Die verevrou. Jan van Tonder

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die verevrou - Jan van Tonder страница 5

Автор:
Серия:
Издательство:
Die verevrou - Jan van Tonder

Скачать книгу

in sy arms op en hardloop vinniger as wat nodig is met haar hek toe, sodat sy skreeu van opwinding. Toe die volstruismannetjie by die hek aankom, is hulle al veilig buite die kamp. Die voël stap uitdagend en dreigend heen en weer langs die draad met swiepende swart-en-wit vlerke.

      “Sodra daardie voëls op die nes gaan sit, my engel, kan jy die dae begin aftel.”

      “Twee-en-veertig, nè, oom Moshe?”

      “Lyk my daar is niks wat jy nié weet nie. Jou ma vaar beter met jou leerdery as ’n skool vol onderwysers.”

      Sy wens hy kon altyd op Finisterre bly. “Vertel my van die Klein-Karoo, oom Moshe,” sê sy.

      “Ek hét mos al.”

      “Vertel nóg.”

      “Anderdag. Maar belowe my dat jy eendag soontoe sal gaan, dan kan jy self sien waar Les Plumes du Sahara se pluime vandaan kom, en die eier waarin jou Struzzo is. Én om …”

      “En wát, oom Moshe?”

      “Om te gaan kyk hoe die wêreld lyk waar ék gebore is en grootgeword het en eendag wil doodgaan en begrawe word. Sal jy so maak?”

      Sy sit haar arm om sy nek en druk haar kop teen syne. “Ek sal,” sê sy, “as jy belowe om nie dood te gaan nie.”

      Hy sit haar neer en sê: “Ek sal jou inwag daar.”

      Hulle stap hand aan hand terug huis se kant toe. Tante Alessa kom van voor af aan en vat haar ander hand, en sy en oom Moshe swaai haar tussen hulle. “Jy kan bly wees Charlotte het dié spulletjie nie aanskou nie, Moshe Habib,” sê sy.

      “Ek is.”

      “Hoekom bly jy nie nog ’n paar dae nie?”

      “Jy weet ek is op pad?”

      “Hoe dan anders, ek het flussies by Charlotte ingeloer – sy lê daar en staar na die uitspansel van haar hemelbed. Dink jy ek ken my suster nie?”

      “Iets het ongesê gebly, Alessandra. Ek het dit agterna vir haar in ’n brief probeer uitlê, maar ek kon nie woorde vind nie.”

      “Nou probeer jy wat dit ook al is in jou tas pak – is dit wys?”

      Liora druk haar hakke in die grond. “Nee!” sê sy. “Jy gaan altyd te gou weg, en dié keer verjaar ek, onthou?”

      “Ai, my engeltjie.”

      “Ek is nié jou engeltjie nie.”

      Hy tel haar op en druk haar styf teen hom aan, maar sy ruk haar los en gaan sit dikmond op die skoppelmaai. Sy hoop hy sal onthou dat hy besig was om iets te skryf, en dit eers klaarmaak. Dan word dit dalk te laat om Algiers toe te ry. Maman sal vir hom sê die donker gaan hom in die bergpas vang, en as hy nie oor ’n afgrond ry nie, sal struikrowers hom voorlê. Dis wat sy elke keer vir Papa sê wanneer hy die pad Korsika toe vat om te gaan kyk hoe dit op sy familie se boerdery daar gaan, soos nou die dag weer.

      Maar ’n ruk later kom oom Moshe koffer in die hand by die voordeur uit. Dit lyk vir Liora of sy hart seer is, maar sy weet al hardloop sy nou agter hom aan en slaan haar arms om sy bene en sê sy is jammer dat sy met hom ongeskik was, sal hy nog steeds in die lorrie klim en wegry.

      Sy bly sit. Kyk hom deur haar trane agterna. Hy waai vir haar. Sy vir hom. Die stofwolk agter hom word kleiner en kleiner, tot die stuk pad kaal tussen hulle lê, met net die plasse blinkigheid wat soos water lyk.

      Lank bly sy daar voor sy van die skoppelmaai afklim en na haar kamer toe gaan, en toe haal sy oom Moshe se papierbolletjie onder haar kopkussing uit.

      3

      1992, die Groot-Karoo

      Liora word wakker daarvan, ’n prikkeling meer priemend as die vroegoggendson wat deur die toerbus se venster skyn. Sy maak haar oë oop. Op die sitplek voor haar staan ’n dogtertjie ken op die rugleuning na haar en kyk.

      Die bus kom tot stilstand. Het sy gesnork, haar mond halfoop? Sy is uitgeput – eers die vlug van Parys na Johannesburg, en nou hierdie lang busrit onmiddellik daarna.

      By Charles de Gaulle het sy spesifiek gevra vir ’n sitplek in die middel van die vliegtuig, maar volgens die instapkaart is ’n venstersitplek aan haar toegewys. Om haar geboorteland weer te sien, selfs net die liggies van Algiers of Oran hoog uit die lug, was nie op haar agenda nie. Die blote wete dat daar ná dertig jaar wéér ’n revolusie aan’t uitbreek is, dié keer Moslem teen Moslem, het haar angstig gemaak. Sy het haar sitplek aangebied vir ’n vrou langs die gangetjie wat kort-kort verlangend verby haar deur die venster probeer kyk het.

      Toe hulle plekke ruil, het die vrou dadelik haar kamera uitgepluk. Liora het ’n botteltjie rooiwyn bestel, en nog een saam met haar kos. Daarna ’n uur lank gelees, toilet toe gegaan, tande geborsel en vergeefs probeer slaap. Die wyn het haar in die nanag opgejaag en sy het daarna uiteindelik ingesluimer.

      Eers met die aankondiging dat die vliegtuig daal vir die landing op Jan Smuts het sy wakker geword en verby die vrou in haar sitplek gekyk en Afrika ná al die jare weer gesien. Die vaal, uitgestrekte townships, met duisende huisies klein en téénmekaar en die son wat op sinkplaat bak; heel anders as die voorstede ’n ent daarvandaan. Ons en hulle, het sy gedink, net soos sy dit in koerante en op TV gesien het, nes dit destyds in Algerië was: Europeërs hier, Arabiere daar.

      Sy was angstig toe sy uit die vliegtuig klim, spyt dat sy nie reguit Kaap toe gevlieg het nie. Asof dit ’n verskil sou maak aan die benoudheid wat noodwendig gepaard sou gaan met haar eerste treë op hierdie kontinent sedert sy dertig jaar gelede, in 1962, na Parys moes vlug.

      Sy skuif agtertoe op die bussitplek en sit haar bril op. Die meisietjie kyk steeds tussen lang wimpers deur na haar.

      “Bonjour,” sê sy, eerder om af te skrik as om toenadering uit te lok.

      Die kind sink stadig agter die rugleuning weg.

      Medereisigers kom een-een orent, gaap, strek ledemate wat te lank in ongewone posisies gedwing was, en strompel met die trap af. Liora kyk na buite. Haar venster hier op die bus se boonste verdieping is gelyk met ’n naambord wat op hoë pale staan: Beaufort-Wes Pitstop. Die mense wat in die rigting van die restaurantjie en ruskamers beweeg, lyk onnatuurlik klein van waar sy sit.

      Sy verlaat die bus, handsak oor die skouer. Haar flinke pas stel haar in staat om ’n klompie mense verby te steek, en sy glip by die laaste vakante toilethokkie in. Daarna gaan was sy haar hande en gesig by ’n wasbak, wend bloedrooi lipstiffie aan.

      In die spieël sien sy die dogtertjie van die bus aan die hand van haar ma uit een van die hokkies kom. Weer is die kind se oë op haar. Die vrou sê iets – dit klink soos ’n vermaning – en die kind kyk weg.

      Die vrou kom staan langs haar. “Jy is Frans, nè?” verklaar sy op Engels.

      Liora antwoord nie.

      “Jy’t in jou slaap gepraat, dis hoe ek weet.”

      Tog net nie dit nie, dink Liora. “Wat het ek gesê?”

      Die

Скачать книгу