Die Singende Gras. Freda Linde
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die Singende Gras - Freda Linde страница
Freda Linde
Die Singende Gras
Tafelberg
Vir my broer Emelius (Piet) van Windhoek
1
Lans is gewoond om op hierdie warmste tyd van die dag veld toe te stap. Na twee in die middag begin alles stil word by die hotel, en niemand roep na hom nie. Hy hou regs van die groot stowwerige plein, by die kameelkampie verby, en steek die nasionale pad oor.
Dan is hy in die hoë gras, duskant die spoorlyn wat hier ewewydig met die pad na die noorde loop. Hy klim teen die skuins gruiswal langs die treinspoor uit en loop ’n entjie op die spoorstawe langs. Iets laat hom omkyk. Die kameel het haar kop tussen twee drade van haar omheining deurgesteek. Dit doen sy partymaal as hy per ongeluk ’n wortel of ’n paar peule aan die buitekant van haar kampie laat val; maar nou rek haar nek nie grond toe nie, net vorentoe. Sy skuur seker net haar nekvel teen die draad. As hy terugkom, sal hy vir haar ’n armvol sappige gras sny. Die hitte is nogal lekker; dit prik sy arms en bene. Op hierdie warmste tyd van die dag voel dit amper asof die hitte wat van die grond opslaan, hom ook wil oplig. Dan sal hy stadig sweef in plaas van stap.
Anderkant die spoorlyn stap hy weer deur ’n laagtetjie gras. Die graspluime is sag soos pluis; sy bene skuif tussen die polle deur sonder dat sy velskoene hulle plattrap, want hoewel die halms wyd uitsprei boontoe, staan die polle nie so naby mekaar as wat ’n mens sou dink nie. Net bo sluit die lang pluime inmekaar soos vere; nie groen nie maar groenwit, en rooierig, en effens pers.
Hier aan die voet van die tafelkop waar die gras al droog is, skuur dit ’n dowwe snarespel teen die leer van sy skoene terwyl hy stadig aanstryk en af en toe met die stok in sy hand ’n harde tik op die grond gee om die slange te waarsku. Slange soek nie vanself skoor nie, dit weet hy. Hulle seil weg as hulle jou gewaar – behalwe pofadders wat te lui is om te verroer op sulke dae. Maar Lans se oë sien diep tussen die grasstingels in.
Hy loop vandag om die noordelike punt van die kop en klim aan die agterkant van die helling op. Die goeie reëns van ’n maand of wat gelede het die veld verander. Tussen die driedorings en lae struike staan fyn pers blommetjies en rooi veldrosies. Hy pluk ’n paar vir Frau Gisa wat hulle tussen boekblaaie sit.
Toe hy aanloop, skop sy velskoen iets uit die gras, iets wits. Dis ’n beentjie. Dit moet seker een van die rugwerwels van ’n skaap wees. Dis spierwit gebleik deur die son; net in die murgholte sit stoffies – hy blaas dit uit. “Dis ’n vliegtuigie!” dink hy meteens, terwyl hy dit in sy hand hou aan die skerp kielvormige middelbeentjie. Weerskante staan die lang smal vlerkies effens agtertoe en effens opwaarts, en aan die stertvlak sit twee ronde krulle. Hy verwonder hom daaraan dat dit so spierwit en so heel is. Miskien het ’n wildekat of ’n ander klein velddier dit van die geraamte af weggedra en hier laat lê, en het die wind dit toegewaai, en later weer oopgewaai. Hy steek dit in sy sak.
Hy is nou bo-op die tafelkop. Hy gaan sit op ’n plat klip wat tussen die graspolle uitsteek, en kyk af op die hotel ver onder hom, anderkant die treinspoor en die nasionale pad. In haar klein draadkampie sien hy die kameel teen die hekkie aan staan, roerloos met haar kop half agteroor op die lang krom nek, en die hoë boggel wat, so van die sykant gesien, ’n steil afdraand met die agterlyf vorm. Hiervandaan lyk sy so alleen en vasgekeer. Alles aan haar is gemaak vir die sandpad van die woestyn. Hy reken uit dat dit al oor ’n jaar is dat hy van die sendingskool af hiernatoe gekom het, waar hy Jesha versorg en ander werkies by die hotel doen. As hy gaan stap, bring hy altyd vir haar ’n lekkerny uit die veld, vars gras, of ’n veldpatat, of as hy kans kry om rivier toe te gaan, ’n handvol kameeldoringpeule, waarvoor sy lief is.
Ver agter die hotel lê die donker streep van die bosse langs die Visrivier, hier en daar onderbreek deur die wit stippel van ’n huisie. Die rivier het kort gelede nog kant en wal gelê. Hardap se sluise moes oopgetrek word, want die dam was klaar vol van die swaar reëns in Desember. Daar was nog nooit so ’n reënjaar waarvan hy weet nie; tog het die takriviertjies gou leeggeloop. Dabib se droë walle lyk soos stukke koek waarin die vloedwaters gebyt het. Weissfeld sê mens kan nou weer verskeie droë jare verwag.
Hier, waar hy so ver kan sien, gee hy toe aan ’n heimlike dagdroom: As hy groter is en meer verdien, gaan hy die kameel koop van die Weissfelds; dis tog duidelik dat hulle niks vir haar omgee nie. En die saal wat daar in die motorhuis hang, sal hy ook moet hê … As hy eers eenmaal vir Jesha het, sy eie kameel, sal hy al met die rivier op trek, eers met die grondpad aan die westekant langs tot agter die Hardapdam; dan met die reservaatpad langs die rivier op tot by die bo-ent van die reservaat waar die Visrivier vurk; dan vat hy die regterloop van die vurk en trek daarvandaan in die rivierbodem op, verby Kalkrand, tot by Rehoboth waar hy grootgeword het. Jesha sal die pakkasie dra, blikkieskos, droëvrugte, gerookte vis en komberse, en vir haarself ’n sakkie mielies. ’n Hele paar maande ná die reëntyd moet dit wees, dan is dit nie so warm nie, en hulle kan smiddae met die sandstrook onder die wal in die skaduwee van die bosse langs hou. In sy gedagtes skerm hy telkens weg van die vraag of die rivier orals so herbergsaam sal wees soos die stuk wat hy so goed ken – lappe papkuil en sandstroke en beboste oewers.
Waar hulle nie kan deur nie, moet hulle maar ’n ompad vat, en as haar pote seer word, moet hulle ’n ruk lank oorbly waar hulle is. Anderkant Rehoboth sal hulle weswaarts hou, en daarvandaan stadig trek in die rigting van die Kuiseb – dit sal seker maande en maande duur voordat hulle op ’n dag die onbekende rooi duine sien …
Sy pa het hom vertel van die rooi duine van die Namib, en hoe daar tog diere in daardie eensaamheid leef. En hoe hoog die bome groei in die sandlope van die Kuiseb. Daar sal vir haar skaduwee wees. Skaduwee en woestyn. ’n Kameel moet ’n woestyn hê. Sy pa het daar naby in een van die myntjies gewerk, aan die rand van die groot woestynpark, en het die woestyn toe ook leer ken. Nou werk hy in die hawe in Walvisbaai. Hy het sy pa die laaste keer gesien toe hy hom hier na die hotel toe gebring het, nadat eerwaarde Morgenrood vir hom die werk van kameeljongetjie gekry het.
Dié dag het sy pa vir Ma-Sêra gesê sy moet na hom omkyk. Dit was toe Ma-Sêra vertel het dat sy by Witmense grootgeword het, by ’n tante van Frau Weissfeld. Toe sê sy pa: “Dan is jy self goed grootgemaak. Jy moet maar ’n oog oor hom hou terwyl ek dit nie kan doen nie.”
Maar dis nie nodig dat sy ’n oog oor my hou nie, dink Lans. Ek kom baie goed alleen reg.
Van waar hy sit, kan hy die letters STEINHAUS op die hoteldak uitmaak. Daar roer niks daar onder waar die hotel soos ’n reusagtige H naby die teerpad lê nie. Die twee bene van die H wys na die pad toe. In die brug van die H aan die pad se kant is die kafee en eetkamer en die gaste se sitkamer. Op die voorpunt van die suidelike been van die H is die kroeg, met twee buitedeure. Die hele noordelike been van die H is gastekamers met hul badkamers: twee rye daarvan wat uit ’n gang lei. Die Weissfelds se woonvertrekke en die spens en kombuise is in die suidelike – en koelste – been van die H. Hul private sitkamer en Weissfeld se studeerkamer is aan die agterkant van die H-brug, wat op rotstuine uitkyk.
Die vierkantige openings weerskante deur die H gevorm, is klipstoepe, met diep verandas daaroor, maar agter, aan die westekant, is die bene van die H heelwat langer, en net ’n deeltjie van die ruimte word deur die groot klipstoep daar opgeneem – die res bestaan uit woestynrotstuine met ’n kokerboom reg in die middel. Daar is eintlik altyd koelte op die twee stoepe, want die voorste word beskut deur bome en die agterstoep deur ’n veranda en ook nog deur die lang gewels. Die agterstoep word net deur die Weissfelds en hul spesiale gaste gebruik; maar partymaal sit Gisa alleen daar, en partykeer sit Weissfeld alleen.
Jesha staan nog soos sy gestaan het. Die landskap daar onder het sag geword onder ’n skielike windjie wat oor die graspluime roer. Na die goeie reëns staan die gras feitlik orals. Die soet,