Slapende honde miaau nie. Elsabe Steenberg

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Slapende honde miaau nie - Elsabe Steenberg страница

Slapende honde miaau nie - Elsabe Steenberg

Скачать книгу

>

      Elsabe Steenberg

      Slapende honde miaau nie

      Tafelberg

      Die uitleg in hierdie digitale uitgawe van Slapende honde miaau nie mag verskil van dié van die gedrukte uitgawe, afhangende van die instellings op u leestoestel. Die uitleg vertoon optimaal indien die standaardinstelling op u leestoestel gebruik word.

      Vir Soekie

      Verbeel sy haar, of was daar ’n geluidjie naby die deur?

      Stadig laat sak Kotie haar bene oor die rand van die bed, trek haar lyf orent en staan met ’n gaap op. Sy loop kaalvoet deur toe, vee oor haar hare en luister noukeurig. Niks. Hoekom het sy dan gedink sy hoor iets?

      Nou toe, Koot-Poot, jy’s tog nie te versigtig om oop te maak nie? Yslike groot meisiekind, skrik terwyl dit helder middag is hier in die voorstad? Komaan, te hoender met jou mond wat skielik droog is: maak oop!

      Miskien is dit Jaco wat by die agterdeur ingesluip het. Sy’t waarskynlik vergeet om dit te sluit, en nou wag hy dat sy hier uit haar kamer kom sodat hy weer vir haar van hul huis kan vertel. Deesdae kom hulle mos weer goed klaar.

      Miskien is dit Ursula wat iets oor skoolwerk kom vra en suutjies loop ingeval Kotie slaap. Sy sal nou-nou die deur oopdraai, haar hare sal uit die ewige vlegsels losspring soos altyd, sy sal lag en haar kop ruk – alles net soos vroeër. Gewoon. ’n Bietjie vervelig.

      Nee: niks, niks is soos vroeër nie.

      Miskien het Werner ’n nuwe boek oor sterre gebring. Hy het eers met sy lang bene omgestap na die buitekamer waar sy … waar daar straks nog …

      Sy hardloop na haar lessenaar, gaan sit sommer skeef op die stoel, gryp ’n bolpen en begin harde strepe oor die eerste die beste boek trek.

      Hoor: daar is die effense geluid weer.

      Dit kan juffrou Schoeman wees wat haar kom aanjaag om te gaan oefen vir die meisies onder vyftien se 200 meter-naelloop; interhoër kom vinnig nader. Hol! Jy moet verlore geleenthede inhaal! Hou die Suid-Afrikaanse kampioenskappe in gedagte!

      Juffrou Schoeman het ’n mooi stem, en haar oë is groot en sag. Maar Woensdag het hulle geknetter, so boos was sy.

      Jy sal moet verskoning vra vir Woensdag se naelloop, Koot-Poot – jy stel nóú nog uit om dit te doen.

      Ag, dis seker Agnes wat terugkom omdat sy gedink het Kotie moenie so lank alleen by die huis wees nie. Ma en Pa het al twee gesê hulle kom eers laterig van hul werk af en die middag tik bitter stadig verby.

      Of is dit maar die ure dat Tama hier was, al die min-baie ure se dink en praat en vreeslik lééf wat vorm gekry het en in die gang oor die mat skuif?

      Nou is daar weer net hitte en Februarie om haar, en ’n groot stilte. Ongeduldig vee Kotie die hare uit haar oë, trek die boonste laai oop en haal die bladsy uit waarop sy verlede Dinsdag die rympie gekrap het:

      ’n kat wat rus kan nie tjank nie

      ’n hond wat slaap wil nie miaau nie

      maar ’n weggeekindjie miaau én tjank én

      kerm klein

      Twee keer lees sy dit stadig deur. Net toe sy haar kop op haar hande wil-wil laat sak, hoor sy nog ’n slag die gerasie by die deur en roep-vra: “Wie’s daar?”

      Haar stem was te flou. Harder wil sy weet: “Haai! Is jy ’n iemand of ’n iets?”

      Sondag 8 Februarie

      Sy en Jaco is al naby die park toe Werner hulle inhaal. Met sy kerkklere aan lyk hy nog langer en dunner as by die skool. Wolle begin dadelik blaf en stert swaai tegelyk, en Tjokka grom effens en kyk na Kotie vir ’n bevel. Verleë vryf sy die Sint Bernard se kop, maar besluit dan om haar kwaai te hou. “Lê, Tjokka!” Die hond plaps neer en lyk soos ’n Gomma-Gomma-poef. “Hallo, Werner.” Sy sluk. “Hoe’t jy geweet ek en Jaco is op pad park toe?”

      “Julle kom dan elke aand.” Dis al te donker om te sien hoe Werner sy kakebeen vorentoe stoot, maar Kotie weet hy is vies. Dit maak haar van voor af verleë. “Is jy nie al te groot om te kom wipplank ry nie?”

      “Ek kom saam met Jaco,” verdedig sy en skud die hare uit haar oë. “Sy ma kan nie nou saam met hom rondrits nie, sy gaan ’n baba hê – en buitendien pas ek hom altyd op as sy ma-hulle iewers heen gaan. Hy’s vir my soos ’n boetie.” Sy aarsel. “Hy wás.”

      “Wat bedoel jy?” Sy hoor Werner frons al kan sy dit nie sien nie.

      Eers toe Jaco vooruithardloop, antwoord sy. Die laaste weke wil Jaco skaars meer saans saam met haar park toe kom; hy draai net heeltyd om sy ma. Vir ’n kastige ousus is hy nie meer lus nie. “Hy’s jaloers op die baba wat kom.”

      Werner kom ’n bietjie nader. Dit laat haar bly voel, maar benoud ook.

      Jaco kom terug na hulle toe en kry Wolle eindelik sover om sy bek te hou. “Kotie hou self daarvan om in die park te wees, wê! En ons ry nie op die ou wipplank nie, ons swaai.”

      Klein hoender, om te sê! “As ek nie park toe kom nie, moet ek na oom Maurits se kleinhoewe ry om weg te kom van die alewige stad,” mompel sy. “Dit vat meer tyd, en ek kan nie in die aand daarheen ry nie.”

      “Daar’s ’n koei,” begin Jaco opgewonde vertel. “Kotie hou –”

      “Wil jy iets hê, Werner?” praat Kotie hom dood, want wie behalwe oom Maurits verstaan nou dat mens met ’n Frieskoei kan maats wees?

      “My pa het met iemand gepraat wat alles van die Suid-Afrikaanse kampioenskappe weet.” Werner klink vriendeliker. “Hy sê daar is net ’n naelloop vir dogters onder sestien. Maar jy sal kan deelneem, Kotie, al is jy veertien – jy hol dan vinniger as enige Matriek. Juffrou Schoeman sal jou laat gaan, daar’s nog ’n paar weke tyd en sy rig jou uitstekend af.”

      “Ek is nie só goed nie,” keer sy onseker.

      “Jy nael soos ’n bokkie, ja?” Hy loop weer verder van haar af. “Jou ma wil graag hê jy moet presteer in atletiek en juffrou Schoeman doen baie moeite. Jy ís goed, Kotie.”

      Sy is dankbaar dis donker, sodat Werner nie kan sien hoe verleë sy word nie. “Eintlik gee ek nie om wat my ma …”

      “Hoe kan dit wees?” Dit klink asof Werner rêrig wil weet. Sy antwoord nie. As Werner nie by haar is nie, droom sy oor hom en gesels in haar gedagtes, maar dis swaar as hy so naby is. “Sê my, Kotie.”

      Dis onmoontlik. Wat sy dink van Ma se valsheid – spoor háár aan net omdat sy self ’n atleet wou gewees het – is haar eie saak.

      Werner vra nie verder uit nie. “Mutti wil hê jy moet môremiddag by ons kom koffie drink.”

      “Hoekom?” Sy kan die vraag nie betyds keer nie.

      “My ma wil jou graag beter leer ken,” sê Werner.

      Kotie voel verbaas. “Ek … ek sal môre besluit,” stel sy uit. Mevrou Schultz is so ’n sagte, ronde mens – en Kotie het al gesien hoe druk sy Werner teen haar, sonder om eens skaam te wees. Miskien soen sy en meneer Schultz mekaar soms en is hulle baie kere saam, rêrig sáám. So hoort dit seker met ’n ma en ’n pa.

Скачать книгу