Ondergang. Terri Blackstock
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Ondergang - Terri Blackstock страница 13
Die hele besigheid is belaglik. Is dit enigsins moontlik dat hierdie mans wat blykbaar van haar gehou het, haar nou wil doodmaak? Hulle was verslaafdes, maar hulle het na goeie mense gelyk toe hulle nugter was.
Daar is egter geen waarborg dat hulle stééds nugter is nie. Trouens, hulle is waarskynlik nie.
Sy maak haar oë toe. Dis ’n toets, dink sy. ’n Nog groter toets as om nugter te bly. Hierdie toets vereis dat sy die regte ding moet doen.
Sy probeer weer om vir Kent te bel. Vir die tweede keer kry sy dadelik stempos. Haar oë skiet vol trane terwyl sy wag vir die sein. “Kent, dis Emily. Bel my asseblief. Ek weet dalk wie die bom geplant het.” Sy huiwer en sê dan: “Dis ’n man in Birmingham en sy naam is Carter Price. Ek het pas met die polisie daar gepraat. Bel my, dan vertel ek jou alles.”
Sy beëindig die oproep en oorweeg dit om haar ma te bel. Sy kyk op haar horlosie. Haar ma sal nou besig wees om gereed te maak vir die voorlegging en verwelkom waarskynlik reeds van die kerkmense. Sy wil haar ma se planne nie weer in die wiele ry nie, veral nie op so ’n belangrike dag nie. Haar ma het haar hele onderneming verloor weens al die noodgevalle wat sy moes hanteer toe Emily dwelms gebruik het. Nou het sy weer ’n kans gekry in ’n beroep waarvan sy baie hou en as hulle hierdie kontrak kry, sal sy jare lank verseker wees van werk.
Sy sal in elk geval daarop aandring dat Emily moet bly waar sy is en niks doen nie. En dan kan Carter se vrou haar lewe verloor.
Emily se hart klop wild waar sy op die trap langs die sydeur van die biblioteek sit. As sy vir Cassandra bel en haar waarsku en vertel wat gebeur het, kan dit dalk haar lewe red. Maar sê nou Carter antwoord die telefoon?
As dit gebeur, sal sy sê sy bel om hom van Bo se vrou te vertel. Dalk sal sy hom op ’n indirekte manier kan laat verstaan dat sy weet wat hy in die mou voer.
Voor sy verder daaroor dink, skakel sy die nommer.
Die telefoon lui een keer, twee keer … drie keer …vier keer …
Uiteindelik skakel die antwoordmasjien aan. Dit is Cassandra se sagte stem met die suidelike aksent. “Ons is nie op die oomblik tuis nie, maar laat asseblief ’n boodskap.”
Wat nou? Moet sy ’n boodskap los? Dis beter as niks.
Emily wag vir die sein en maak keel skoon. “Um … Cassandra, ek bel om jou te waarsku dat jy in groot gevaar kan wees. Ek dink jou man het ’n plan om jou te laat doodmaak. Ek weet dit klink ongelooflik, maar maak asseblief ’n plan om weg te kom uit die dorp en moet niemand vertrou nie.” Sy beëindig die oproep en wens haar hart wil ophou hamer teen haar borskas.
Sy moes meer gesê het. Hoekom kan sy nie vinniger dink wanneer dit nodig is nie?
Ongevraag styg die ou smagting weer in haar op, die smagting na iets om haar senuwees te kalmeer.
Dadelik onderdruk sy die gedagte. Nee, sy sal nie daaraan dink nie. Sy is nie meer die slaaf van dwelms nie. Hulle belemmer haar denke, onderdruk haar inhibisies. Hulle het byna haar lewe vernietig.
Sy is ’n nuwe mens. Maar sy dra nog daardie ou Emily op haar rug. Maak nie saak wat sy doen nie, sy kan dit nie heeltemal afskud nie. Haar smagting of pyn mag haar egter nie keer nie. Cassandra Price se lewe kan dalk van haar afhang.
Sy druk die skootrekenaar in haar rugsak. Sy sal die toets moet los. Sy kry koers na die parkeerterrein en klim in haar ma se motor. Sy skakel dit aan en besef toe sy moet ten minste vir dr. Ingles bel.
Soos met almal wat sy vandag probeer bel het, antwoord sy stemboodskap. Sy wag vir die sein. “Dr. Ingles, dit is Emily Covington. Ek wil u laat weet dat verdere ontwikkelings van vanoggend se gebeure my sal verhinder om twaalfuur die toets te skryf. Ek hoop u sal my weer ’n kans gee.” Haar stem breek. “Ek is regtig jammer, dr. Ingles. Ek praat later weer met u.”
Sy lui af en vee oor haar gesig. Sy weet hy sal haar nie glo nie. Hy sal dink sy het nie voorberei nie, dat sy net verbeeldingryke verskonings uitdink; net effens beter as die hond het my huiswerk opgekou of my ouma is dood.
Dit maak nie saak nie. Sy is nie die hoofsaak nie. Sy moet Cassandra eerste stel. Sy moet Birmingham toe gaan en Cassandra se lewe red.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.