Vlinder teen die ruit. Ettie Bierman
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Vlinder teen die ruit - Ettie Bierman страница 7
“Dan kan hy vir hom ’n ander meisie soek, want dit beteken hy het ’n aandagprobleem.”
“Hokaai!” keer Hendro. “Jy’s te kras. Mans is nie almal sleg nie; party het besondere deugde.”
“Ja, as jy ’n klavier wil skuif of ’n olifant wil parkeer. Andersins veroorsaak hulle net ergernis en hoë bloeddruk.”
Hendro vryf haar kuif deurmekaar. “Daarso! Nou lyk jy net soos die kapokhaantjie wat jy naboots.”
Suri draai verleë weg.
“Wat was sy naam?” vra hy sag.
Sy is dadelik op haar hoede. “Wie?”
“Die man wat jou gedrop het – wat gemaak het dat jou vriende meesal net in kletskamers woon; wat maak dat jy ’n held in ’n boek verkies bo ’n kêrel van vlees en bloed.”
Suri spring op. “Dis al laat. Ek wil gaan kyk dat Maja haar nie oopgeskop het nie, en dan moet ek in die bed kom. Ons moet môreoggend vroeg ry.”
“En maak dat jy altyd verskonings uitdink om weg te hardloop?” dring Hendro aan.
“Weghardloop? Hoor wie praat!”
“Ek het opgehou hardloop, miskien moet jy dieselfde doen … Wil jy uitpak, sussie? My skouers is breed, en ek kén hartseer.”
Sy skud haar kop en loop deur toe. Net voor sy uitstap, druk sy haar hand teen die kosyn en bly staan sonder om om te kyk. “Carl. Sy naam was Carl. Maar ek wil nie oor hom praat nie. Oukei?”
Hendro knik. Maar dis glad nie oukei nie, dink hy. Sy het nie ’n ma nie, en hy en Irene was so behep met hul eie dinge dat hulle Suri verwaarloos het. Dis tyd dat iemand na haar omsien. Tyd dat hy ouboet speel.
Hy sluit die deure en skakel die ligte af. ’n Ruk lank staar hy weemoedig na die skemerdonker kombuis, na die netjiese rakke en die ry vadoeke teen die muur wat klaar anders lyk as toe Irene nog hier was. Hy vryf oor sy gesig en sluk swaar, voor hy omdraai om lakens te gaan soek. Hy het nie ’n benul waar Irene dit gebêre het nie.
4
In hulle haas om die oggend vroeg te ry, het Hendro vergeet om sy horlosie aan te sit. Die middag probeer hy vergoed vir die halfuur wat Suri op die trap voor haar klaskamer gesit en wag het deur haar boeketas teen die steil houttrap op te dra na haar slaapkamer.
“Hierdie trappe is nekbrekers!” kla hy. “Soos ’n martelgang uit die Middeleeue! Is jy nie bang jy val nie? Hoekom werk jy nie eerder onder in die eethoekie nie?”
“Maja slaap bo en as ek onder is, sal ek nie hoor as sy huil nie. Ek is die klim gewoond, en dit gee ’n mens mooi kuite.”
“Jou kuite is mooi genoeg. Ek het nie besef die plek is so beknop nie. Jy sal nie met ’n stootwaentjie hier kan op en af nie.”
“Nee.”
“Hoe kom jy oor die weg?”
“Ek dra haar, Maja is so lig soos ’n veertjie.” Suri klouter boontoe. “Hallo? Jammer ek’s laat! Nessa, waar’s jy?”
“Hierso, Soetjie, in die badkamer! Besig om fyngoedjies uit te spoel.”
Suri loop verby slaapkamer toe. “En waar’s my liefie?” Sy buk oor die wiegie wat langs haar bed staan en tel die baba op, soen haar en koester die warm lyfie styf teen haar. “Was jy vandag ’n soet engeltjie?”
Die twee pienk voetjies skop plesierig en die handjies gryp na die halssnoer om Suri se nek.
Suri klingel die reënboog van glaskrale teen mekaar, soos ’n ratel. “Jy hou ook van helder kleure, nes jou mamma. Dis sy wat hulle vir my gegee het – al die pad uit Italië van Murano af gebring. Wanneer jy eendag groot is, sal jou pappa vir jou ook sulke krale koop, en ’n glasperdjie en ’n dolfyn en als wat vir jou mooi is.”
Maja verstaan nie wat haar tannie sê nie, maar sy hou van die klank van haar stem en gesels lustig saam in haar eie taal. “Ghoe-ghoe! Boe!”
“Wat sê sy?”
Suri kyk om na waar Hendro in die slaapkamerdeur staan. “Sy sê eendag is te lank om voor te wag. Sy wil die krale nóú hê!”
“Dink jy regtig sy het Irene se liefde vir kleure geërf?”
“Die kans is goed. Of dalk word sy eendag ’n beroemde beeldhouer.”
Hendro se mond gaan oop en hy staar haar aan asof sy aangekondig het dat hy die Boerpot gewen het.
“Wil jy haar vashou?” stel Suri voor.
Hy aarsel. “Miskien later …”
“Moenie bang wees nie, sy sal nie breek nie.”
“Ek is nie bang nie. Net haastig om by die huis te kom.”
Net weer ’n verskoning? Hy het ten minste gelyk of hy begin belangstel. Darem ’n mate van vordering, dink Suri hoopvol. “Het jy toe die kwitansies en bankstate vir die eksekuteurs gekry?” wil sy weet.
“Nog nie.” Toe sy ondersoekend na hom kyk, voeg Hendro by: “Ook nie die gras gesny of die geute skoongemaak nie.”
“Wil jy hê ek moet die dokumente help uitsoek?”
“Ek sal regkom, dankie.”
“Wat het jy heeldag gedoen?”
“ ’n Ver pad gery …” bieg hy. “Die vensters oopgedraai en gehoop die wind waai die watte in my kop weg. Al langs die Wildekus af, tot anderkant die Transkei-grens. Ek sal vir jou petrol ingooi.”
“Toe maar, die helfte van daardie sjokoladekoek in die yskas sal genoeg betaling wees.”
’n Glimlag pluk aan sy mondhoek, maar sy grys oë bly somber.
Sy is te haastig, besluit Suri. Hendro lyk beter, maar sy weet nie hoe hy binnekant voel nie. Verlede nag het hy nie veel geslaap nie. Sy het hom rusteloos op die bank hoor rondrol, en hy het lank buite op die patio gesit. Seker weer ’n pak dertigs opgerook …
Sy sit vir Maja ’n droë doek aan en lê haar in die wiegie neer. Dan gaan help sy in die badkamer. “Jammer ek was laat, Nessa. Hoe het julle met die fyngemaakte piesang gevaar?”
“Sy het die lepel afgelek. ’n Regte Natallertjie. En jy, Soetjie? Kan ek vir jou en Hendro ’n koppievol maak?”
“Niks vir my nie,” keer Hendro. “Ek moet gaan.”
“Is jy regtig haastig?” vra Suri.
“Ek verwag iemand.”
“Ek dag jy praat sommer … Jammer dat ek so drentel. Ons kan dadelik ry as Nessa reg is.”
Suri blaas verlig haar asem uit toe hulle veilig onder die koraalboom