'n Dorp soos Silwer Streams. Barend Vos
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу 'n Dorp soos Silwer Streams - Barend Vos страница 6
“Sies!” raas Gert.
Saais wil lag. Nóú is hy dapper, die ou applousgans.
“I go to the police!” dreig Gert.
7
Ek sal seker nie kan sê dat ek nooit gewaarsku is nie. Een van my koshuisvriendinne wat vroeër al ’n stel afgetrap het, het sommer reguit gesê: “Bly tog maar uit die toekomstige predikante uit. Hulle het almal issues. Meestal ’n mengsel van skuldgevoelens en belustigheid. Jy dink nog hy wil vry, dan bid hy al.”
Maar my Natie was anders. Heeltemal anders as hulle, destyds toe ons nog geswot het.
Maar dit was tóé. Nou weet ek nie meer nie. Dalk is hy steeds anders, ek weet nie meer nie. Miskien is hulle maar almal so, miskien wórd hulle so, dan is dit dit wat die gedurige blootstelling aan siek mense, die beswaardes van liggaam en gees, met jou maak. Hoe sal ek weet? Weet jy dalk iets van sulke goed af?
In elk geval, toe die ou oom met die wit klere, soos ’n outydse roomysverkoper of iemand wat melk aflewer, hom laas Saterdag van die rolbalklub af hier aanbring, het ek gedink hy was in ’n ongeluk. Ek het geskrik toe ek sy bene sien, dit het gelyk soos bloed.
“Dis net modder, my ding,” het die oom ewe familiêr gesê, asof dit niks is nie. “Maar hy het op ’n lyk afgekom. Die skok laat hom nie praat nie; jy moet hom maar suikerwatertjies injaag.”
“’Dankie, Oom, ek sal verder na my man omsien, dankie vir die moeite.” Sê ek toe vir hom, maar hy staan nog daar rond asof hy wil hê ek moet hom innooi. Hy sal lank wag.
Ja, jong, ek mis hom. Die óú Elnatan – hy sou gelag het, oor sy skrik, oor die rit saam met die simpel melkman, die tipiese oumensraat oor die suikerwater. Die gesukkel tot in die kamer, hy half oor my skouer soos iemand wat pas uit ’n floute bygekom het.
Maar hy praat mos nie, hy sê nie wat met hom gebeur het nie. Of wat hy gesien het wat hom so ontstel het nie. Ja, ek mis hom iets verskrikliks.
Kan ek vir jou ’n bietjie water aanbied? Dis so warm. Hier is ongelukkig … ag, jong, ons hou nie koeldrank aan nie. Hier kom mos nie … hier kom niemand wat koeldrank drink nie.
Ja, dit was dít wat my van die begin af na hom toe aangetrek het – sy humorsin. Op die kampus was dit só opvallend – én sexy, moenie lag nie! – dat die kring rondom hom altyd gesmile het. Tot sommige van sy klasmaats se irritasie. Die oudominees, tóé reeds, vlak in hulle twintigs. Hoe het ons daarvoor gegril. Later vir al die vernaamheid gegiggel wanneer hy vir my kos gemaak het in sy woonstel. Die broodjie stukkie vir stukkie afgebreek en my daarmee gevoer het, die klein voëltjie wat styf teen hom sit en vir hom bekkie maak.
Hy kon iets lighartigs uit ’n slegte situasie maak. Absurde dinge raaksien en uitwys. En hy kon so maklik, sonder om daaroor te dink, met homself spot, so asof hy sy eie erns … nie ernstig opneem nie. As jy verstaan wat ek bedoel. Asof hy homself doelbewus ondermyn. Relativeer. Is dit die regte woord?
Sjoe, jong, jy laat my diep dinge sê. Maar … jy vrá dan nou.
Tóg, noudat jy so vra, in sy diepste wese was hy maar altyd ’n dominee. Hy het so omgegee, hy was so genuinely besorg oor ander. Dit was daardie sagtheid, daardie ding wat jy nie sommer by mans kry nie, dít was vir my die duidelikste bewys dat hy in sy hart ’n predikant is. Dat hy nie bloot in sy pa se voetspore wou volg nie. Die opregte deernis met mense, met hulle swakhede, hulle behoeftes en begeertes.
Daardie eerste ses, sewe jaar hier in die gemeente. Hoe hy met die grootste erns en aandag na hulle geluister het, hom ontferm het, dinge gedoen het. Regtig gehélp het, nagte by hulle gesit het, kilometers agter hulle en hulle nood aan gery het.
Waar is dit nou alles heen? En dis maar ses maande dat dit so gaan, niks meer as dit nie, al voel dit soos ’n ewigheid. Hoe het die liggie dan so doodgegaan? So geleidelik dat ek dit eers agtergekom het toe ek sulke helder terugflitse begin kry het van ons vroeë dae saam. Hoe ánders dit was: universiteit, die musiekkonserte. Hy wat by my sit wanneer ek in die konservatorium se oefenkamertjie deur die Bach en die Scarlatti ploeg. Die – genadiglike – kort naweke af en toe by sy ouers se aftreewoonstel in die Strand. Selfs daardie eerste jare op Silwer Streams, toe ons nog soveel drome gehad het.
Ag, jong, ek wens jy is hier om te hoor hoe sug hy nou wanneer een van die swakkes aan die voordeur klop. Hoe hy wag dat ek die deur moet gaan oopmaak om te sê hy is ongelukkig nie tuis nie. As een van die geringstes bel en hy vir my fluister dat ek moet sê hy is vir ’n vergadering stad toe.
Ek wonder dikwels wanneer laas hy gelag het. Régtig gelag, nie daardie aangeleerde, gemaakte laggie vir een van die gemeente-ooms se flou grappies nie.
Waar is dit alles heen? Waar is hy heen? Die man met die gemaklike houding, so tuis by homself, hy wat so kop en skouers bo almal uitgestaan het? Hoe dink jy – is dit nie maar, ten spyte van sy herhaalde versekerings, toe hy nog daaroor gepraat het, tóg maar die kinders nie? Die gebrek aan kinders?
Dit kan natuurlik ook … iets anders wees. Ag, ek praat al weer te veel. Ek weet nie of ek jou daarmee ook moet moeg maak nie. Kan ek jou maar vertel? Sal jy dit ook wil weet?
Nou ja, goed. Op ’n dag – hy was regtig na ’n vergadering in die stad, of so het hy gesê – het ek in sy studeerkamer gaan skoonmaak. Jy weet, die lessenaar se glasblad gaan blinkvryf, en so. Gordyne vir ’n slag ooptrek, sulke goed. Nuwe tissues gaan neersit op die tafeltjie by die venster, daar waar hy al die pastorale gevalle ontmoet.
En daar kry ek die ding: ’n jaarverslag of ’n omsendbrief of iets van die mediese fonds. Waarin daar gekla word oor die lede wat so groot en so dikwels eis. Sekere beroepe wat gereeld oortree is by die naam genoem, predikante was bo-aan. Hulle eis glo veral vir psigosomatiese siektes. Psigosomatiese siektes! Hoor jy? Siektes wat eerder in die kop is as in die lyf. Maar dan in die ouderdomsgroep vyftig plus. Elnatan Wait is sestien jaar jonger.
Daar het jy dit nou! Hulle is dus almal só. Hy … dalk net meer. En baie vroeër.
Ek sal nooit vergeet toe ek laas Saterdag, dit was al ná die middag, in die kamer gaan kyk het nie. Dit was so stil. Maar hy het steeds gelê en slaap. Ek het die opgemorste drafskoene opgetel wat ek vroeër sommer uitgepluk en daar op die vloer laat lê het. Hy het nie geroer nie, net so bly lê, die droë modder plek-plek nog aan sy broek en sy bene. Sy hande naby sy gesig, asof hy iets wou wegkeer. Opgekrul soos ’n fetus. Vir watter issues koes hy so? Wat dink jy?
8
Basie Hechter sit voor die televisie, sy worshondjie by sy voete. Hy wonder of P.C. van Deventer nie dalk vanmiddag gaan opdaag nie; hy was lanklaas hier. Maar dis net die voorseisoense vriendskaplike wedstryde. Hulle kan krieket kyk as die polisieman wil. Hier is baie kanale.
Hy wens net die man wil darem ook ’n ietsie saam met hom drink. Net vir die geselligheid; so ’n paar druppels Three Ships het nog niemand enige kwaad aangedoen nie. “Maar,” sê hy en sug, “tot tyd en wyl is dit net ek en jy, Worsman. Ons twee en die drie skepies. Met mekaar se deurlugtige geselskap.”
Die worshond kyk hom in die oë.
Ons verstaan mekaar, dink Basie, en ten minste bewonder hy my. Elke woord wat ek tot hom rig, drink hy in. “En eendag is eendag, een van die mooi dae, dan leer ek my honne nog sy eie whiskytjie ook