grond/Santekraam. Ronelda S Kamfer

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу grond/Santekraam - Ronelda S Kamfer страница 2

grond/Santekraam - Ronelda S Kamfer

Скачать книгу

aan

      sy pa dink aan sy ma en dink

      aan ’n tyd toe die see nog kon

      praat en al die wêreld se stories

      onder in die water

      gebly het hy dink aan die stemme in sy are

      oom Grootvis Visser dink aan sy mense

      die mense en die santekraam

      gaan ii

      vergaan

      vêr gaan

      tydelik is alles

      ver-heen en ver-weer

      gaan daarmee heen

      verlelik is goed

      met

      die tyd wat vêr van goed

      was

      sovêr

      so vêr

      Insha’Allah

      miskien sal daar weer

      ’n wind kom

      ’n wind groot genoeg

      en lief genoeg

      grond genoeg

      om my trug te

      waai na waar

      ek ook eenmaal dik

      bedonnerd gebore is

      Insha’Allah

      gaan iii

      heen is

      waar ons moet gaan

      altyd heen

      teen stormwinde sonde

      moet gaan en

      wegkom weer dit is

      ’n moet vir ons om te

      gaan

      en vir tyd om in tyd

      binne-in stil te staan

      oorvertel 1

      Desember 2009

      wat is jou besigheid

      ek soek inligting stories oor Skipskop

      ek was nog ’n kind gewees daai tyd

      daai fokken Kramer-jong het mos

      daai song gesing so long Skipskop

      met ’n Kaapse aksent nogals pure

      djasgeit wit mens se sad en onse sad

      is different hulle huil oor die plek

      oor dit mooi was

      onse mense huil oor hulle

      net moet maak soos gesê was

      ja oom maar ek wil weet wat daar

      by Skipskop gebeur het

      hoe het dit gelyk

      wie het daar gewoon

      ek het daar gebly en my ouers

      ons het vis gevang

      daai jare sonder permitte

      ons kinders het nie baie geworrie

      om te swem nie

      die water was te blerrie koud

      en die son was nie so beneuks soos

      hy nou is nie

      oorvertel 2

      Februarie 2010

      hier het ’n vrou gebly Mal Maria sy’t geloop met ’n lang tou om die nek met haar huissluitels aan een nag toe dood sy met die sluitels om die nek die wind het haar nek gebreek

      julle Kaapse mense sê mos die son sien alles

      hierso sien die mense alles

      ek huil nie oor Apartheid-kak nie ek huil oor julle klo’goed net hoor van Distrik 6 ek kon nog die St Helena in my oumoeder se hare ruik maar bruin mense is net klopse papbekke en gomgatte om bruin te wees is glad nie so verkakte storie soos daai slamse voorgee nie en dan is dit nog die anner storie van boesman wees die problem is wanner jy jou mense se storie ken en daar’s nie ’n slams of boesman in nie maar jy moet maar ja en amen want al wat jy het is die oorvertel

      die see spook by jou al trek jy tot teenaan die woestyn

      die see is ’n teef met rooi skoene aan

      oorvertel 3

      Maart 2010

      ’n mens vergeet maar net omdat onthou jou opvreet

      grond is ’n vuilheid as jy eers lief is vir ’n plek kan watte kak maar daar gebeur jy hou maar vas nie soos mens lief nie

      jy wil nie weet hoe ek voel nie ek’s 84 jaar oud en as ek nou leegmaak spoil ek alles al my regop hou

      dis beter om die storie in jou woorde oortevertel want ek wil graag hou wat ek het dis al wat ek het as ek dit ook weggee is ek regtig soos my kleinkind sal sê ’n happy loser

      Klippie Klipkop se storie

      Klippie Klipkop kind van mantel en kors

      gebore in die moho discontinuity

      kleinkind van die sial

      sy ma was van sima afkomstig

      toe kom die water die water het net

      aanhou en aanhou kom tot vandag tot môre

      Klippie Klipkop hanskind van Klippenkust

      kragteloos in sy knechtschap sit

      vas sit vas Klippie Klipkop naby de duivel

      verby

Скачать книгу