In God se teenwoordigheid. Johan Smit
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу In God se teenwoordigheid - Johan Smit страница 7
Is die wêreld regtig so sleg? Ja én nee. Die wêreld waarvan die digter praat, is die wêreld van die dwase, die mense wat hulleself buite God se heerskappy stel. Daar is ook ’n ander wêreld, naamlik die wêreld van God se volk, sy kerk op aarde. En dié wêreld bestaan uit mense wat God se heerskappy oor hulle lewens erken. Dit is die wêreld waaraan ek en jy behoort.
’n Ontaarde mensdom, en ’n geredde mensdom. Twee wêrelde wat voortdurend in botsing met mekaar is. Lig en duisternis wat ’n stryd voer. Maar, so leer die Nuwe Testament vir ons, die lig sal die duisternis oorweldig. Geen duisternis is so groot dat slegs een kersie nie ’n reuseverskil maak nie. Mag ek en jy daardie kersie wees. Ons moet net in gedagte hou dat ons nie op grond van ons eie bekwaamhede deel van die geredde wêreld is nie; alles is genade!
Here, help my om in ’n donker wêreld ’n lig van hoop te wees. Amen.
28 Januarie
Verdorwenheid en genade
Hulle is een en al ongeregtigheid, slegtheid, hebsug en gemeenheid; hulle is vol jaloesie, moord, twis, bedrog en kwaadwilligheid. Hulle skinder en praat kwaad; hulle haat God, hulle is hooghartig, aanmatigend, verwaand; hulle is mense wat kwaad uitdink, ongehoorsaam aan hulle ouers; hulle is onverstandig, onbetroubaar, liefdeloos, hardvogtig. Romeine 1:29–31
Kom ons kyk vanuit ’n Nuwe-Testamentiese perspektief na die ontaarde mensdom. Paulus praat daarvan in Romeine 1. En hy het nogal ’n mondvol oor die verdorwenheid op aarde te sê. Ek tel een en twintig slegte dinge wat Paulus oor dié mense te sê het. Klink dit oordrewe? Neem gerus vandag se koerant en kyk hoeveel daarvan jy in die koerantkolomme opspoor. Ja-nee, dit is maar hoe die wêreld lyk. Ons moet daarvan kennis neem. En ons moet verstaan dat ons die sondekiem in onsself dra. Ons moenie te neerhalend oor die verdorwe wêreld praat nie. Uit die lys van sondes wat Paulus aan die wêreld toeskryf, is daar slegs enkeles wat nie ook by geleentheid voor die deur van belydende Christene gelê kan word nie. En ja, hoe dikwels gebeur dit nie dat die name van uitgesproke Christene in die nuusmedia met ongure praktyke verbind word nie.
Daar is maar net een woord wat ons van die wêreld skei, en dit is genade. Onbeskryflike groot genade. En selfs as ons by geleentheid val en in die moeras van sonde beland, neem God ons weer by die hand. Maar ons moet net heelpad onthou dat alles genade is. En ons moet op ons hoede bly. Ons leef in ’n wêreld vol versoekings. Die verbode vrug bly vandag nog uiters begeerlik. Laat ons liewer met groter toewyding ons gedagtes op God se wil vir ons lewe fokus.
Here, daardie een en twintig sondes pla my . . . Laat my naam tog nie op die “wêreldlys” beland nie. Amen.
29 Januarie
“Maar Noag …”
Die Here het gesê: “Ek sal die mens wat Ek geskep het, wegvee van die aarde af; mens en dier …” Maar Noag is deur die Here begenadig. … Noag was ’n regverdige man. Onder sy tydgenote was hy onberispelik en hy het naby God geleef. Genesis 6:9
Die Noag-verhaal is Ou-Testamentiese evangelie. Toe Noag geleef het, het die sondespiraal ’n hoogtepunt bereik, soveel so dat dit vir God berou het dat Hy die mens geskep het. God besluit om mens en dier op die aarde uit te wis. En amper gebeur dit, was dit nie vir een man en sy gesin nie.
“Maar Noag …” Noag het met God in die regte verhouding geleef. Noag vind genade in God se oë. Noag word God se instrument na ’n nuwe bedeling van genade. En in Noag se lewe vind ons ’n prototipe wat in die loop van die geskiedenis by herhaling na vore tree: mense deur wie God sy genadewerking voortsit ten spyte van toenemende verval in die wêreld.
Ons leef in ’n stukkende wêreld. Ek hoef dit nie eers te verduidelik nie, almal weet dit. Moord, verkragting, terminale siekte, ekologiese ondergang – al hierdie goed is aan die orde van die dag.
Ons leef in die tydperk tussen “alles tevergeefs” en “alles is genade”. Die werklikheid van die tevergeefse vreet aan ons, dag vir dag. Ons lees dit in die koerante en sien dit op die televisie. Maar dan maak ons die Groot Boek oop en lees van genade. God is daar. En Hy maak nie net heel nie, maar gebruik sy kinders om heel te maak.
Ek en jy is God se heelmakers. Ons moet die stukkende natuur en stukkende mense optel en help om weer ’n herstelprogram aan die gang te kry.
Here, ek wil kom aanmeld as u medewerker in die heelmaakproses. Amen.
30 Januarie
Abram – geseën om te seën
Die Here het vir Abram gesê: “Trek uit jou land uit, weg van jou mense en jou familie af na die land toe wat Ek vir jou sal aanwys. Ek sal jou ’n groot nasie maak, Ek sal jou seën en jou ’n man van groot betekenis maak, en jy moet tot ’n seën wees.” Genesis 12:1–2
Ons het reeds na Noag verwys as ’n instrument van God se genade. En voorwaar, geen volmaakte instrument nie! Nog steeds sondaarmens. En dan is daar ’n volgende voorbeeld van ’n man wat deur God geroep word om ’n verskil in die wêreld te maak: Abram.
God het ’n plan met die stukkende wêreld. En God se plan begin telkens met één mens, iemand vir wie Hy tot aksie roep. So iemand was Noag. En so iemand was Abram. God maak ’n verskil in die wêreld deur middel van een gewillige en gehoorsame gelowige. Abraham word geroep om hom los te maak van die heel belangrikste sekerhede in sy lewe (land en familie) en ’n onbekende pad aan te durf met die uitsluitlike doel om namens God vir die wêreld tot seën te wees. En deur Abram sal die nasies van die aarde geseën word.
In die Abraham-verhaal is daar verskeie momente waar dit duidelik word dat God met hom was, en meer nog: dat die wêreld dit raak gesien en erkenning daarvoor gegee het. Abraham was nie foutloos nie, maar hy het op die Here bly vertrou en telkens weer sy lojaliteit en trou bevestig. En Abraham het ’n verskil gemaak. Hy het die grondslag gelê vir die volk van God, die kerk van die Here, die koms van die Messias en die koms van God se ryk op aarde.
Here, gebruik my om in u krag ’n verskil te maak in die wêreld. Amen.
31 Januarie
Moses, leier en middelaar
Maar Moses het by die Here sy God gepleit en gesê: “Here, waarom is U toornig op u volk vir wie U deur u groot mag en met kragtige dade uit Egipte bevry het?” Die volgende dag het Moses vir die volk gesê: “Julle het ’n ernstige sonde gedoen, maar ek klim nou na die Here toe op en miskien kry ek by Hom vir julle vergifnis vir julle sonde.” Eksodus 32:11, 30
Nog iemand wat in die galery van geloofshelde vir ons as voorbeeld dien, is Moses. Weer ’n keer ’n mens wat ten spyte van sy gebreke ’n buitengewone instrument in God se hand word. In Moses se verhaal leer ken ons God se almag wat deur die lewe en werke van ’n gehoorsame gelowige tot openbaring kom. Dit was nie Moses wat die krediet moes kry vir al die grootse dinge wat tydens sy bediening gebeur het nie. God het die wonders gedoen. Waarvoor Moses wel krediet kan kry, is vir sy gewilligheid, gehoorsaamheid en onwrikbare Godsvertroue. Telkens wanneer die volk oor hulle lot murmureer en selfs vir God vir hulle moeilike omstandighede verkwalik, het Moses as middelaar opgetree – simpatiek teenoor die volk, maar heelpad getrou