Koukonap. Johann Botha

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Koukonap - Johann Botha страница 5

Koukonap - Johann Botha

Скачать книгу

Enslin is een van die dorp se twee prokureurs. Hy wil by sy seun weet waar, hoe en hoekom hy omgestamp is. By sy vrou verneem hy wat die wond se aard en prognose is.

      “Watse tipe is hierdie Fouries in elk geval?”

      “Lyk na ordentlike mense,” sê Martie Enslin. “Ek het die vroutjie ontmoet. Dis regtig nie ’n hofsaak nie, Hendrik. Enige sny aan die kop bloei mos maar.”

      “Die klein watsenaam klink my tog na ’n boelie.”

      “Ons het maar net gespeel,” sê Tobie. Die seerplek bloei nie meer nie en hy sal graag in die spieël wil sien hoe hy met die wit lap om sy kop lyk.

      “Dis seuns, Hendrik,” sê Martie.

      By die Fouries is daar aanvanklik geen bespreking van die saak nie, omdat Dries dit verstandig ag om stil te bly. Sê niks, dan is daar niks.

      Hendrik Enslin besluit egter om tog maar die voorvalletjie in humoristiese trant onder Lood se aandag te bring. Hy bel tydens kantoorure.

      Lood luister en sê: “Nou ja, dankie vir die oproep, meneer Enslin.”

      “Die naam is Hendrik.”

      “Nou ja, aangename kennis.” Hy sit die foon neer en sê: “Poephol.” Sag genoeg dat niemand hom hoor nie. Tuis wil hy by Dries weet wat gebeur het. Hy besef waarskynlik self nie hoe streng hy tydens die ondervraging lyk nie.

      “Hoekom het jy ons niks vertel nie?”

      “Ons het net gespeel, Pa.”

      “Maar hoe het hy dan sy kop gestamp?”

      “Hy het mos eerste my bootjie laat sink.”

      “Ag so. En toe?”

      “Toe stamp ek hom in.”

      “Ja, en toe?”

      “Toe trek hy my ook in en toe stoei ons.”

      “Nou ja toe. In die vervolg vertel jy mens as so iets gebeur.”

      “Ja, Pa.”

      Lood sê aan Lenie: “Dis maar net seuns.” Heimlik hou hy daarvan dat Dries hom nie laat boelie nie.

      Lenie sê: “Ek sal tog maar vir Martie Enslin bel.”

      Die seuns se verkenningstogte het wyer gestrek nadat Vader Krismis by beide huise driewiele afgelewer het. Partykeer het Ênie Malmok haar oudste spruit, Jason, saamgebring werk toe. Dan het hulle ’n driemanskap gevorm. Jason se bydrae het meestal beteken hy moet opdraand help stoot. Afdraand kon hy agterop staan met sy hande op hul skouers.

      Jason het nooit gevra om self te ry nie. Dries kon tog agterkom hy brand om ook ’n driewiel te hê. Dan sê hy: “Oraait, ry jy nou maar ’n draai. Moet net nie die ding verniel nie.”

      Hy staan en kyk hoe Jason en Tobie mekaar uitdaag. Op kort afstande was Tobie te vinnig, maar as dit by uithou kom, kon Jason hulle albei laat les opsê.

      “Jis, hy is taai,” sê Tobie. “Seker van die draf daar van Breipaal af dorp toe en terug.”

      “Watse ding is dit? Breipaal?”

      “Die lokasie. Daar oorkant die rivier waar al die hotnots bly.”

      Dries weet darem al wat hotnots is. Is Jason dan ’n hotnot? Moet wees. Sy vel is bruin en sy hare maak sulke kroesies. En dan is Ênie seker ook een? Dit klink darem nie reg nie. Liewer nie daaraan dink nie.

      Die volgende mikpunt was die Grootvoor, wat in daardie jare nog nie deur ’n betonvoering gekuis was nie en dus ’n natuurlike tuiste vir watergoggas en paddas en krappe, ’n wonderlike bron van avontuur vir nuuskierige knape. Langs die brug waar die swaeltjies nesmaak, kon jy met ’n wilgerlat, ’n tolletjie garing, ’n paar haakspeldjies en ’n halwe witbrood klein silwer vissies uit die groenbruin modderwater pluk.

      Wanneer die visvangery sy glans begin verloor, bespiegel hulle oor die diepte van die voor en die sterkte van die stroom.

      “Tot oor jou kop,” meen Dries.

      Maar ’n duiweltjie het sy sit op Tobie se skouer gekry.

      “Nooit gesien nie. Ek wed jou, skaars by jou middellyf. Niks meer nie.”

      “Miskien party plekke. Ander plekke is hy dieper.”

      “Ek dink hy is vlak hier by die brug. Kyk hoe skuins loop die wal hier af.” Tobie mik met sy voorwiel die water in. “Die water voel ook nie so sterk nie.”

      Dries aarsel. “Oppas …” En tog. Kyk hoe soetjies glip die water tussen Tobie se speke deur. Die roekeloosheid kry hom beet. “Wag dat ek sien.” Hy ry teen die helling af en trap verby Tobie tot sy pedale onder die water verdwyn. Half ergerlik roep hy oor sy skouer: “Kom bietjie nader, Jason! Trap daar vas, dan vat jy my hand …”

      Maar Jason is nie meer by hulle nie. As hierdie twee wit laaities met hul rooi traaisiekels hier wil versuip, wil hy verdomp nie daar wees om die skuld op te pak nie. En dis presies wat hy nou, op hierdie oomblik, aan sy ma gaan verduidelik.

      So kom dit dat Ênie Malmok teen elfuur die oggend op ’n warm somersdag tot onder haar arms in die Grootvoor om hulp staan en skree. Met elke hand het sy ’n verskrikte seuntjie soos ’n half versuipte kuiken beet. Sy moet vastrap om te keer dat die water hulle nie onder die lae brug insleep nie en sy voel haar arms raak lam.

      Haar hulpkrete bereik die stoep van Keevy se winkel, waar Japie Tarentaal pas met bruinpapier en twak vir hom ’n zol gedraai het. Dalk is daar ’n paar pitjies in die twak, want hy vlieg soos ’n windhond daar weg.

      By die Grootvoor aangekom, spring hy sonder aarseling in die stroom. Op ’n manier kry hy Ênie en haar vrag aan wal gesleep. Sy taak word bemoeilik omdat Tobie nog steeds krampagtig aan sy driewiel se handvatsel vasklou.

      Op die dag van sy heldedaad word Japie Tarentaal ontroer deur Ênie Malmok se druipnat agterstewe. Die noodlot het hom uitgekies om pa te word van haar tweede kleinding, ’n seuntjie wat in die vroeë oggendure gebore en dienooreenkomstig Foroklok gedoop word. Intussen word Japie uit dankbaarheid by die Fouries se huishouding betrek deur naweke vir Lood in die tuin te werk.

      Dries se ryding is ’n paar dae later ’n ent onderkant die brug half begrawe in ’n modderwal gekry. Die speke het al begin roes.

      Aangesien Jason op ’n manier sy lewe help red het, word hulle kamerade. Tot Dries op ’n dag sê hy dink dis tyd dat Jason vir hom baas begin sê.

      “Jy meen soos in baas Dries?”

      “Of kleinbaas, as jy wil.”

      “Nou vir wat?”

      Dries aarsel. “Jy is mos ’n hotnot.”

      “Hotnot se gat. Jou moer, jou donnerse Boer.”

      Dit was die einde van ’n belowende vriendskap.

      5. Bokmelk

      Dokter

Скачать книгу