Jesus Christus en ons lewe in hom. Johan Malan

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Jesus Christus en ons lewe in hom - Johan Malan страница 9

Автор:
Серия:
Издательство:
Jesus Christus en ons lewe in hom - Johan Malan

Скачать книгу

die ewige rots wat vir ons geklief is. Sy gebroke liggaam het die stroom van God se genade na ons toe laat vloei. Hierdie rots is ook die enigste fondament waarop ons ons lewe kan bou (1 Kor 3:11). Dit gee aan ons vastigheid en onwankelbaarheid in die storms van die lewe wat oor ons mag toesak (Matt 7:24–27).

      Kan jy saam met die psalmis getuig dat die Here jou lewe van ondergang en vernietiging gered en ook op hierdie vaste rots geanker het? “Hy het my uit die kuil van vernietiging, uit die modderige slyk opgetrek en my voete op ’n rots gestel; Hy het my gange vasgemaak” (Ps 40:3).

      Die weg, die waarheid en die lewe

      Jesus is die enigste weg na die hemel, want niemand kan na die Vader kom behalwe deur Hom nie (Joh 14:6). Hy is die waarheid, sy Woord is die waarheid, en die Gees van die waarheid getuig van Hom. Hy is ook die opstanding en die lewe (Joh 11:25–26). Slegs deur Hom kan iemand wat dood is in sy sonde en misdade tot ’n nuwe lewe opgewek word (vgl Ef 5:14). Alle sondaars is die straf van die ewige dood skuldig (Rom 6:23). Net Jesus het hierdie doodstraf namens sondaars gedra, daarom kan net Hy aan hulle die ewige lewe skenk. Hy het gesterwe sodat ons kan lewe.

      Die ware wynstok

      “Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder my kan julle niks doen nie” (Joh 15:5). Die wynstok word as simbool van die heiligste dinge gebruik: die sap van sy vrugte is tiperend van die bloed van Christus, terwyl sy stam en lote die volmaakte beeld van die verborgenheid van Goddelikheid is – Christus se vereniging met sy volgelinge.

      Die uitdrukking “in My” verwys na ons regverdigmaking en vereniging met Christus wanneer ons in die wynstok ingeënt word. Die uitdrukking “Ek in hom” verwys na ons dieper vereniging met Christus in heiligmaking, wanneer Hy ons hele lewe word. Die hoofdoel met heiligmaking is inderdaad Christus in al sy volheid.

      ’n Ander waarheid wat hier beklemtoon word, is gemeenskap met Christus: “Bly in My, soos Ek in julle” (vers 4). Ons moet ’n noue verhouding met Hom handhaaf – dit moenie ’n los en vas verhouding wees nie, maar ’n oomblik na oomblik afhanklikheid van Hom. Paulus sê: “Soos julle dan Christus Jesus, die Here, aangeneem het, wandel so in Hom” (Kol 2:6). Om in Hom te bly, hang van ons gehoorsaamheid af: “As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly … en [sal] julle blydskap volkome kan word” (Joh 15:10–11).

      Heiligmaking

      Die Here Jesus is nie net ons verlossing nie, maar ook ons geregtigheid en heiligmaking (1 Kor 1:30). Israel is sedert die uittog uit Egipte al geleer dat hulle ná die Pasga vir ’n week lank die fees van die ongesuurde brode moes vier. Dis ’n tydperk van heiliging en selfondersoek. Paulus sê: “… ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus. Laat ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van ondeug en boosheid nie, maar met die ongesuurde brode van reinheid en waarheid” (1 Kor 5:7–8).

      Ons moet onsself gereeld ondersoek om vas te stel of daar nie moontlik suurdeeg van sonde in ons lewe ingekom het nie. “Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring” (2 Kor 7:1). Daar is geen ander lewe wat vir die Here aanvaarbaar is nie: “Want dit is die wil van God: julle heiligmaking … Daarom, hy wat dit verwerp, verwerp nie ’n mens nie, maar God wat ook sy Heilige Gees aan ons gegee het” (1 Thess 4:3, 8).

      Terwyl ons toeneem in kennis van ons Here en Saligmaker, moet ons ook in genade en heiligmaking toeneem. Gelykvormigheid aan sy beeld van heiligheid moet steeds ons groot ideaal wees, daarom moet daar geen skaduwees van sonde oor ons lewe val nie. Hoe kan ons seker maak dat sonde nie weer heerskappy oor ons lewe verkry nie? “Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie” (Gal 5:16).

      Die wortel en geslag van Dawid

      Jesus Christus het gesê: “Ek is die wortel en die geslag van Dawid” (Op 22:16). Die “wortel” van Dawid bevestig Jesus se Godheid – Hy is die Here van Dawid! Deur die “geslag” van Dawid word sy mensheid aangedui – Hy is die Seun van Dawid (vgl Luk 20:41–44). Hy is die beloofde Messias wat in die huis van Dawid uit die stam van Juda gebore is, die saad van Abraham deur wie al die nasies geseën sou word (Gen 22:18).

      Deur die eeue heen het Satan die volk Israel gehaat en vervolg weens die beloftes van die komende Messias wat aan hulle gemaak is (vgl Op 12:4–5). Herodes se kindermoord in Israel moet in die lig hiervan gesien word (lees Matt 2:13–18). Dit was een van die eerste pogings van Satan om Jesus om die lewe te bring en sodoende die vestiging van sy koninkryk te probeer verydel. Verskeie demonies-geïnspireerde pogings is ook daarna aangewend; die mees onlangse hiervan was die Joodse Slagting van die Tweede Wêreldoorlog.

      Blink môrester

      Die Here Jesus sê: “Ek is … die blink môrester” (Op 22:16). Petrus voeg hierby: “En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ’n lamp wat in ’n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte” (2 Pet 1:19).

      Die môrester is by uitstek die simbool van hoop – die verwagting van ’n nuwe dag wat weldra sal aanbreek. In Jesus Christus het ons ’n hoopvolle toekoms. Ons kan verby die spanning van die huidige lewe kyk na die strale van ’n helder nuwe dag wat met sy wederkoms oor hierdie donker wêreld sal aanbreek. Ons kan deur die tekens van sy koms ook in die ontwrigtende omstandighede van die huidige tyd sy naderende voetstappe herken. Mense sonder ’n Christelike toekomsverwagting is nie in staat om wêreldgebeure geestelik te vertolk nie en word deur al die slegte nuus en donker vooruitsigte tot wanhoop gedryf.

      Wysheid

      Alle wysheid buite God is dwaasheid en nietige misleiding (vgl Kol 2:8). Vir ’n mensdom wat vervlak het in sy denke en dwaas geword het in die oorleggings van sy hart, het Christus met sy koms ’n nuwe bron en dimensie van kennis gebring en daardeur vir ons geword die “wysheid uit God” (vgl 1 Kor 1:24, 30). Hy het nie alleen die mens se onkunde en die verduisterde toestand van sy hart aan hom geopenbaar nie, maar deur sy kruisdood die weg vir almal gebaan om tot wyse en verstandige kinders van God herskep te word.

      Deur Jesus Christus gee God aan ons die Gees van wysheid sodat ons die rykdomme kan begryp wat Hy aan ons skenk (vgl Ef 1:17–18). Ons moet daarna streef om in wysheid toe te neem deur die Here Jesus beter te leer ken, “in wie alle skatte van wysheid en kennis verborge is” (Kol 2:3). Hy is die wonderbare Raadsman (Jes 9:5) wat die regte raad vir elke probleem het. “As iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid … en dit sal aan hom gegee word” (Jak 1:5).

      Raadpleeg eers die Here en ken Hom in al jou weë voordat jy ’n besluit neem. Hy sal jou deur sy Woord en Gees onderrig soos ’n vader sy seun onderrig. Moenie eers volgens eie insig handel en ernstige foute maak voordat jy ’n saak aan die Here voorlê en sy leiding afbid nie.

      Ons moet die Bybel deursoek vir riglyne en dit toepas, want: “Die beginsel van die wysheid is die vrees van die Here, en kennis van die Heilige is verstand” (Spr 9:10). Hy sal jou antwoord en jou paaie gelyk maak. Eers as jy in jou hart vrede oor ’n saak het, dan weet jy dat jy in die geloof daarmee kan voortgaan.

      Oorwinnaar

      Jesus Christus het die duiwel, die dood en die hel oorwin! Hy het “die owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar tentoongestel en daardeur oor hulle getriomfeer” (Kol 2:15). Hy is die magtige Verlosser wat elke sondaar se bande kan verbreek en hom van die mag van die vyand kan bevry. “As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees” (Joh 8:36).

      Word jy nog deur sondes, swakhede en vuil gewoontes geteister? Kom na die enigste Verlosser

Скачать книгу