Roep van die woestynwind. Malene Breytenbach
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Roep van die woestynwind - Malene Breytenbach страница 7
“Ons het vanoggend ’n heel pot gevind, tot Mamdi Al-Haloul se vreugde. Wel, dit was eintlik sý vonds. Gewoonlik kry ons net skerwe. Ons is van plan om ons deel van die Tempel af te sluit, en volgende week gaan ons ons nuwe kamp in Wadi Siyagh opslaan. Julle kom saam met ons na die nuwe kamp.”
Hy hap ’n mond vol kos, sluk en kyk na Denise. “Jy kan later wéér terugkom na Petra en kyk wat ons hier doen. Ek sal jou intussen laat weet hoe ons vorder.”
Nooi hy haar sowaar om weer na Petra te kom? dink sy verbaas. Dis omtrent ’n ommekeer in sy houding.
“Ná ete wil ek en Denise die berg opklim om El Deir, die sogenaamde klooster, te gaan sien,” sê Julie.
Dale skud sy kop. “Nee, dis gans te warm so vroeg in die middag. Kom ek neem julle na die Moevenpick Hotel in Wadi Musa, wat ’n lekker swembad het. Daar kan ons bier drink en afkoel. Miskien kan ons almal later teen die berg opgaan en na die klooster gaan kyk.”
“Met bier in ons lyf?” vra Julie ongelowig.
Dale lag. “Ons sal dit baie gou uitsweet, glo my.”
“Swem klink vir my lekker,” meen Denise.
“En bier vir my,” lag Arend.
By die hotel aangekom, met hulle swemklere in sakke, verstom Denise haar vir die vyfster-opulensie. Die swembad waarnaas hulle op sonbeddens gaan lê, is enorm. Sy gaan sit op die sonbed langs Dale s’n en probeer om nie na sy gespierde, lenige lyf te kyk nie.
Hy kyk egter openlik na haar toe sy die sarong om haar lyf afhaal en in haar bikini daar staan. Sy probeer haar selfbewustheid wegsteek en gaan duik dadelik in die helderskoon water.
Julie is fris tot vet, maar sonder enige selfbewustheid loop sy met haar eenstuk-baaibroek na die swembad en duik ook in die water.
Denise skrik toe iemand haar aan die enkel beetkry en trek. Dale kom proesend langs haar na die oppervlak.
“Lekker, nè? Ná jou oggend se geloop. Julie is nie een wat wandel nie, sy lóóp met mening.”
“Heerlik.”
Denise vee die nat hare uit haar gesig en kyk na hom deur wimpers wat gekoek is van die water. Hy is so naby dat hy amper aan haar raak. Haar ongemak maak dat sy wegswem, na die kant toe, en uitklim.
Hy volg haar. Sy kyk af na waar hy aan die kant vashou en vir haar grinnik, asof hy weet sy vlug vir hom. Sy draai om en loop na die sonbed, waar sy haar met die hotel se geel handdoek afdroog en haar donkerbril opsit, sodat sy die weerloosheid in haar oë kan wegsteek.
’n Hele paar mense wat in Petra met die opgrawings help, is ook daar. Dale gesels hier en daar, voordat hy terugkeer na waar Denise in die son lê en bak.
“Kan ek vir jou sonbrandroom aansmeer?” vra hy.
Sy huiwer. Om sy hande oor haar te voel streel, sal haar ongemak net vererger, maar hy het reeds die buisie in sy hand en druk die sonbrandroom op sy handpalm uit. Sy draai op haar maag en laat hom begaan, maar sy is bewus van elke beweging, elke aanraking van sy sterk hande oor haar rug, haar bene.
Dis onmoontlik om niks vir hom te voel nie, dink sy moedeloos. Sy het net na Jordanië gekom om haar kalmte totaal versteur te kry. Om die hoop weer te laat opvlam dat daar tóg iets tussen hulle kan wees.
“Dankie,” prewel sy toe hy regop kom en die buisie toeskroef. Sy maak haar oë toe.
“Hoe gaan dit deesdae met jou?” klink sy warm, besorgde stem langs haar op en sy voel dat hy baie naby aan haar sit.
Sy maak haar oë oop en sê kastig lui: “Goed, dankie. Ek beplan ’n besoek aan Palmyra tydens die volgende semester.”
“Dis goed. Wat is deesdae nuus by die universiteit?”
Sy gesels oor haar skouer oor die universiteit en wat in die departement aangaan. Hy sit haar en dophou, vooroor geleun, sy blik stip op haar.
“Bier!” verbreek iemand die intimiteit. Arend kom nader, saam met ’n kelner wat vier biere op ’n skinkbord dra.
Denise kom orent en haar been skuur per ongeluk teen Dale s’n. Dis of ’n skok deur haar trek en sy beweeg haastig eenkant toe.
Julie het uit die water gekom en sy staan druppend voor hulle. “Ek is mos heeltyd dors,” sê sy en neem een van die biere. “Hierdie sal soos nektar van die gode afgaan. Cheers!”
Dale bly sit langs Denise. Sy hou haar bene uit sy pad en luister na Arend se opgewonde gebabbel. Dis sy eerste besoek aan die Midde-Ooste en hy verwonder hom skynbaar aan alles.
Julie haal haar polshorlosie uit haar sak. “Dis nou halfdrie. Kan ons so teen drie-uur teruggaan, asseblief? Dit sal ons genoeg daglig gee om die berg te klim.”
“Ons kan net ná hierdie bier gaan,” belowe Dale.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.