In jou hande. Malene Breytenbach
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу In jou hande - Malene Breytenbach страница 5
Michelle is geensins gerusgestel nie. Sy het genoeg mediese kennis om te weet daar kan verskeie dinge verkeerd gaan ná trauma. Sy het al self met ongelukslagoffers gewerk. Haar oë raak blind van trane. Sy lig haar linkerhand op en laat dit weer val. Dis alles háár skuld, weet sy. Sy het bestuur.
“Dit was nie nodig om dit so brutaal vir haar te vertel nie, Nicci,” hoor sy haar ma verwyt.
“Sy moes dit tog een of ander tyd uitvind,” verweer Nicci. “Sy dring dan aan om te weet. Ek dink sy vermoed in elk geval lankal iets. Stem jy saam, Jak?”
“Ja, jy is seker reg,” knik hy.
Hy neem Michelle se linkerhand asof hy haar wil troos, maar sy is so ontsteld dat sy dit terugtrek.
“Jy het haar nou laat huil, Nicci,” verwyt haar ma, en probeer om Michelle se trane af te vee.
“Wat gaan hier aan?” Suster Erna Etsebeth kom in.
“Michelle het geskrik,” sê Zenda de Villiers hees. “Sy het pas gehoor dat haar vriendin wat saam met haar in die ongeluk was dalk breinskade opgedoen het.”
“Wat? Het julle haar tog nie dit vertel terwyl sy in dié toestand is nie?” roep die suster geskok uit.
“Sy moes tog een of ander tyd –” begin Nicci.
“Hierdie meisie kan nie nóg skokke hanteer nie. Ek sal die dokter in kennis stel. Ons sal haar ’n kalmeermiddel moet toedien.” Sy klink woedend. “Ek dink dit sal beter wees as julle eers gaan.”
Michelle is so ontredder dat sy voel asof sy innerlik aan die bewe gegaan het. Sy kan net kreun. Die suster droog haar trane af.
Sy hoor mense inkom, maar haar gedagtes is in ’n pynlike warboel. Vir die hoeveelste keer voel sy die prik van ’n naald in haar arm en sy swymel die genadige duisternis in.
Michelle skrik weer eens wakker uit ’n paniekdroom. Iemand is by haar. Sy fokus met moeite en sien dokter Douw Hefer langs haar bed staan. Op sy gesig is ’n frons asof hy haar gemoedstoestand aanvoel.
Sy onthou die verskriklike nuus wat sy verneem het en kreun skaars hoorbaar.
“Ek hoor hulle het jou vertel van jou vriendin, ounooi, en toe is jy baie ontsteld,” sê hy simpatiek.
Sy knip so woes dat hy die boekie en pen in haar hand sit.
My skuld, skryf sy, maar hy skud sy kop.
Vragmotor ons gestamp, skryf sy. Ek bestuur.
Hy lees dit en kyk na haar. “Dan is dit mos nie sonder meer jou skuld nie. Jy was nugter en dit het gebeur in ’n bergpas waar die pad smal is. Boonop was dit nag.”
Sy oë is regtig vol medelye en sy voel trane in haar opstu, uit die diepte van haar gekweste hart.
“Ongelukke gebeur, ounooi, en ons is slagoffers.”
Sy breindood? skryf sy en kyk smekend na hom.
Hy sug. “Nee, dis nie so erg nie, hoor.”
Verduidelik, skryf sy en kyk hom met gespanne afwagting aan.
Douw Hefer huiwer. Hy weet alles van die pyn van verlies, die skuldgevoelens wat aan jou vreet, en hy gun dit nie vir dié meisie wat hom met troebel donker oë aankyk nie. Sy sou mooi gewees het as sy nie so beseer en vol swelsels was nie. Hier lê sy, vasgemaak en toegedraai, en boonop geestelik gekwel. Sy gaan ’n vreeslike foltering deur, soos hy destyds self deurgegaan het.
Hy het lanklaas soveel empatie met ’n pasiënt gehad, veral omdat hy weet dat haar hele toekomstige loopbaan as arbeidsterapeut afhang van hoe goed hy sý werk doen. Sy is bykans totaal in sy hande.
“Nou goed, ounooi,” sê hy. “Met jou mediese kennis behoort jy alles te kan verstaan. Jou vriendin is nie breindood nie. Hoe weet ons dit? Eerstens het die EEG getoon dat daar elektro-aktiwiteit in die pasiënt se brein is. Tweedens het ons ’n radio-aktiewe isotoop in haar bloedstroom gespuit om bloedvloei na die brein te bepaal. Daar ís bloedvloei na haar brein.”
Michelle kreun en hy plaas ’n warm hand vertroostend oor hare, maar hy neem dit vinnig weg, asof hy hom bedink.
“Soos jy weet, is ’n pasiënt dood of lewend, nie amper dood of amper lewend nie. As iemand breindood is, beskik die mediese wetenskap deesdae oor die vermoë om die organe en liggaamsfunksies aan die gang te hou hoewel die brein nie meer lewensvatbaar is nie. Ons weet egter dat die persoon nooit weer gaan terugkom nie. Jou vriendin het geweldige trauma gehad en sy het nog nie haar bewussyn herwin nie, maar breindood is sy beslis nie.”
Michelle skryf: Breinskade?
“Wag, laat ek vir jou dinge duidelik maak, al is ek nie ’n neuroloog nie. Sandra van Heerden se dokter is Peet Human, en hy is ’n uitstekende neuroloog. Koma weens koptrauma beteken dat daar bilaterale skade aan die retikulêre formasie van die middelbrein is – dié deel wat slaap reguleer. Die uitkomste wissel van herstel tot dood. Komas duur van dae tot weke tot jare. Dis selde langer as vyf weke. Sommige mense is ongelukkig daarna vegetatief – hulle word wat ons in leketaal noem ‘vegetables’. ’n Diep koma beteken nie dat die persoon nie kan regkom nie. Jy moet dus nie sommer aanvaar dat jou vriendin nou ’n vegetable gaan wees nie.”
Ek wil haar sien, skryf Michelle.
Die dokter kyk haar met medelye aan. “Later sal ons jou na haar kan neem, nog nie nou nie. Ons kan jou nie sommer beweeg nie. Jy is veel erger beseer as wat jy besef.”
Die vriendelike suster Erna kom in, saam met twee verpleegsters.
“Hallo, dokter, hallo, Michelle. Ons kom jou kossies gee, al is dit net vloeistof wat jy deur ’n strooitjie gaan drink. Is dokter nog besig?”
“Nee, ek is klaar, suster. Gaan julle maar voort.” Hy groet en loop uit.
Michelle se blik volg hom. Hy is so groot, met breë skouers, maar dis nodig, dink sy, want hy dra soveel mense se hartseer daarop. Nou het hy hare bygekry. Hoe simpatiek was hy nie. Hoe medemenslik.
Die verpleegsters begin met hulle werk.
“Ek is nou dertig, maar ek het ’n suster wat so oud is soos jy,” gesels die suster. “Agt-en-twintig. Haar naam is Jean en ek is baie lief vir haar. Sy het haar eerste baba verloor en ek bekommer my altyd oor haar, want sy is nie sterk nie. Ek sou nooit aan haar kon doen wat jou suster aan jou gedoen het nie. Asof jy nie swaar genoeg kry nie, gaan maak sy jou las nog swaarder. Ek weet dis sy wat jou vertel het van Sandra. Sy kon jou maar vir eers die nuus gespaar het. Ag, ek skinder, maar ek was so kwaad vir haar.”
Michelle wens sy kan vir haar glimlag, maar sy skryf op haar boekie: Dankie vir als.
“Ons doen ons beste,” glimlag die suster.
Michelle het nog nooit in haar lewe so totaal hulpeloos gevoel nie. Die verpleegsters lig haar versigtig, trek die bed skoon oor, was haar en ruil verbande. Sy kan net na hulle kyk terwyl hulle dit doen en saggies met haar praat.
Sy is gedoem om aanmekaar te dink en te wroeg sonder verligting. Nie eens die slaap bring verligting nie. Haar kop voel skoon deurmekaar. Van al haar emosies is hartseer