Koukonap. Johann Botha

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Koukonap - Johann Botha страница 6

Koukonap - Johann Botha

Скачать книгу

raak, vind hy ’n keisersnee nie aangewese nie. Vir Lenie voel dit of haar ingewande uitskeur, maar na al die bitter ure in kraam is die naelstring geknip en die baba in ’n warm kombersie toegedraai.

      “Dis ’n fris bulletjie,” sê dokter Jackson. “Tien vingers, tien tone, en soos jy kan hoor, is daar niks fout met sy longe nie.”

      Dit was feitlik ’n herhaling van haar eerste bevalling. Dus weer ’n seun. Weer ’n baba wat eintlik te groot was vir haar klein postuur. Sy het nou geen ander begeerte in die lewe as om in te sluimer nie; om haar te koester in Lood se bekommernis en die liefdevolle versorging van die nonne. Maar anders as wat met Dries die geval was, is klein Karel – na haar kant van die familie vernoem – ’n moeilike baba. Hy aard nie op die bors nie. Sy lyfie trek inmekaar van die krampe. Hy huil hom uitasem. Van pure uitputting dommel hy naderhand weg, maar hy kerm troosteloos in sy slaap.

      “Ek het nie gedink dis moontlik nie,” sê dokter Jackson. “Maar dit lyk my die kind is allergies vir moedersmelk.”

      Hulle probeer beesmelk, poeiermelk, blikkiesmelk. Hy drink gulsig, want hy is honger. Dan pak die koliek hom weer. Hy spoeg die bottel se tiet uit en vul sy doeke met ’n geel, onwelriekende skittery. Die nonne maak beurte om te help sus en troos en winde uitstryk, maar ook hul sereniteit word beproef. Die knaende gehuil dryf Lenie tot trane en knip Lood se hospitaalbesoeke kort. Hy vrees die tuiskoms.

      By die huis kan Lenie darem staat maak op die aardse raad van Ênie Malmok, wat glad nie skrik vir Karel se streke nie.

      “Sit die kind op donkiemelk,” sê Ênie.

      Lenie vind dit ’n aardige voorstel. Moet haar Kareltjie dan deur ’n donkiemerrie gevoed word? Wat sê dit van haar as moeder? Teen hierdie tyd is sy egter bereid om enigiets te probeer. Lood stem van harte saam. Die vraag is, waar kry ’n mens donkiemelk?

      Toevallig weet Ênie. Japie Tarentaal se een merrie is juis in die vul.

      Japie word ontbied. Die donkie het melk, ja. Dit sê nog nie veel nie. Om die donkie gemelk te kry, daar lê die moeilikheid.

      Lood onderhandel met hom ’n prys en benadruk dat daar haas is met die saak. Japie kom laatmiddag daar aan met ’n halfkoppie blouwit melk in ’n erde-emmertjie en ’n opgehewe wond aan die wang. Hy loop half kruppel. “Eers skop sy my omtrent vrek,” sê Japie. “Toe byt sy my.”

      “Al genade nou is bokmelk,” sê Ênie Malmok.

      Dit blyk ’n eenvoudiger probleem te wees om op te los. Lood is nie verniet die posmeester nie. In sy amp is hy ook verantwoordelik vir die distrik se telefoonstelsel en handsentrale. Die dames wat mekaar by die sentrale aflos, weet waarskynlik meer van die distrik se geheime en algemene doen en late as die polisie.

      Hulle spoor in Die Erwe ’n bokboer op wie se vrou die kans wil benut om ’n ekstra geldjie te verdien. Binne ’n paar dae staan daar ’n paar bottels bokmelk in die Fouries se groot ou Norge-yskas. Lenie onderneem self die pasteurisasie.

      Die bokmelk akkordeer met Karel. Die koliek, die winde, die skitterye verminder. Hy skreeu nie meer aanmekaar blou moord nie. Hy slaap steeds ongereeld, maar hy kerm minder in sy slaap. Hy begin selfs gewig aansit.

      Halleluja. Uiteindelik kan Lenie haarself ’n bietjie gesonde selfbejammering gun.

      In die jare wat kom, peins sy dikwels oor hierdie dwars kind van haar. Aan die een kant, vol liefde. Geen lewende dingetjie ontsnap sy aandag nie. Hoe ’n sjongolôlo met daardie honderde haarfyn pootjies geloop kry en hoe hy hom blitsig kan oprol by enige teken van gevaar. Hoe ’n ry klein swart miertjies korreltjie vir korreltjie suiker na hul nes toe aandra. Hoe ’n paar bruin torre op ’n somersaand geduldig in ’n vuurhoutjieboksie sal bly krts krts tot hulle vrygelaat word en weer koers kry na die naaste lig.

      Maar moet hom nie teëgaan nie. Hy het ’n humeurtjie wat skrik vir niks. Hy ruk sy lyfie, stamp met sy voete, gooi hom op die grond neer en skree soos van ouds. En moenie dink ’n paar rapse met die plathand sal sake verbeter nie. Hy is kapabel en huil hom letterlik uitasem. Tussen hom en Lood word dit soms ’n botsing van wil wat in ’n loesing eindig. Een aand, na so ’n episode, praat sy ernstig met haar man.

      “Moenie slaan nie, Lood. Dit sal nie help nie.”

      Hy raak ergerlik. “Moet die kind dan nou maar maak soos hy wil?”

      In sulke oomblikke help die Bybel haar. Salomo sê nie verniet in sy Spreuke ’n sagte antwoord keer die grimmigheid af nie.

      “Nee, glad nie. Kyk net wat gebeur as jy ’n slag mooi praat. Dit werk met hom.”

      Met Theunie se geboorte is sy weer na die nonne, al was daar toe al ’n provinsiale hospitaal op Koukonap. Die bevalling is waargeneem deur dokter Van Greunen, wat by dokter Jackson se aftrede sy praktyk oorgeneem het. Hy was van ’n jonger geslag wat nie van chirurgie teruggedeins het nie. Tog het hy geoordeel dat ’n natuurlike bevalling steeds aangewese is. Dit was immers haar derde.

      Asof dit ter troos vir haar so bestem is, is Theunie die soetste van haar drie babas. Vir borsvoed sien sy nie weer kans nie, maar Theunie lyk tevrede met ingedampte melk. Hy huil min en as hy huil, is dit maklik om vas te stel hoekom: hy is honger of dors of moeg of sy doek is nat of hy het ’n wind wat pla. Hy is ’n goeie slapertjie. As hy wakker en droog is en sy magie is vol, betrag hy die wêreld met sedige belangstelling. As jy hom kielie, of met jou lippe borrelklanke op sy pensie blaas, lag hy lekker, maar hy dring nie aan op aandag nie.

      “So vroom soos ’n dominee,” sê Lood. Hy loop graag met Theunie oor sy skouer tot hy slaap. “Lyk my ek het ’n slag met dié knapie.”

      Dat dit weer ’n moeilike geboorte was, is egter seker. Weer voel dit teen die einde vir Lenie of sy dit nie meer kan verduur sonder om te breek nie. By haar eerste opvolgbesoek na die bevalling beveel dokter Van Greunen ’n histerektomie aan. ’n Dogter sou haar dus nie beskore wees nie. Nou ja. Drie seuns is ’n handvol. Vir nog ’n bevalling sien sy in elk geval nie kans nie.

      Sy twyfel trouens of sy ooit weer sal kan toegee aan daardie dinge van die nag, daardie gestoei van swetende lywe wat die Bybel vleeslike gemeenskap noem. O ja, daar was tye dat sy haar daaraan oorgegee het. Op die oomblik dink sy met huiwering daaraan.

      6. Bontbeen

      Dries Fourie en Jason Malmok is min of meer portuurs en gaan in dieselfde jaar skool toe, maar nie na dieselfde skool nie.

      Jason gaan na die lokasieskool in Breipaal vir die distrik se bruin kinders, hoofsaaklik Griekwas. Dis ’n interessante versameling kleingoed, van herkoms Nama en Koranna met ’n bietjie Boesman en verdere bydraes uit Europa en Afrika. Sommige van die kleintjies is donkerder as die tipiese geelbruin; ander vertoon sproetjies, blou oë of ’n rooi skynsel in die hare.

      Dries gaan na Koukonap Hoër, die dorpskool vir die omgewing se wit kinders. Hier is die mengsel grotendeels Europees van herkoms, die bruin meestal sonbruin. Daar is egter ook tekens van die groep se verblyf van meer as drie eeue in Afrika. Van die kleinspan neig van nature na die blas kant met hare wat krinkel.

      Daarvan word nie gepraat nie. In elk geval nie openlik nie. Wel soms na skool op die speelterrein. Daar lei dit partykeer tot onderonsies.

      Dan is daar nog ’n derde skool. Bongani is die woonbuurt op die bult oorkant die stasie vir die omgewing se swart mense, veral Tswana en ’n bietjie Xhosa. Hoewel die swart eintlik skakerings van bruin is en bepaald nie uniform

Скачать книгу