilhou. ’n Groot gevaarte met twee stelle dubbelwiele agter! Sy heel eerste nag in ’n hotel, waar mens ná ete nie eens jou eie bord agtertoe hoef te neem nie! En die volgende oggend, terwyl die son vat-vat aan die Imperani se kranse, die lokomotief wat stadig ingestoom kom, die bolle wit rook wat uit sy skoorsteen borrel, die hele string trokke wat hy so sonder moeite agter hom aansleep.

      Sy pa gesels met die kondukteur, wat sê: “Moet jou nie bekommer nie, meneer Fourie, ek gee vir julle ’n lekker kompartement. So bietjie weg van die lokomotief, dat die roet en stukkies as julle nie pla nie.”

      “Nie daar agter naby die derdeklas-waens nie.”

      Waar die perron ophou, wag daar ’n klein skare Basoeto’s met komberse en bondels bagasie ook op die kondukteur se instruksies.

      “Nooit, meneer Fourie, net die beste vir julle! Die trok net voor die eetsalon.”

      En hy steek iets wat Dries se pa in sy hand stop, stilletjies in sy broeksak.

      So ’n kompartement verdien behoorlike inspeksie. Kapstokke en houtrakke en sitbanke van gladde groen leer. Banke wat kan afslaan om beddens te vorm. ’n Tafeltjie in die middel met ’n opslaanklap waaronder ’n blink metaal-wasbak met sy eie blink kraantjie verskuil is. Vensters met blindings én hortjies wat kan op- en afskuif. Foto’s van rooibokke en leeus in die Krugerwildtuin bokant die sitbanke teen die mure.

      “Deps ek slaap bo vanaand,” sê Dries. En daardie aand kon hy nie wag dat die kelner hul rolle SAS-beddegoed met die donkerblou komberse en spierwit lakens daarbinne kom aflewer en Lenie syne op een van die boonste banke ooprol nie.

      Intussen was daar ’n hele dag se ontdekkings om te maak. In die hoek van die gangetjie voor hul kompartement is daar ’n toilet ingedruk. Jy kan nie sommer net die deur oopstoot en ingaan nie. Op die deur is daar ’n gleufie waarin VAKANT op groen of BESET op rooi geskryf staan. As daar BESET staan, moet jy maar knyp, al voel dit vir jou jy piepie in jou broek.

      Binne is amper nie plek om jou staan te kry teen die swaaibewegings van die trein en behoorlik te mik om nie die vloer nat te spat nie. Of jy sukkel om jou sit te kry met jou voete wat net-net nie aan die grond raak nie. As jy opstaan om die ketting te trek, vloei daar water teen die kante van die toiletbak af en onder sak daar ’n klap weg en vir ’n oomblik sien jy deur die gat die spoor se dwarslêers sjoep-sjoep-sjoep verbyglip.

      Daar is allerhande reëls op ’n trein. Jy hardloop nie heen en weer in die gangetjie nie. Jy staan nie by vreemdes se kompartemente en ginnegaap nie. Jy hang nie by ’n oop venster uit nie. Jy vryf nie jou oog as daar ’n stukkie koolstof inwaai nie, jy spoel hom by die wasbak uit, al voel dit vreemd om jou oë in die water oop te hou en te knip. Jy klim nie op die handrelings by die oop bruggie waar die een trok aan die ander koppel nie en jy pas op dat jou toon nie vasgevang raak tussen die bewegende voetplate nie.

      Een van die lekker dinge op ’n trein is die padkos. Lenie het toebroodjies, hardgekookte eiers en frikkadelle by die hotel se kombuis bestel en gesorg vir ’n perskerol, gekerfde biltong en ’n groot kardoes van Ficksburg se lekker rooi kersies. Padkos hou egter nie vir ewig nie. Lood het vir die vroegaandsessie plek in die eetsalon bespreek. Wanneer die kombuis gereed is, loop een van die kelners met sy netjiese onderbaadjie op en af in die gange en tik met ’n hamertjie ’n deuntjie op wat Lood ’n xilofoon noem.

      Pieng-pieng-pong-piengeling-pieng-pong. ’n Vrolike deuntjie wat Dries altyd met hul reis na Koukonap sou assosieer.

      In die eetsalon is die tafeltjies nes in die hotel met swaar silwereetgerei op gestyfde linne gedek en ’n mens moet kophou om die regte messe en vurke vir die regte disse te gebruik. Vir Dries maak als nie mooi sin nie. Hoekom so baie? Hoekom moet ’n vismes so stomp wees? Hoekom mag jy nie jou brood daarmee smeer nie, dit lyk dan soos ’n bottermes? Maar dis nog erger as dit! Jy mag selfs nie met ’n bottermes jou brood smeer nie! En hoekom moet mens jou vurk met sy rugkant na bo hou? Hoekom moet mens kos met jou dom hand na jou mond bring?

      “Dis maar net goeie maniere,” sê Lenie.

      “O,” sê Dries. Dit help nie veel nie, die ertjies bly hom baas. As jy hulle nie omtrent een vir een deurboor nie, bly hulle afrol van die vurk. Tensy jy dit vaspleister met pampoen.

      “Ons het dié manier van eet maar by die Engelse geleer,” sê Lood. “Dit kon erger gewees het. Die Chinese eet met twee stokkies.” Hy beduie hoe die stokkies met een hand vasgeknyp word.

      “Hulle eet seker nooit ertjies nie!”

      “Met daardie stokkies se punte kan hulle tot ’n ryskorreltjie optel.”

      Dries besluit hy sal dan maar liewer aansukkel met die Engelse manier. Maar dis anderdag se kwelling, want die Fouries bereik konsensus dat ’n mens maar jou vurk mag omdraai, mits jy met ’n toe mond kou.

      “Dis hoe die Amerikaners dit doen,” sê Lood. “As hulle hul kos gesny het, skep hulle dit met die vurk in die regterhand.”

      “Solank ’n mens onthou wat goeie maniere is,” sê Lenie.

      “Ek weet,” sê Dries. “Jy lê nie met jou elmboë op die tafel nie.”

      “Dis reg.”

      “Want net varke lê en vreet,” sê Dries.

      “Dis waar,” sê Lenie. “Maar vergeet nou maar van die varke.”

      Slaap

Скачать книгу