Reënboogmelodie. Anzil Kulsen

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Reënboogmelodie - Anzil Kulsen страница 5

Автор:
Серия:
Издательство:
Reënboogmelodie - Anzil Kulsen

Скачать книгу

Anders kry ek hom nooit hier nie. Hy hoef mos nie so te lyk nie. En dit oor ’n meisiemens. Weet jy, darem.”

      Sy knik. Ja nee, sy weet.

      “Ek wou lankal al ’n ouma gewees het; my ou man het ook so uitgesien na kleingoed, maar ai, die Grant van my wil net nie dinge op die normale manier doen nie. Hy sal so goed wees met kleintjies, en die vroutjie wat hom nou so rondfoeter, sal self nie ’n slegte ma wees nie. Maar ai, ek weet tog nie.”

      Dianè glimlag ingedagte. Dis die eerste keer dat sy tannie Wiese so oor haar seun hoor praat. Die tannie is al diep in die sestigs, maar haar lewe wentel om haar sakebelange. Sy besit meer eiendom as enigiemand wat Dianè ken.

      “Ai, Tannie, ’n ma kan net bid. Dis maar ’n storie om die regte een te kry.”

      “Praat jy! Dis nie of daar ’n tekort aan aanbod is nie. Maar ek dink soms die seunskind van my het ’n dwarsklap weg, hy raak op die verkeerdes verlief. Ek hoor die vrou van hom is nou weer op pad … haar familie is haar alles en het haar mos nodiger as haar man.”

      Sy praat skielik ’n bietjie sagter. “Ek dink dis sy wat hom in so ’n hippie-bestaan laat beland het – loop kaalvoet en skilder en speel kitaar, en so. Kop-in-die-wolke soort mens, sing baie mooi. Of sy dié keer vir goed weg is, weet ek nie. Grant praat mos nie met my oor haar nie; ek moet mos by ander mense hoor. Maar ek is bekommerd. Kyk nou hoe het my Grant homself laat gaan. Lang, slordige hare en ongeskeerde baard en alles …”

      Dianè loer na waar Lara by die kombuisafskorting uitkom met die skinkbord waarop drie espressobekers netjies gerangskik is. Lara sal dalk oor hierdie seun van tannie Wiese opgewonde kan raak.

      “En Grant? Sing hy ook?” vra sy en knipoog vir Lara oor die tannie se kop.

      “Soos ’n engel, my kind. Hy kan ook elke denkbare instrument onder die son bespeel. So talentvol.”

      Lara maak nog steeds asof sy niks hoor nie, al Dianè se oogknippery ten spyt. Sy plaas die skinkbord op die tafeltjie voor die kliënte en wag dat hulle hulself help.

      “Hm, dankie Lara. Hoor jy? Tannie Wiese se seun kom sy hare by ons sny. En hy kan goed sing, iets wat julle twee in gemeen het.”

      Dianè glimlag toe sy die uitdrukking op Lara se gesig sien. Sy wonder wanneer laas het sy behoorlik gelag. Tannie Wiese en Lara is net wat sy vandag nodig het.

      “Ek hoor, maar ek stel nie in ’n ander man belang nie, dankie.”

      “Hm.” Dianè fokus weer op haar kliënt. Sy verstaan presies hoekom Lara so reageer. Die heel veiligste, flits dit deur haar kop.

      Robert

      Dis tyd om sy lewe uit te sorteer, dink Robert toe hy die deur van Jacques se woonstel agter hom sluit. Hy sou net een aand in Klerksdorp oorgeslaap en gister al Kaap toe vertrek het, maar nou kan hy die prokureur eers Donderdag sien. Die twee ledige dae het hy gebruik om op te vang met leeswerk; sy neef het ’n uitgebreide versameling boeke in sy boekrak, onder andere John Maxwell, Joel Osteen, Caroline Leaf, Eckhart Tolle …

      Eers wou hy sommer net vlugtig deur die boeke blaai, maar dit het hom gou tot diepe selfondersoek gedwing. Na hierdie twee dae glo hy hy kan die allesverterende drange wat hom so bedwelm, die hoof bied.

      Hy skud sy kop. Dit het ook sy gedagtes laat dwaal na die verlede, na waar alles begin het. Hy verlang deesdae so innig na sy ma.

      Natuurlike oorsake. Dis wat op sy ma se doodsertifikaat staan. ’n Onvoorsiene komplikasie wat ingetree het na haar histerektomie, die ginekoloog se brouwerk netjies toegesmeer met ingewikkelde mediese jargon.

      Sy ma was op die kruin van haar lewe, en menopouse net ’n lastigheid, het sy hom laggend vertel die oggend voordat sy teater toe sou gaan. Na die operasie sou sy weer soos ’n splinternuwe V8-enjin deur die lewe jaag, het sy gespot. Hy vee weer ’n lastige traan van sy wang af, sit die Fortuner oor in vierde rat en tel spoed op. Sy pa het nie lank gewag na sy ma se begrafnis voordat hy met die jong Kim kansel toe is nie. Kim kon sy sussie gewees het; sy is maar so drie jaar ouer as hy.

      Robert frons toe hy aan sy pa dink. Aan hoe hy nie eens sy troue met Kim probeer regverdig het nie. Sy vroom predikantpa het toe self al oor die draad geloer, en ’n predikant kan mos nie sonder ’n pastoriemoeder wees nie. Ga!

      God haat egskeiding, het sy pa dit by hom ingedril toe hy oor Dianè en hul troue begin praat het.

      Na sy ma se dood het die gaping tussen hom en sy pa al hoe groter geword; hy het bitter weinig pastorie toe gegaan en was glad nie eens by die troue nie. Maar toe hy Dianè ontmoet, wou hy alles regmaak, sy hele lewe. Hy het gedink sy sal dalk die breuk tussen hom en sy pa kan herstel.

      Hy kon dadelik sien sy pa het nie juis ooghare vir Dianè nie, en hy was heeltemal gekant teen sy oorhaastige trouplanne. Sy pa hou van gedienstige vroue, maar Dianè was die spreekwoordelike dinamiet in ’n klein pakkie.

      Dalk het dit hom juis aangevuur om so vinnig met haar te trou. Dianè het hom en die idee van ’n goeie vrou wat sy pa by hom ingeprent het, uitgedaag. En dan was daar die feit dat hy sy eie potjie wou krap. Dit was sy kans om alles te herstel wat stukkend was in sy lewe. Hy en Dianè teen die wêreld.

      Hoe graag het sy pa nie oor die huwelik gepreek in die paar weke voor sy troue met Dianè nie! Maar hier sit hy nou en planne maak om van sy vrou te skei. Robert McClean gaan van sy vrou skei, daar’s nie ’n ander uitweg nie. Dit sal die liewe Vader daar bo sekerlik verstaan. Sy geheime lewe is besig om sy tol te eis. Sy vrou en seuns is beter af sonder die bedreiging wat hy en sy onderduimse bedrywighede vir hulle inhou.

      God haat egskeiding. Hy wonder soms of sy ma nie dikwels met God hieroor baklei het nie. Sou sy ma van sy pa geskei het as sy ’n ander heenkome gehad het? Of was dit haar uitkoms toe sy kort na haar operasie sterf? Hy het nooit sy pa sy hand sien lig vir sy vrou nie, anders as hy, maar tog weet hy hoe sy pa haar kon verkleineer met sy woorde. Soms selfs aanhalings uit die Bybel gebruik om haar so klein soos ’n mier te laat voel.

      Die dinge wat hy van sy pa haat, is die dinge wat hy aan Dianè doen. Sy is deesdae so mooi en sterk, en hy is diep in sy binneste selfs ’n bietjie trots op hoe mooi sy herstel het. Deesdae is sy oorheersende gevoel teenoor haar egter dié van jaloesie. Soms verlang hy na die dae toe sy nog haar hare langer gedra het en dit in ’n poniestert kon vasvang – die ongekompliseerdheid wat dit verteenwoordig het.

      Saam met haar nuwe voorkoms het Dianè ontpop in die perfekte sakevrou. En hy? Sy geldsake, danksy sy eie toedoen, begin al hoe meer beroerd lyk.

      Die afgelope week en ’n half het hy weer soos ’n besetene begin oefen, gehoop dit sal hom help om koers te hou. Noudat ’n sekere vrou daarbuite die lewe vir hom moeilik maak, weet hy hy sal moet verander. Hy het in dié tyd meer as een keer tot Dianè toenadering gesoek. Hy weet hoe Johan haar uitput, die Vader weet, hy verstaan.

      Maar hy is ’n man. Hoe kon sy hom so verwerp? As sy maar net weet!

      Hy sug toe hy Johan se gesiggie voor sy geestesoog sien. Johan, wat bitter weinig emosie toon, se gesig het ’n duisend beskuldigings na hom uitgestraal. Hy het Johan ’n kant van hom gewys wat hy vir homself wou wegsteek. Ai, Dianè, hoe het ons hier beland?

      As hy heeltemal eerlik moet wees, het hy soms verwag dat sy ’n terugslag sou hê. Net een keer weer haar vinger in haar keel sal steek. Maar die kans daarvoor het al hoe skraler geraak nadat die tandarts haar tande splinternuut en wit

Скачать книгу