Ena Murray Omnibus 22. Ena Murray
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Ena Murray Omnibus 22 - Ena Murray страница 28
Sy is meteens bleek en ontsteld. “Ek weet nie, Jaco. Ek … weet nie!”
Hy sit terug, sy gesig baie stil. “Wanneer is julle geskei?”
Daar volg ’n lang stilte op sy vraag. Dan kom haar antwoord: “Ons is nie geskei nie.”
’n Ervare joernalis leer met verloop van jare hoe om sy gevoelens weg te steek. Maar hy is onverhoeds betrap. “Nie geskei nie?” vra hy skerp.
“Nee. Ek het toe nooit na daardie prokureur gegaan nie. Dit het net … agterweë gebly.” Haar oë sak voor die uitdrukking in syne en dan kyk sy moedig op, die trane blink in haar oë. “Goed, Jaco. Laat ek maar erken: ek kon nie. Ek kon dit nog nooit regkry om die band finaal tussen ons te verbreek nie. Flip het van sy kant af ook nooit iets gedoen nie. Ek weet nie hoekom nie. Miskien is dit maar net dat hy nie omgee nie.”
“Of nog net soveel omgee soos wat jý omgee.” Hul oë ontmoet. “Dit help nie om van die waarheid weg te skram nie, Salome.”
Sy is eers stil. Dan antwoord sy eerlik: “Ek weet nie wat om jou daarop te antwoord nie, my vriend. Dis nou veertien jaar sedert die dag dat ek die woonstel leeg gevind het. Veertien jaar is ’n lang tyd, Jaco.”
“Ja, dit is, maar noudat ek jou ken … vir ’n vrou soos jy, Salome, is dit nie te lank nie.”
“Te lank waarvoor, Jaco?”
“Om nog steeds te bemin nie.” Hy staan op, stap om die tafeltjie, help haar op en sy hande klem om haar skouerknoppe. Dan staan hy terug, neem haar arm en glimlag in haar bekommerde oë af. “Kom, kom ons gaan huis toe.”
Toe hulle voor die huis stilhou, nooi sy hom binne vir koffie.
“Dankie, maar nie vanaand nie. Ek het nog die een en ander om te doen. Ek moet ook nog inpak.”
Sy kyk verbaas na hom. “Inpak? Gaan jy dan weg? Jy het niks gesê nie.”
“Nee, ek … was nie seker nie. Maar ek vertrek môre.”
Sy lag na hom op, maar haar oë is ondersoekend. Sy waardeer hierdie man se vriendskap en sy wil dit nie graag verloor nie. “Jy klink baie geheimsinnig! Mag ek weet waarheen jy gaan?”
“Nee. Dis ’n … sending.”
“O.” Sy dring nie verder aan nie. “Sal jy lank weg wees?”
“Ek weet glad nie. Dit hang van baie dinge af.” Hy kyk op haar af, sy hande op haar skouers. “Kyk mooi na jouself.”
“Ek sal. En jy ook. Ek sal jou mis, Jaco.”
Hy glimlag effens wrang. “Ek is bly om dit te hoor. Dan beteken ek darem tog iets vir jou?”
Sy kyk fronsend na hom op. Jaco is vanaand so anders. “Maar natuurlik! Ek waardeer jou vriendskap baie. Jy weet dit tog.”
“Ja, ek weet. Ek weet presies.” Hy sug effens en sy voel hoe sy greep verstewig, hoe hy haar saggies nader trek. “Mag ek jou tot siens soen, Salome?” Sy lig haar lippe dadelik na syne op en hy soen haar lank en innig, sodat sy hom weer verbaas aankyk toe hy haar eindelik laat gaan.
“Jaco …?”
“Ons praat later weer. Tot siens, jou wonderlike vrou.”
Die volgende dag, terwyl die kilometers die een na die ander onder sy motor se wiele deurrol, vertel hy homself dat hy gek is. Tog draai hy nie om nie.
Vir die tweede keer in sy lewe het liefde aan sy hart kom klop en hierdie keer, weet hy, is dit veel kosbaarder as daardie eerste jeugliefde wat hy geken het. Hy is nou ’n volwasse man van veertig. Dit gaan nou soveel dieper. Hy besef dat Salome iets besonders is; ’n vrou wat jy nie elke dag teëkom nie. Die man wat vir Salome kry, hoef geen ander skat op aarde te soek nie.
Hul vriendskap het so mooi gevorder. Hy weet hy is die enigste man sedert Flip Grimbeeck wat Salome toegelaat het om nader te kom. Hy weet ook dat hy haar met die tyd geheel en al sal wen. Hy het van die begin af geweet dat hy geduldig sou moet wees, dat hy hom stelselmatig in haar hart sou ingrawe tot sy op ’n dag sou ontdek dat gister werklik verby is en dat daar ’n tweede liefde in haar lewe gekom het. En hy was vinnig op pad om sy doel te bereik.
Wat maak jy dan nou hier, op pad na die Karoo, om na ’n man te gaan soek wat haar nooit werd was nie? vra hy homself af. Watter gek is jy om ’n vrou soos Salome deur jou vingers te laat glip!
Tog, hy is ’n volwasse man met verstand. Hy is nie bereid om die vrou van sy hart te deel met ’n spook uit die verlede nie. En dit sal Flip Grimbeeck bly, het hy gisteraand besef. Salome het nog nooit finaal van Flip Grimbeeck afstand gedoen nie. Of miskien is dit dat sy in dié opsig ook maar net in ’n groef verval het. Maar dan moet hy haar daaruit ruk voordat hulle daaraan kan dink om die toekoms saam in te stap. Dinge tussen haar en haar man moet nou gefinaliseer word.
Maar veronderstel hierdie sending van jou verloop anders as wat jy dit beplan? vra hy homself af. Veronderstel die afloop is nie in jou guns nie, maar in dié van die skilder? Dan het jy haar mos op ’n skinkbord aan die ander man gaan oorhandig – ’n man wat sy kans gehad en dit verbrou het. Veronderstel jy vind dat jý die een is wat alleen agterbly?
Jy kan nog omdraai, vertel sy hart hom. Sy weet nie waarheen jy vandag op pad is en wat jou sending behels nie. Jy kan teruggaan en haar vir jouself wen. Jy het dit reeds halfpad gedoen.
Maar sy verstand tree tussenbeide. Nie met ’n vrou soos Salome nie. Sy is ’n vrou wat geen halwe maat ken nie. Wanneer sy ly, doen sy dit in volle maat. Waar sy sukses behaal, is dit net die hoogste sukses. Ook as sy offer, is dit ’n volkome offer wat sy bring. Toe sy haar skuld betaal, kies sy nie die maklike weg en skryf ’n tjek uit nie. Sy betaal haar skuld met eie bloed. Daarom, wanneer Salome bemin, is dit ook met haar hele wese. So wil hy ook haar liefde hê: Alles – of niks.
Daarom draai hy nie die motor om nie, maar kom skemeraand voor ’n plaashuis tot stilstand. Hy skakel die motor af.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.