Lot se vrou. Joan Hambidge
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Lot se vrou - Joan Hambidge страница 2
teenoor die twyfelende, weifelende Petrus.
Daar word groot gewag gemaak van die chiaroscuro,
die ritmiese visuele harmonie, die dramatiese intensiteit
van die meester se uitsonderlike periode in Leiden.
Die besonderhede van boeke, doek en kerslig.
Of is dit skilder self in tweegesprek, ego en alterego?
Kunstenaar én mens? Twyfelaar én gelowig?
En, en; eerder as of, of? Wie sou hierop lig
kon werp? Die ewige spel tussen skilder en dig?
Die intieme aard van die digkuns
Hoe weet ek, vra jy my,
’n argument in ’n vers werk of nie?
Jy soek ’n reël, eis jy dringend; die juris
vra vir uitsluitsel, anders blote snuifsels van die gode.
Ek kyk na al die handleidings vir dié stil bedryf,
blaai verwonderd deur Ottone M. Riccio se boek,
ontdek ’n kaart van Praag: Hotel Jalta,
110 00 Praha 1, tel.no. 265541.
Nóg my naam nóg aankoms en vertrek
hier aangestip. Maar in my verbeelding
is ek weer op soek na Franz Kafka se huis
met die klein plattegrond in my hand
na ’n kontinentale ontbyt om ses,
verby die Krym Bar (dit was vóór die internet
ons blitsig kon konnekteer), af, af, af
tot voor die rooi dakke van die asemrowende stad.
Daar was ’n wagtende geliefde, ja,
en ek sou haar ontmoet in St. Petersburg
om die verlore Rembrandts te bespied.
“Die lewe is ’n reis,” staan dit opgeteken
in ’n klein notaboek, “en die liefde ’n hellevaart.”
Later in die Hermitage staan ons verwonderd:
“Die ontering van Haman” en in die meester
se fyn balans tussen donker en lig,
geskiedenis en verbeelding,
weet ek dat daar altyd iets buite woorde lê.
’n Gedig word voltrek in stille toeval.
Derdeoog
Op ’n markplein in Athene
sit ’n ou man met pêrels op sy oë:
in sy ónsienlike bestaan kyk
hy na die gewerskaf, hoor die geredekawel
en, glo my vry, voorspel hulle
dat hy eendag weer sal sien.
Op die vismark glinster ’n visoog,
kieue oopgeskeur, skubbe afgekrap.
In daardie blindeoog,
in daardie visoog, staar iets terug.
’n Siener voorspel reise na orals
en nêrens, ’n lewe van oorvloed.
Op daardie markplein in Athene
was daar ’n man en ’n vis,
beide was kortstondig hier,
vasgevang in die lens van ’n kamera,
in die blindekol van ’n optelvers,
presies in die derdeoog se hoek.
The well-wrought urn
Vir Breyten Breytenbach
Hoe gepas, meneer Cleanth Brooks
die gedig as ’n goed gevormde, netjiese kruik.
’n houer vir die as van uitgebrande liefde,
verlore drome en veral ónwillige lesers.
Met ’n glasie Usquebaugh in die hand
dink ek na oor die gedig se lewensloop:
uit stof ontstaan en vol stof sal jy ondergaan!
Hef aan lê voor, want die gedig
mag kruikvormig, dus urkeolaties
met ’n eerste oogopslag lyk;
of soos die uvea van kleur verander,
dog word met elke lesing ge-usukap,
bepaald gepraatjie-vir-die-vaak …
Boonop word vertelle ’n vers se uvula
word deur stiksienige kritici uitgekap.
Hoe gepas, meneer Cleanth Brooks
die gedig as ’n goed gevormde, nuttelose kruik.
Die onbetroubare muse
Ons nag in Luxor
toe jy verdwyn
en ek wag in die klein kabine
en hoor hoe passasiers rumoer op die bodek,
selfs die kaptein bel om te hoor: is dit veilig?,
die patryspoort oopmaak en sien hoe twee geliefdes
in die aangrensende vertrek
(die twee logge skepe lê twee sardiens geblik)
met mekaar praat, foto’s van tempels laai op ’n skerm,
watter een sou ek nie nou kon raai,
dalk Karnak? Met ’n half-blinde Nefertiti
koekeloerend
op ’n poskaart gekoop