Liefde onder die sterre. Susan Pienaar
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Liefde onder die sterre - Susan Pienaar страница 4
“Dis heeltemal veilig.” Hy leun oor haar en gord haar vas.
Sy donker hare hier naby haar gesig ruik na suurlemoen en Lisa hou op asemhaal. Toe hy weer regop kom, trek sy haar longe saggies vol lug. Hy het onverwags haar persoonlike ruimte binnegedring. Dít moet wees hoekom haar hart so in haar keel wil spring.
Kallie herhaal wat die persoon uit die beheertoring sê. “Runway clear,” eggo hy oplaas en kort daarna spoed die vliegtuig oor die aanloopbaan. Hulle’s in die lug! Eers sien Lisa net geboue en hutjies onder haar, dan raak dit ’n groen-en-bruin lappieskombers en is daar berge … Skielik voel sy naar.
Dit sal seker beter raak as sy nie by die venster uitkyk nie. Lisa maak haar oë toe, rus haar kop teen die kopstut en bid woordeloos dat die naarheid nie moet vererger nie. ’n Ruk later voel sy ’n bietjie beter, maar sy hou steeds haar oë toe. Sy wil nie na Kallie kyk nie. Haar gedagtes kan sy egter nie keer nie.
Hoekom is hy nie getroud nie? Hy is tog … wel, aantreklik. Op ’n ruwe manier aantrekliker en beslis meer manlik as Dewald. Kallie sou vroue byvoorbeeld laat toustaan vir kaartjies as hy ’n safaritoerleier was, dis vir seker.
Sy loer onder haar wimpers deur in sy rigting, sien hoe hy ’n verstelling aan ’n skakelaar maak en bestudeer sy hande. Mooi hande, groot, met lang, sterk vingers. Sy draai haar kop net effens om sy gesig te kan bekyk. Sy beenstruktuur is sterk, sy ken hoekig en sy neus reguit onder digte wenkbroue. Selfs sy nek is die soort waarvan sy hou.
Lisa sit regopper. Sy is skoon laf om Kallie so te beloer. Sy hou dan niks van die man nie! Sy kry haar water uit haar handsak en drink ’n paar slukkies. Toe kyk sy maar uit verveling by die venster uit na die kleurlose landskap, en besef haar fout oombliklik toe die naarheid haar opnuut oorval. Nêrens sien sy sakkies vir noodgevalle nie. Asseblief tog nie! Laat sy groot asseblief tog nie Kallie se vliegtuig bemors nie! Dit sal die ergste vernedering van haar lewe wees.
Sy kyk af na haar Gucci-handsak, sluk naarstiglik en bedink haar. Binne-in is haar grimering, bankkaarte, haar selfoon: goed waarsonder sy nie kan klaarkom nie. En dis in elk geval Gucci! Weer maak sy haar oë toe, lê met haar kop agteroor en probeer haar gedagtes na vrediger kanale lei. Gou dwing haar boetieks na vore. Geleidelik begin sy beter voel.
Sy dink aan die verfrissende lugversorging en kalmte in haar winkels. Sy hoor die gemurmel van vrouestemme. Sy sien die fleurige klere en voel die verskillende lapteksture. Sy hoor die klokkie se helder klingel om ’n nuwe kliënt aan te kondig.
Maar dan verdring die beeld van Kallie se mond al hierdie rustige gedagtes. Sy lippe is vol en ferm. Begeerlik. ’n Mond wat met elke beweging haar aandag vasvat en smeek om gesoen te word …
“Voel jy sleg? Is jy naar?”
Haar oë vlieg verskrik oop. Kallie sit haar aandagtig en bekyk, sy grysblou oë in die bruingebrande gesig bekommerd. Lisa weet dat as sy nie so mislik was nie, sy definitief nou sou gebloos het.
“Ek makeer niks,” sê sy vinnig. “Kyk waar jy vlieg, netnou vlieg jy in iets vas.”
Kallie lag haar sowaar uit! Sy tande is wit en egalig en rondom sy grysblou oë kreukel fyn lagplooitjies … wat lag die man so vir haar?
“Die vliegtuig kan homself vlieg.” Kallie los die stuurstok en lig sy hande. “Sien? En lugverkeer is glad nie ’n probleem nie. Hoor jy nie hoe ons ouens so af en toe met mekaar gesels nie?”
Al wat sy deur haar oorfone hoor, is ’n vae gemompel van los woorde. Hoekom praat die mense nie in volsinne sodat sy kan snap wat hulle bedoel nie?
“Ons is feitlik daar,” sê Kallie. “As jy mooi kyk, sal jy Nico en Tillie se huis daar voor sien. Die wit stippel daar anderkant,” beduie hy na links, “is my plek.”
Lisa trek haar oë op skrefies, maar sy kan om die dood nie Kallie se huis sien nie. Dan sien sy ’n wit gebou onder haar en voel hoe haar maag omdop toe die vliegtuig begin sak. Die grond kom vinnig nader en Lisa knyp haar oë toe. Sy probeer die naarheid wegsluk.
Toe die vliegtuig tot stilstand kom, vroetel Lisa benoud na haar sitplekgordel en maak die knip los. Voel-voel soek sy na die deurhandvatsel, gooi die deur oop en dink ernstig daaraan om te spring. Sy moet so gou moontlik buite kom en op vaste grond staan. Maar Kallie is reeds uit en moet gesien het wat haar plan is, want hy keer haar.
“Wag net ’n oomblik, magtig! Jy gaan ’n been breek in daai skoene van jou.” Hy hou sy arms uit. “Kom, sit jou hande op my skouers.”
Sy maak so. Dit duur net ’n paar sekondes, maar dis genoeg om die hitte van sy hande deur die dun lap van haar rok te voel, en die gespierde lyf teen hare toe haar skoen veroorsaak dat sy nietemin struikel toe sy grondvat.
Toe sy stewig staan, kan Kallie haar nie gou genoeg laat los nie. Dit neem haar ’n rukkie om haar hart tot bedaring te bring. Genade, die man het die vreemdste uitwerking op haar! Die narigheid is so te sê weg, dadelik. Hy maak die deur toe en gee haar handsak aan. Met ’n laaste deurdringende kyk stap hy weer om die vliegtuig en haal haar bagasie uit.
Hy bring dit vir haar. “Voel jy nou beter?”
“Ja, natuurlik.” Sy draai weg van sy ondersoekende blik en sien hoe Nico uit ’n viertrekvoertuig klim.
“Hallo, Lisa! Welkom op Rooiklip.” Nico soengroet haar. “Ek’s wraggies bly om jou te sien. Tillie het omtrént vir Truitjie laat bak en brou vir jou koms.”
Die mans laai haar bagasie in Nico se voertuig, druk aan die gesels. Toe hulle wegtrek, kyk Nico na Kallie. “Jy’s natuurlik ook genooi om saam te kom eet.”
“Dankie, maar ek moet terug plaas toe. Nadia is vandag by Emma. Ek sal kyk of ek vanaand kans kry om iets te kom eet.” Hy knik skuins oor sy skouer na Lisa. “Buitendien, ons twee gaan nou net in die pad wees. Laat die meisies eers alleen gesels.”
Lisa kyk deur haar venster na die huis – dis dan binne loopafstand van waar hulle geland het. Hoekom ry hulle? En wie is Emma en Nadia? Dalk sy meisie?
Nico lag en Lisa sien hy kyk oor sy skouer na haar. “Dis nou my vroutjie wat gesê het dat jy nie die entjie huis toe mag stap nie. Sy’t my ook gewaarsku dat jou tas vreeslik swaar gaan wees.”
“Dis gaaf van jou,” glimlag Lisa. Tillie het natuurlik aan haar skoene gedink. Sy kry dikwels die aapstuipe as sy die pryse sien. En sy weet Lisa reis swaar. Sy huiwer eers, maar sit dan tog vorentoe en tik teen Kallie se skouer. Hy draai om.
“Dankie vir jou moeite, dat jy my kom haal het. Jy moet sê wat ek jou skuld.”
“Ek het die guns vir Tillie en Nico gedoen.” Hy draai fronsend vorentoe.
Lisa sit afgehaal terug. Die pés! Hy probeer nie eens om sy woorde in ’n bietjie suiker te rol nie. Kon hy nie maar net gesê het dit was ’n plesier nie? Is hy dalk ’n vrouehater? Wat het Tillie besiel om die man so ’n guns te vra? Sy’t ’n paar goedjies om met dié vriendin van haar uit te klaar …
Nico hou voor die groot huis stil. ’n Swart-en-wit skaaphond kom blaffend en stertswaaiend aangehardloop en spring teen Kallie op. Hy vryfkrap met albei hande oor die hond se ribbekas. “Dag, Maja. Hoe gaan dit met ons honne?”
Lisa bly sit. Sy wil nie op haar heel eerste dag hier deur ’n hond opgevreet word nie. Kallie stoot Maja se pote af en kom maak haar deur oop.