Die versoeking van Thomas Maas. Chris Karsten
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die versoeking van Thomas Maas - Chris Karsten страница 6
“Helen Joseph se ongevalle.”
“Is hy …”
“Gaan haal hom, Thomas. Hy’s oukei, ek het met hom gepraat.”
“Wat het gebeur?”
“Hy sê hy’t verdwaal.”
“Is hy beseer?”
“Hy sê in die donker kon hy nie sien nie, toe struikel en val hy. En hy’s moeg, ’n veiligheidswag het hom later eers gekry.”
“Maar wáár?”
“Gaan haal hom. Die vrae is vir later, bring eers my pa huis toe.”
Dit is nie ’n plek waar hý wil siek lê nie. Nie in enige hospitaal nie, maar veral nie hier nie. Oor hoe hierdie trauma-afdeling naweke lyk, kan hy net ril. Hy laat sweef sy blik oor die siekes en beseerdes en gewondes en draai na die vrou by die toonbank: “My skoonpa …”
“Meneer Geyer?” Sy beduie. “Hy was erg deurmekaar en moeg. Maar geen ernstige beserings nie. ’n Paar skrape en kneusings.”
Hy volg die vinger na die hoek van die wagkamer. Merk Rolf skuins agter ’n groot man met ’n verband om die kop en een oog, ou bloed aan sy hemp. Rolf sit met ’n slap nek, ken op die bors, ingedoke asof hy slaap.
“Is hy aangerand?”
“Nee, hy sê hy’t geval. Security het hom gebring. Hier’s ’n naam en nommer as jy hulle wil bel vir meer info.”
“Waar’t hulle hom gekry?”
“Cresta se parkeerterrein.”
Cresta-winkelkompleks? Hy het ten minste agt, tien kilo’s ver geloop. Hoe kon hy so verdwaal het?
“Was hy, jy weet …” Maar hy weet Rolf drink nie. Dalk ’n sjerrie af en toe in die winter, miskien twee. En ’n whisky, of twee, wanneer hy by Wollie gaan skaak speel.
Sy skud haar kop. “Ons het hom getoets, nugter soos moederowerste. Jy kan hom maar huis toe vat. Teken hier vir sy ontslag, en dis die traumadokter se voorskrif, net as hy pyn het.”
“Het hy iets gesê oor wat gebeur het?”
“Erg onsamehangend, sê die dokter.”
“Maar hy’t tog sy dogter se nommer gegee, sodat julle kon bel?”
“Dis op sy medical bracelet, haar naam en nommer.”
Hy staar na haar, draai om.
“Ek stuur ’n portier,” sê sy toe hy na Rolf wegstap.
’n Patetiese bondel. Hande op sy skoot oormekaar gevou. Bruin velvlekke, bultende blou are. Kneukels rooi en velaf geskuur. Wilde slaaphare. Waar’s sy ewige slappet? Vars pleisters teen ’n wangbeen en oogbank. Snytjie aan sy onderlip. Sy broek se knie vuil geskuur. En die bloed? Moet van die val wees. En hy sal ook ander kneusings en skrape en bloukolle hê. Maar hulle sou hom ondersoek en elke plek behandel het.
Hy vat Rolf aan die skouer. “Pa, kom. Kom ons gaan huis toe.”
Sy gesig skrik op. Sy bleek oë waterig, een asof soetskeel deur die splinterglas van ’n lens. Hy druk die bril op sy neus terug, moet sukkel om te fokus, tussen sy wenkbroue ’n diep frons. Arme man, hy is inderdaad verwar en steeds geskok.
Thomas help hom op. “Kan Pa staan?” Hy kan die ketting om die dik, harige pols onthou, maar het nie daarop ag geslaan nie. Nou merk hy die plaatjie, soos dié wat sommige chroniese siektelyers dra, met noodnommers en bloedgroep.
Die portier verskyn met ’n rolstoel en help Rolf om, steeds woordeloos, sy sit te kry. Hy stoot hom uit en help hom in die Opel in. Eers toe hy wegtrek, besef Thomas dat Rolf nog nie ’n enkele woord met hom gepraat het nie.
“Hoe voel Pa? Seer van die vallery, pootuit van die loop?”
Geen reaksie nie. Hy loer. Sy skoonpa se gesig is weggedraai, starend deur die syvenster die nag in.
“Pa?”
Die grom is skaars hoorbaar.
“Wat het gebeur?”
“Ek het verdwaal.”
“Pa het gou Checkers toe gestap. Mos net daar om die hoek. Toe kry hulle Pa by Cresta. Dis halftwaalf in die nag, Donna is dood van die kommer.”
Met sy blik voor hom in die straat voel hy eerder as sien hoe Rolf sy gesig van die venster na hom draai. Hulle oë ontmoet vlugtig in flertse ligrefleksies van verbygaande karre en lamppale.
In sy afgemete stem is ’n moegheid, maar tog ook ’n stelligheid: “Jy maak nie weer my dogter seer nie. Hoor jy my?”
“Pa, dis …” Hy los, en die halwe sin bons in die donker kar rond soos iets tasbaars tussen hulle. Dis so lank gelede, wou hy sê.
So, dan hét Donna dit tog met haar ouers bespreek.
Hulle ry in stilte huis toe.
“Pa,” sê Donna, “wat het gebeur?”
In hulle sitkamer met die koppie sterk, soet tee lyk dit of Rolf sy geestelike ewewig begin herwin, sommer aanvallend boonop. “Mos gesê ek’t verdwaal, finish en klaar. Het nie een van julle nog ooit ’n verkeerde afdraai gevat nie? En moenie op my afpraat nie, ek’s nie ’n kind nie. Wie gaan my huis toe vat? Thomas?”
“Dis middernag, Pa,” sê Donna. “Ek maak vir Pa hier op die sofa bed op.”
“Ek slaap in my eie bed.” Hy sluk die laaste tee en sit sy koppie neer, vee met die rugkant van ’n hand oor die druppels aan die stoppelken. “Thomas?” sê hy weer.
Rolf kreun met die onsekere opstaan, en Thomas tree nader en help hom op.
Donna kom sit haar arm om sy middel. “Ai tog, Pa.”
“Dis die dêm knie,” brom hy. “Maar ek’s nou reg, kort net ’n goeie slaap.”
“Het Pa nog ’n ou bril? As die kinders môre vroeg skool toe is, kom haal ek Pa om ’n nuwe lens te gaan kry,” sê Donna. Sy omhels hom. “En moenie weer sonder die sel winkels toe gaan nie. Nêrens heen nie.”
Thomas help hom buitentoe. Hy struikel ’n slag by die voordeur se trappe en sy hand en vingers sluit soos ’n klou om Thomas se voorarm. Rolf Geyer is nie besonder lank nie, maar hy is breed en sterk met ’n dik nek en skof, was inderdaad op sy dag ’n stut met groot belofte, tot sy eerste knieoperasie. Die einste knie wat hom vroeër hierdie aand ook weer in die steek gelaat het.
* * *
Die volgende oggend sê Thomas met die instap: “Môre, Annie, jy lyk besonder mooi en opgeruimd vanoggend. Hoe laat is die eerste een?” Dit is hoe hy haar groet, elke oggend. Hy geniet dit om pluimpies uit te deel, sy om hulle te ontvang. Wen-wen. Buitendien, haar goeie gene is duidelik te sien, al die jare nog, vandat sy as ooglike