Ontdek God in die stories van mense. Benescke Janse van Rensburg

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ontdek God in die stories van mense - Benescke Janse van Rensburg страница 3

Ontdek God in die stories van mense - Benescke Janse van Rensburg

Скачать книгу

gesond gebore. Intussen het hy egter longinfeksie opgedoen en vir sy lewe geveg. Die dokter se boodskap was kort en kragtig: “As jul baba dit deur die nag maak, is daar hoop, maar die kanse lyk baie skraal.”

      “Here, red my kind!” Dit was Marjorie se fluisterstem wat opgeklink het waar sy magteloos met haar hand plat teen die ruit staan. As opgeleide suster het sy die gevaar van haar kind se toestand geken. Beskermend het Adolf sy arm om haar skouers gesit terwyl hulle na die hospitaalkamer terugstap. Marjorie moes gaan rus.

      In die kamer het die SMS’e van gemeentelede, vriende en familie ingestroom. Hulle wou laat weet dat hulle saam met die Bosmans vir klein Danie se lewe bid. Weens uitputting het Marjorie en Adolf albei aan die slaap geraak. Toe Marjorie oomblikke later wakker skrik, het sy dadelik aan Adolf geskud wat steeds langs haar bed gesit en slaap het.

      ’n Vreemde opgewondenheid het in Marjorie gebruis terwyl sy haar droom met Adolf gedeel het. In haar droom het sy van bo af op ’n donker klaskamer afgekyk. ’n Ligkol het op een van die skoolbanke in die klaskamer geval. Terwyl Marjorie nader aan die skoolbank gestap het, kon sy die klein seuntjie met die netjies gekamde hare en ’n brilletjie in sy groen skoolklere sien sit. Hy het kop onderstebo gesit en teken. Toe sy by hom kom, het hy glimlaggend opgekyk en gesê: “Hallo, Mamma! Kom kyk wat ek vir Mamma geteken het.” Op daardie oomblik het Marjorie wakker geskrik. Sy het geweet dat dit ’n boodskap van God was dat hul seuntjie sou oorleef.

      Langs die hospitaalbed het Marjorie en Adolf in trane begin om God te dank vir die droom wat Hy haar gegee het. Hulle was nog besig om te bid toe die dokter hulle na die noodeenheid ontbied. Daar gekom, het hy Marjorie en Adolf vertel dat klein Danie se toestand skielik drasties verbeter het en dat hy buite gevaar was.

      Vandag is dit 12 jaar later en Danie sit daagliks met sy netjies gekamde hare, brilletjie en donkergroen skoolklere in die skoolbank waarvan Marjorie gedroom het. Elke keer wanneer hy sy ma roep om na sy prentjies te kom kyk, onthou sy opnuut dat God werklik elkeen van ons se toekoms in sy hande hou!

      Psalm 139:14-17: “Dit weet ek seker: geen been van my was vir U verborge toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie, toe ek aanmekaargeweef is diep in die moederskoot. U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is. Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God, hoe magtig hulle almal!”

      God is ALWETEND. Hy het jou geken voordat jy gebore is en ook jou lewenspad vooruit beplan. Kan ek jou uitdaag om vandag sy pad te kies?

      Vader God, dankie dat U my toekoms ook vooruit beplan het. Lei my asseblief deur u Heilige Gees om U elke dag met my lewe trots te maak. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

      Kyk na ’n foto van Adolf en Marjorie by www.benescke.co.za

      week 2 . dag 4

      Teksverse en vrae

      Teksverse vir die week

      •Psalm 33:13: “Die Here kyk uit die hemel en sien al die mense. Van die plek waar Hy as koning sit, sien Hy almal wat onder op die aarde woon.”

      •Jesaja 31:21: “Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou ’n stem hoor sê: ‘Hier is die pad, loop hierlangs.’ ”

      •Psalm 139:1-6: “Here, U sien dwarsdeur my, U ken my. Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit, U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom. Of ek reis en of ek oorbly, U bepaal dit, U is met al my paaie goed bekend. Daar is nog nie ’n woord op my tong nie of U, Here, weet wat dit gaan wees. U omsluit my van alle kante, U neem my in besit. Dié wete oorweldig my, dit is te hoog vir my begrip.”

      •Psalm 139:14-17: “Dit weet ek seker: geen been van my was vir U verborge toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie, toe ek aanmekaargeweef is diep in die moederskoot. U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is. Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God, hoe magtig hulle almal!”

      Vrae om oor na te dink

      1.God is ALWETEND. Wat beteken dit vir jou (in jou huisgesin, jou werkplek en vir jou toekomsdrome)?

      2.Lees weer Psalm 139:1-6. Waarom dink jy is dit belangrik om soos Chevian gehoorsaam te wees as God jou vir iets spesifieks wil gebruik?

      3.Lees weer Psalm 139:14-17. Watter berusting gee hierdie teksvers jou?

      week 3 . dag 1

      Beskermer

      Nadat ’n brand ’n natuurreservaat in Amerika getref het, het ’n groep bioloë teen die berg uitgestap om die aanvanklike skade wat die vuur aangerig het, te bepaal.

      Tydens die staptog het een van die bioloë verbaas na ’n verkoolde voël met uitgestrekte vlerke aan die voet van een van die boomstompe gewys. Dit was veral vreemd omdat voëls gewoonlik tydens ’n brand dadelik wegvlieg. Toe die bioloog egter die voël met sy stapstok van die boomstomp afhaal, het nog ’n groter verrassing op hom gewag. Onder die dooie voël het drie springlewendige voëltjies gepiep.

      Die liefdevolle ma-voëltjie was duidelik bewus van die gevaar van die aankomende vuur. Sy het die kleintjies tot aan die voet van die boom verskuif, omdat die stygende rook hulle sou versmoor. Hoewel sy eerder na veiligheid kon vlieg, het sy gekies om haar kleintjies te beskerm. Toe die vuur al warmer word, het sy haar vlerke om die voëltjies gesprei. Sy het verkool sodat haar kleintjies onder haar vlerke kon bly leef.

      Net soos hierdie voëltjie haar kleintjies beskerm het, beskerm God ons ook daagliks. Luister na die woorde in Psalm 91:1-4 (1953-hersiening): “Hy wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit, sal vernag in die skaduwee van die Almagtige. Ek sal tot die HERE sê: My toevlug en my bergvesting, my God op wie ek vertrou. Hy sal jou dek met sy vlerke, en onder sy vleuels sal jy skuil.”

      God is ons BESKERMER – altyd en in elke situasie.

      week 3 . dag 2

      God is ons beskermer

      “Here …,” het die pastoorsvrou Glynis Grant gebid waar sy met ’n kussing oor haar kop skaars ’n meter van die inbreker se geweerloop gelê het. “Ek wil nie ’n skoot hoor nie. Ek wil nie pyn hê nie. Ek wil by my positiewe hier kan uitstap.”

      Sowat ’n uur tevore het Glynis in haar huis op Gouda wakker geskrik. Haar man en dogter was in Kaapstad en sy was alleen tuis. Toe Glynis regop in haar bed sit, het een van die inbrekers haar met ’n vuurwapen teen die kop gedwing om hulle te help om van die elektroniese toerusting uit die huis na haar motor te dra. Die inbrekers wou daarmee ontsnap. Lam van vrees het Glynis gehoorsaam terwyl sy telkens gewonder het of sy hierdie skriknag sou oorleef. Die Heilige Gees het haar egter aan Psalm 50:15 herinner: “Roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp, en jy moet My eer.”

      ’n Kalmte het oor Glynis neergedaal. Sy was só kalm dat sy selfs met die jong inbreker wat haar moes dophou, oor God kon gesels. Sy het hom herinner dat God groter planne vir sy lewe het en dat Satan bendegeweld gebruik om lewens te verwoes. Die inbreker het Glynis dopgehou en sag geantwoord: “Ja, Moeder, dit is waar.” Toe Glynis se motor vol van haar besittings gelaai was, het die leier van die twee inbrekers agter die stuurwiel ingespring en ’n opdrag aan die jonger inbreker gebulder: “Toe, finish it off .” Toe die jongste inbreker Glynis beveel om terug te gaan kamer toe, het ’n nuwe vrees haar beetgepak. Wat sou op haar wag? Verkragting? Haar dood?

      In die kamer

Скачать книгу