Liefste Koos. Sarah du Pisanie
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Liefste Koos - Sarah du Pisanie страница 3
“Maar, kaptein, ek het nie geld om weer ’n reiskaartjie Kaapstad toe te koop nie. Buitendien, daar het ek ook geen heenkome nie. Ek kan dit net nie doen nie. Ek het alles wat ek besit, saamgebring. Ek sal minstens ’n jaar lank moet werk om genoeg geld te hê om te kan teruggaan.”
“Wel, juffrou, die ander voorstel mag dalk nie so aanloklik klink nie, maar aangesien dit is waarvoor u gekom het, kan u dit net sowel oorweeg.”
Elsa staar hom bang aan. Sy kan aan die krieweling op haar kopvel voel dat hierdie voorstel haar glad nie gaan aanstaan nie.
“Juffrou, u besef dit seker nie, maar Suidwes is nog ’n baie ylbevolkte land. Afgesien van die inheemse bevolking, is daar in hierdie stadium hoofsaaklik net die paar honderd Schutztruppe – die Duitse soldate wat wet en orde hier handhaaf. Wel, dié manne is feitlik almal ongetroud. Party van hulle verkies om te bly en hulle hier te vestig, maar ... die probleem is vrouens.”
Elsa staar hom aan. Kaptein Göring sien die onbegrip in die bruin oë. Hy kyk vinnig weg en gaan toonloos voort.
“As u belangstel, kan u met een van die Duitse soldate trou en hier bly.”
“Maar, kaptein!” Elsa lag ongelowig. “’n Mens trou mos nie met iemand net omdat jy nie ander raad het nie! ’n Mens trou tog vir liefde! En ... die ... die soldate, ek ken hulle nie eens nie.”
“Juffrou, dit mag vir jou ongelooflik klink, maar die soldate adverteer in die Duitse koerante vir vrouens en laat kom hulle uit hiernatoe. Hulle is baie verleë oor ’n bruid. Ons kan reël dat u ’n paar van hulle ontmoet. Hier op Swakopmund het ek tien ongetroude manne wat maar te dankbaar sal wees ...”
Elsa spring verontwaardig op. “Kaptein! Ek weier om soos ’n perd of ’n koei op ’n skou behandel te word. Ek het nog nooit in my lewe van iets so belagliks gehoor nie!”
Die kaptein staan vinnig en styf op. Hy het geen verpligting teenoor haar nie. Hy het net probeer om haar te help.
“Juffrou Fourie, as u aan ’n beter plan kan dink, dan is u welkom. Hier is die naam van die winkelier wat bereid is om u te help. Verskoon my, asseblief!”
Hy oorhandig die papiertjie aan haar en stap met lang treë by die deur uit.
Elsa staar verslae na die wit papiertjie in haar hand. Nou het sy die enigste persoon wat haar nog kon help die harnas in gejaag. Sy sak weer in die stoel neer en byt senuweeagtig aan haar duimnael. Die trane is baie, baie naby.
“A! Juffrou Fourie!”
Elsa kyk vinnig op. Haar gesig vertrek in ’n blye glimlag toe sy die ronde hawemeestertjie sien.
“Goeiemiddag, meneer Schultz. Ek is so bly om u te sien.”
“Werklik? Dan gaan ek gou vir u ook iets haal om te drink. Wat sal u drink, ’n bier?”
“O, nee dankie. Ek sal baie graag ’n koppie koffie of tee wil hê.”
Herr Schultz verdwyn en sluit binne ’n paar minute weer by haar aan.
“Het u toe iets uitgevind omtrent u verloofde, juffrou? Kaptein Göring kan partykeer so toe soos ’n oester wees.”
“Nee, meneer Schultz, en ek is so bekommerd. Kaptein Göring sê hy word vermis. Ek ... weet nie wat om te doen nie.”
“Het die kaptein niks voorgestel nie? Hy is die enigste een wat u sal kan help, juffrou.”
“Sy voorstelle is heeltemal onaanneemlik.” Elsa se stemmetjie is weer styf en formeel van verontwaardiging. “Meneer Schultz ...” Elsa sit skielik regop, haar bruin oë lewendiger as ’n rukkie tevore. “Hoe kan ek op Tsumeb kom? My oom woon daar.”
“Tsumeb? Juffrou ... dit is bitter ver.”
“Hoe kom ander mense daar? My oom het al vir my vertel dat hy gereeld voorraad hier kom haal vir sy winkel, goed wat met die skepe kom.”
“Hulle kom haal dit met ossewaens, juffrou. Maar dit is ’n lang en gevaarlike tog. Meestal kom so drie of vier handelaars saam. Dit is die veiligste. Dan het hulle ook altyd ’n klompie gewapende manne by hulle. U sien, juffrou, hier is drie verskillende inheemse stamme wat gereeld onder mekaar veg.”
Die Duitser drink lang teue van sy bier en vee dan die skuim met die agterkant van sy hand van sy lippe af.
“Dit hang ook net af by watter stam die handelaars hulle vestig. Jonker Afrikaner se handelaars bring dus van hulle eie mense saam, dit is nou die Oorlams, om hulle te beskerm.
“As u oom op Tsumeb bly, sal hy van die Herero’s saambring, want dit is hulle wêreld daar bo. Dan is daar nog die Namas. Hulle is meer in die suide. Maar ... die een klomp dring altyd in die ander se gebied in en hulle maak oorlog en skiet met gewere, want almal kry deesdae wapens en ammunisie in die hande. Die wit mense smokkel met die goed. Die lewe is onveilig en gevaarlik hier in die binneland.”
Hy beskou haar ernstig, die blou ogies baie bekommerd. “Sien, dit is hoekom die Schutztruppe hier is. Hulle probeer om die wet en orde hier in Suidwes te handhaaf. Hulle is egter maar ’n handjie vol teen ’n oormag.”
Elsa luister geïnteresseerd, gereed om die geringste aanduiding van hulp aan te gryp.
“Meneer Schultz, u weet nie of daar dalk van my oom se voorraad met hierdie skip gekom het nie? Daar is nie dalk van sy waens hier nie?”
“U sê u oom is Gert Fourie. Ek het hom nog nooit hier gesien nie. Maar die meeste van die groot handelaars ry nie self transport nie. Hulle het mense wat dit vir hulle doen. Gewoonlik kom laai een transportryer met ’n hele konvooi waens al die noorde se goed op. Hy laai dit dan maar so stuk-stuk langs die pad af.”
“U het nie dalk iemand hier gewaar wat noorde toe gaan nie, meneer Schultz?”
“Nee, juffrou, ek vrees u trek aan die kortste ent. Hermaans Potgieter het die noorde se goed kom laai, want hy het ’n klomp ivoor en velle gebring.”
“Maar ... sal hy my nie saamneem nie? Ek sal hom betaal, en ... as ek nie genoeg geld by my het nie, sal ek my oom vra om die res vir hom te betaal.”
Herr Schultz bekyk haar stil en skud dan sy kop. “Juffrou, nie Hermaans Potgieter nie! Enige ander transportryer, maar nie hy nie.”
“Maar hoekom nie?”
“Juffrou Fourie, u moet hom self sien. Ek het nie kinders nie, want ek was nooit getroud nie, maar ek sou nooit my dogter alleen met enige van hierdie wilde boere laat ry nie ... wat nog te sê Hermaans! Buitendien, hy sal dit nooit doen nie. Hy glo aan spoed. Hy trek vinniger as enige van die ander transportryers. Hy ry maar net transport wanneer hy van sy goed inbring, dan vat hy sommer vir die handelaars goed in sy leë waens terug. Hy is net daarop uit om geld te maak sodat hy sy plaas kan opbou. Ek dink amper dit is sy laaste tog. Hy het verlede jaar al vir my so gesê.”
“Ag, meneer Schultz, neem my na hom toe, asseblief! Ek wil hom self vra. Asseblief, meneer Schultz!”
“Juffrou,