Blinde sambok. Riana Scheepers

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Blinde sambok - Riana Scheepers страница 5

Blinde sambok - Riana Scheepers

Скачать книгу

het uGogo vanaand vertel?” vra hy.

      “Van Hlakanyana wat deur sy ma se maag geëet het en toe dadelik drie osse gaan opvreet het!”

      My pa glimlag. “Het sy al vertel van die keer toe Hlakanyana die mensvreter gevang het?”

      “Ken Pappa dan die storie?”

      “A ja a!” sê hy.

      Vir die eerste keer hoor ek dat my pa, toe hy ’n seuntjie was, óók in uGogo se hut gesit en luister het.

      6

      Ek kuier by ouma Willemien in die ouhuis. My ma en pa is vroegoggend al dorp toe. Ek wou nie saamgaan nie, dis te warm in die kar en ek word naar om die draaie. As ek op die plaas bly, kan ek doen wat ek wil sonder dat iemand my elke oomblik van die dag dophou. En ek hoef nie ’n rok aan te trek nie. Dis net jammer dat ek nie vandag saam met Bhubesi veld toe mag gaan nie. Oupa Lewies het gesê ons twee saam broei onheilsvoëls se eiers uit en hy kan ons nie heeltyd dophou nie, hy het werk om te doen. Dis jammer, want ons het juis in die rietbos so ’n lekker slap stam ontdek waarop ’n mens kan ry.

      Ek sit by ouma Willemien in die kombuis. Ouma Willemien knie brooddeeg in die enemmel-knieskottel met die rooi en blou rose op. Die deeg lyk soos ’n groot, sagte, vet pens. As Ouma diékant knie, dan peul die deeg aan die ander kant uit. Ek steek my vinger aan die kant van die deeg in. Dit sak so lekker weg daarin.

      “Is jou handjies skoon, Gideonette?” vra Ouma.

      “Natuurlik, Ouma!” sê ek vinnig. “Hulle is skitterskoon.” Ek haal my vinger uit en probeer terselfdertyd ’n stukkie deeg aftrek. ’n Klein stukkie breek af en ek steek dit in my mond. Lekker, so ’n bietjie suurderig. Ek steek my hande onder die tafel in en kyk of hulle skoon is. Nie heeltemal so skoon soos wat ek vir ouma Willemien gesê het nie, maar skoon genoeg vir my. My naels is ’n ander storie. Hulle is nie skitterskoon nie, hulle is smerigswart, nog vol van die potklei waarmee ek gespeel het.

      Langs ons op die tafel lê die Landbouweekblad waarin oupa Lewies gelees het. Op die voorblad is daar ’n baie mooi perd wat met sy maanhare in die wind galop. Ek maak die boek oop en blaai daardeur. Daar is baie prentjies met koeie en perde en drie volle bladsye met foto’s van hoenders. Nie een van die hoenders is so mooi soos Tannie Bettie nie, sy sal enige dag of nag eerste op die skou kom as hulle wil kyk wie se hoender die mooiste is. Sy is so mooi omdat sy net lekker kos uit die kombuis en tuinwurms eet.

      “Wat sê dit in die boek van hierdie hoenders, Ouma?”

      Ouma Willemien kyk skuins af na die boek. “Ek het nie nou my bril op nie, Deonette, en ek kan nie nou hier stop nie, anders eet ons vanaand kluitjiebrood. Gaan soek jy gou Ouma se bril, en as ek klaar geknie het, lees ek vir jou.”

      “As ek die bril kry en opsit, kan ek dan self lees?”

      “Nee, ek sal jou eers die letters moet leer.”

      Ek spring op om die bril te gaan haal. Ek weet presies waar dit lê, op die wastafeltjie in die kamer.

      Oupa en Ouma se kamer is donker en hulle bed lyk net so hoog soos die prentjie van die dom prinses wat op dertig matrasse en ’n ertjie geslaap het. As ek nou al ooit in my lewe ’n simpel storie gehoor het, dan is dit van daai prinses wat ’n blou kol gekry het net omdat daar één ertjietjie onder haar matras was. As sy hier op Langverwacht kom kuier, sal sy seker heeldag pimpel en pers rondloop. Die honde sal haar net een stamp gee dan is sy onderstebo, en dan wil ek nie eens dink hoe haar voete sal lyk as sy kaalvoet in die duwweltjieveld beland nie. Dankie tog dat ek nie ’n prinses is nie, en dat sy nie my pêl is nie. My en Bhubesi se voete is nou al so hard dat ons die meeste dorings skuins in die grond intrap. Maar dis nog nie hard genoeg vir duiwelsdorings nie. As ons tussen daardie dorings beland, vra ek altyd dat Bhubesi my op sy rug moet tel. Hy het eers altyd, hy kan my maklik optel, maar nou wil hy dit nooit meer doen nie.

      Ouma se bed lyk baie lekker om op te spring. Dalk skiet die bed my tot bo teen die dak, dan kan ek daar aan die lig of aan die baldakyn hang en weer afspring. Ek hardloop ’n paar treë en duik met my kop eerste bo-op die bed. Ek sak lekker diep in die bulsak weg, my lyf maak sommer so ’n diep donga in die middel. Die matras skiet my nie op nie, ek sak net al hoe dieper weg in die donsvere. Hier sal ek sowaar versmoor as ek nie opstaan nie. Ek staan weer regop en begin op die bed spring. Die vere kraak en die bed bewe. Hoe harder ek spring, hoe meer skud die bed. Terwyl ek spring, probeer ek met my hande bo aan die baldakyn raak. Dis ’n mooi gladde stuk hout, sonder ’n gordyn soos wat ander beddens het. Net toe ek dit ámper regkry, staan ouma Willemien in die deur.

      “Gideon! Wat maak jy?”

      Ek skrik so groot dat ek sommer so slap in die bulsak inval. Toe ek bo die kante van die donga uitloer, staan sy nog steeds in die deur, arms in die sye. Ek is in die moeilikheid.

      “Ek kon nie Ouma se bril sien nie, ouma Willemien! Toe’t ek gedink, as ek tot teen die dak spring, sal ek baie goed van bo af kan kyk om te soek waar dit is.”

      “Kom, kom, af is jy!” jaag sy my van die bed af. “As ’n mens jou nie elke oomblik van die dag besig hou nie, dan doen jy kwaad.”

      Sy tel haar bril, ’n skryfblok en ’n pen van die wastafeltjie op en stoot my voor haar in die gang uit. In die kombuis is die brooddeeg in die skottel onder ’n dik wolkombers toegemaak. Die skottel lyk net soos Ouma se bed, net ’n bietjie kleiner. Ek sal maar liewer nie vandag waag om my hand in die middel van die deeg af te druk om te voel of dit soos die bulsak voel nie. Anderdag.

      “Kom sit hier by die tafel, dan leer ek jou skryf.”

      Ek klouter op die stoel en gaan sit op my hurke sodat ek by die tafel kan bykom. Ouma Willemien trek die skryfblok en die pen nader en blaai tot by ’n skoon bladsy.

      “Wat wil jy skryf?”

      “My naam, ouma Willemien, my hele naam. En my plaas se naam.”

      “Nou toe dan. Kyk mooi hoe maak ’n mens die letters en dan oefen jy om dit self te doen. As jy dit regkry, gee ek vir jou ’n stukkie brooddeeg waarmee jy jou eie broodjie kan bak.”

      Toe my ma laat die middag van die dorp af terugkom en my by die ouhuis kom haal, kry sy twee presente. ’n Warm brood van ouma Willemien en van my ’n vel blou skryfpapier waarop daar staan:

      Gide onettte Died erika

      Marthina De la Rey.

      Langwerwacht.

      Die volgende keer toe my ma en pa dorp toe moes gaan, het ouma Willemien my geleer lees. Om te keer dat ek onheilseiers uitbroei.

      Конец ознакомительного фрагмента.

      Текст предоставлен ООО «ЛитРес».

      Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.

      Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard,

Скачать книгу