Sirkus. Irma Venter

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Sirkus - Irma Venter страница 5

Автор:
Серия:
Издательство:
Sirkus - Irma Venter

Скачать книгу

      “Glad nie.”

      “Sit dan. Kuier saam met ’n ou vriend.”

      “Dis baie gaaf van jou, maar ek moet kos maak. Die res van die gaste gaan binnekort hier wees.”

      “Ontspan, Adriana. Ek sal jou nooit skade aandoen nie. Inteen­deel, ek’s hier om my skuld te betaal.”

      Ek proe aan my whiskey. “Daar’s geen skuld tussen ons nie.”

      “Jy bly ’n uitsonderlike leuenaar.” Hy sit sy hande op die tafel, palms na onder. Sy stem sak. “Jy kan my besigheid sink met wat jy weet. Alles wat ek oor die jare opgebou het, kan jy oornag laat verdwyn.”

      “Ek sal dit nooit aan jou doen nie.”

      “Jy sal. Wanneer dit jou pas. Of jy sal dit gebruik wanneer jy ’n guns wil hê. Ek’s nie onnosel nie.”

      Ek bly stil.

      “Soos ek sê, ek’s hier om my skuld te betaal.”

      “Waarvan praat ons, Themba?”

      “Ons ooreenkoms van laas keer toe ek hier was. Ek soek die video. En enige kopieë wat jy dalk gemaak het.”

      “In ruil vir … ?”

      “Inligting. Soos belowe.”

      “Ek luister.”

      Hy kyk stip na my, asof hy probeer bepaal watter waarde sy inligting vir my het. “Yasen Todorov is hier.”

      Ek vat die stoelleuning voor my vas. Ek wil nie, maar iets in my wankel onwillekeurig. Ek staar na my hande. Daar is ’n tril­ling in my vingers, soos die vlerke van ’n mot wat te bang is om te beweeg, wat wonder of dit veilig is om te vlug.

      “Hier? In Suid-Afrika?”

      “Kaapstad. Hy’t ’n week gelede geland. Direkte vlug van Dubai af.”

      “Is jy seker?”

      “Heeltemal.”

      Ek bereken die tyd wat reeds verby is. Die afstand na die kus­stad. “Hoe weet jy dit?”

      “Jy’t laas voorgestel dat ek hom onder oë hou.”

      “Ek bedoel, hoe het jy uitgevind? Niemand het my iets laat weet nie.” Was al die jare se omkoopgeld dan verniet? Te min?

      “My kontak by Staatsveiligheid het my laat weet. Duitsland bly senuweeagtig oor Yasen Todorov.” Sy oë vernou. “Ek wil daai video hê. Of het jy gelieg? Dat jy vir my die video sal gee in ruil vir die regte inligting?”

      “Natuurlik nie.”

      “Wat pla jou dan?”

      “Ek wonder net … Hoekom sou Yasen Kaapstad toe gaan? Hoekom nie Johannesburg nie?”

      “Ek weet nie. Al wat ek weet, is dat hy laas maand vrygelaat is. Bulgarye moes hom uiteindelik laat gaan. Hy’s amper sestig en sieklik en almal hoop hy sal doodgaan voor hy weer moeilikheid maak.”

      “Hy’s nie siek nie. Dis twak. Aansit.” Ek het Boris vroeg vanjaar gestuur om met sy eie oë te gaan kyk. “En as hy vrygelaat sou word, moes hy in Bulgarye bly. Dit was die ooreenkoms.”

      “Hy’t blykbaar ’n nuwe paspoort in die hande gekry. Dis onder die naam Viktor de Klerk.”

      De Klerk. Soos my huidige van. Adriana de Klerk.

      Ek vat ’n sluk van my whiskey. Kyk na my hand wat die glas vasklem. Weer die motvlerke wat tril, beur.

      Themba leun oor die tafel na my. “Ek wil die video hê.”

      “Kom ons kyk eers of jou inligting korrek is.”

      Hy staan op. “Adriana … Jy kan nie langer my toekoms gyselaar hou nie.”

      “Ons praat later.”

      “Wie sê daar’s ooit ’n later? As Todorov hier opdaag …”

      “Is ek dood en het jy niks om te vrees nie.” Ek lag, vang die vrees in die krop van my maag vas en hou dit daar. Haal oor dit asem, egalig en glad, tot dit gaan lê.

      “Wie sê jy het nie ’n spul kopieë gemaak nie?”

      “Ek het nie.”

      “Ek glo jou nie.”

      “Dis jou probleem, nie myne nie.”

      Ek sien die woede in sy oë.

      “As jou inligting reg is, sal ek dit vir jou gee.”

      “Sê wie?”

      “Ek het nog altyd my beloftes nagekom. Jy weet dit.” Ek tel sy leë glas op. “Vergeet van die rekening, die whiskey is op die huis.”

      Hy loop sonder om te groet. Ek kyk hom agterna tot hy en sy lyfwagte by die hek uit verdwyn.

      Ek skink vir my ’n tweede whiskey. Ignoreer die kelners wat verbaas na my kyk, Zenani wat boodskappe stuur dat ek kombuis toe moet kom.

      Ek loop kantoor toe, maak die deur agter my toe.

      Yasen. Hier. In Suid-Afrika. Waar ek bly. Waar my familie bly. Hoekom vind ek dit nou eers uit? Hoe kon ek en Boris so blind gewees het? Het ons gerus geraak? Ryk en gemaklik?

      Dalk lieg Themba. Dalk is sy inligting verkeerd. Dalk is Yasen dood, of nog steeds in die tronk, en wil Themba net die video hê.

      Dalk is Yasen reeds in Johannesburg.

      Hy kan tog nie weet waar ek bly nie. Ek het my van al verskeie kere verander en ek gebruik nie sosiale media nie. En ek het nooit regtig met hom oor my familie gepraat nie.

      Nee. Hy weet iets. Dis hoekom hy die van De Klerk gekies het. Tipies Yasen. Hy klim in jou kop in. Skarrel soos ’n rot onder jou vel in op soek na die weerloosste plek om aan te knaag.

      Wat as hy van my halfsusters weet, van hulle kinders? As hy van álmal in my lewe weet? Wat as hy van …

      Ek moet hom opspoor voor hy my in die hande kry. Yasen het sekere duur stokperdjies, soos om donkerkopvroue te vind wat hy kan breek. Ek weet waar om te soek.

      Ek moet dringend in die Kaap kom. Ek staan op. Haal my motorsleutels uit die laai, tel my handsak op. Ek moet woonstel toe om te pak en ek moet seker maak almal is veilig, net ingeval Yasen hier opdaag.

      Die Yasen Todorov wat ek geken het, was dodelik, en ek kan nie dink dat soveel jare in die tronk hom verander het nie. Inteendeel.

      2

      Johannesburg, vandag

Скачать книгу