Ultrasatyn 2. Elsa Winckler

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ultrasatyn 2 - Elsa Winckler страница 13

Ultrasatyn 2 - Elsa Winckler

Скачать книгу

ma gooi haar hand in die lug. “Hy het. Hy’t sowaar vir haar gesê sy’s nie stemmig genoeg nie. Kan jy dit glo? Alistair, wat het jy jou seuns geleer?” vra sy ontsteld vir sy pa.

      “As hy onnosel is, is dit nie my skuld nie.” Sy pa gee hom ’n geamuseerde kyk. “Jy kan doen met ’n … minder stywe meisie.”

      “Ek het oop kaarte met haar gespeel, soos wat ek altyd doen met iemand wat ek uitneem. Sy is heeltemal te vinde daarvoor dat ons uitgaan sonder enige verwagtinge. Wanneer ek trou, moet dit iemand wees …” Hy kyk hoopvol na Doug. “Jy weet waarvan ek praat. Dit moet tog iemand wees wat jou kan ondersteun en wat met ons kliënte kan gesels … nie iemand in ’n romp met lae en lae net nie!”

      Sy ma trek haar asem skerp in. “Wel,” sê sy en kyk na Finlay en Edward. “Ek dink sy’s ’n pragtige kind en as jul broer te onnosel is om dit raak te sien, hoop ek een van julle maak ’n plan.”

      “Boeta,” lag Doug en staan ook op. “Ek kan maar net vir jou sê, die kliënte is die laaste ding waaraan ek dink wanneer ek by Annabel is.” Hy gaan staan agter die stoel van sy aanstaande bruid en vou sy arms van agter om haar. “Ek weet nie waar jy aan jou idees kom nie, maar as ’n stemmige girl jou gelukkig maak – go for it. Die lewe is kort.” Hy buk af en soen Annabel teer.

      Alan kyk weg. Die intieme oomblik tussen sy broer en sy aanstaande ontstel hom. Al waaraan hy kan dink, is Corinne.

      “Wat is dit met jou en vroumense met stywe hare en stywe klere?” vra Quinn. “Ek skrik my morsdood vir sulke girls en kon nog nooit verstaan wat jy in hulle sien nie.”

      “Ek dink net in ons bedryf is dit nodig om ’n vrou te kry wat jou kan ondersteun in wat jy doen. Een wat self ’n beroep het en nie vir jou sit en wag by die huis nie. En een wat jy nie skaam is om aan kliënte voor te stel nie.” Alan vryf vies oor sy nek.

      Sy ma klap haar tong. “Jy kan jou ou skoene agter ’n vrou soos Corinne aangooi …”

      “Ma, jy het haar nie gisteraand gesien nie. Sy het hierdie romp aangehad –”

      “’n Tulleromp,” val Annabel hom in die rede. “Wat is so vreemd daaraan? Netsy is hoogmode en sy het die bene daarvoor.”

      “Wie lyk so?” Hoekom verstaan niemand wat hy probeer sê nie?

      Annabel grinnik. “’n Girl wat weet wie sy is en wat nie issues het nie. Presies die soort wat jy soek, klink dit my. Behalwe dat daar niks styfs aan Corinne is nie. Sy is warm en …” Annabel waai haar hande soos sy probeer beduie. “Real. Dis die woord. Wat jy sien, is wat jy kry. Dis natuurlik nie elke man wat so ’n vrou kan hanteer nie.”

      Edward staan op en sit sy hand op Alan se skouer. “Daar het jy dit. Kry vir jou ’n stemmige girl. Los vir Corinne – sy verdien ’n volbloedman. Soos ek.”

      Vies ruk Alan hom los. “Ek sien haar op die oomblik. Bly weg,” brom hy voordat hy hom met ’n wuif van sy hand uit die voete maak.

      Beelde van Edward en Corinne flits voor hom en sy hande bal in vuiste. Magtig. By sy motor kyk hy ’n oomblik op na die hemelruim, bespikkel met sterre. Vandat Corinne in sy lewe gestap het, is alles ’n warboel en dis presies wat hy nog altyd probeer vermy het.

      Maar die hemele help hom, hy moet by haar wees. Hy spring in sy motor en trap die petrolpedaal diep in. Môreaand is hopeloos te ver in die toekoms.

      “Wel, ek is baie trots op julle,” glimlag Corinne vir die groepie hoërskoolmeisies in haar blommewinkel. “Julle het goed gedoen.” Sy beduie na die potte vol blomme voor elkeen. “Volgende Vrydag gaan ons ’n posie maak vir ’n goeie vriendin – blomme wat die een of ander emosie oordra. Iets soos swaardlelies wat dui op iemand se sterk karakter of laventel wat bewondering aandui – ek sal sorg dat hier genoeg blomme is. Nou toe, sien julle weer volgende week!”

      Die tieners haal die blomme versigtig uit die houers waarin dit was. Al die afvaltakke is al weggegooi en hulle vat die potjies terug kombuis toe waar elkeen verantwoordelik is om haar potjie skoon te maak.

      Uiteindelik is almal klaar. “Dankie, Corinne!” roep die groepie en sy stap saam tot by die deur om hulle uit te laat. Dis al na nege, sien sy, maar die klomp het vanaand so gebabbel. Sy kyk hulle glimlaggend agterna en wuif toe die laaste een nog ’n keer omkyk om te groet.

      “Hoekom is jy nog by die winkel?” vra ’n stem wat baie soos Alan s’n klink agter haar.

      Sy draai vinnig om. Sowaar, dit ís hy.

      “Alan! Ek het gesê môreaand, dan nie?” vra sy terwyl haar hart laf in haar binneste begin klop.

      Hy knik, sy hande in sy broeksakke. “Jy het. Maar ek … môreaand is te ver weg.”

      Sy sluk. Sjoe. “Ek was besig.” Sy beduie in die rigting waar die meisies om die hoek verdwyn het. “Vrydagaande is vir die groepie tieners. Een van hulle het op ’n dag hier ingestap en gevra of ek hulle sal help met blomme vir ’n funksie by hul skool en wel, dit het ’n weeklikse instelling geword om oor blomme te gesels.”

      Sy babbel, maar kan nie anders nie. Hy sê niks nie, staar net na haar.

      “Ek moet net die ligte afsit binne.”

      “Ek sal jou help,” sê hy en hou die deur oop sodat sy kan instap.

      “Dis nie nodig nie, ek sien jou mos môreaand.”

      “Ek is nou hier.”

      Help! Sy is nie voorbereid daarop om hom vanaand te sien nie. Sy sou nog ’n nag en ’n dag wou hê om haar te staal teen sy nabyheid, sy sexy, wilde reuk, sy …

      “Ek … die kombuislig,” beduie sy en vlug die kort gangetjie af.

      Alan skep ’n diep teug asem en staar Corinne agterna. Bliksem. Die vroumens steel elke druppel suurstof uit sy lyf en elke moontlike rasionele gedagte. Vanaand het sy ’n kort, wye rompie aan met ’n langmoubloes met klein knopies. Die moue is halfpad opgerol, haar armbande klingel vrolik soos sy wegstap. Sy vingers jeuk – hy kan nie wag om elke knopie los te maak nie.

      Net die gedagte aan haar sagte vel onder sy vingers laat sy voete beweeg. Hy is by die voordeur voordat enige boodskap van sy brein by sy lyf uitkom. Met een draai sluit hy die voordeur van haar winkel en stap met lang treë tot by die kombuis.

      Sy staan met haar rug na hom, op haar tone, besig om die laaste potjie hoog op een van die rakke te pak. Haar hemp lig op, hy kry ’n glimp van haar sysagte vel, die kettinkie aan haar enkel flits en toe kan hy hom nie meer keer nie.

      Hy draai haar om en sy is in sy arms. Diep binne hom raak hy die eerste keer vandag werklik rustig. Sy is beautiful, sexy, haar armbande maak hom mal – dis die enigste rede hoekom hy nie sy hande van haar kan afhou nie.

      Haar arms vou om sy nek en gewillig val haar kop agteroor. Aanbiddend, soekend, gly sy lippe oor haar gesig, af teen haar nek tot waar haar pols dawerend onder sy mond klop. Hy begeer, sy bloed kook vir haar. Hy verstaan sulke gevoelens, maar hierdie … Hy soen haar, voel hoe sy smelt teen hom. Hierdie allesoorweldigende passie, dís ’n ontembare drif wat hy nie ken nie.

      Trane dam op agter haar ooglede. Niemand het haar nog ooit presies so gesoen nie. Weg is die dringende intensiteit van gisteraand. Sy aanraking is teer, so anders as voorheen. Passie kan sy hanteer,

Скачать книгу