Stukkies van die hemel op aarde. Dirkie Smit
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Stukkies van die hemel op aarde - Dirkie Smit страница 13
Word dit nie êrens onhoudbaar nie? Lei dit nie tot ondraaglike spanning nie?
Nie volgens die moderne tydsgees nie, want die modernisme glo in individue wat on-deelbaar is, soos letterlik in die Engelse woord un-divided. ’n Individu is, glo, undivided, heel, geïntegreer, só sê hulle. Êrens is daar iemand, ’n self, ’n persoon, so glo moderniste, wat nié so verdeeld, pluralisties en gefragmenteerd is soos die samelewing daar buite nie. Dié onverdeelde individue, één en héél, met duidelike identiteite, weet wie hulle is. Trouens, wéét is die sleutelterm. Dis juis hulle wete, hulle rede, hulle denke, hulle selfbewussyn wat, glo, identiteit verseker. Dié on-deelbare individue wéét wie hulle is, van waar hulle kom, waarheen hulle gaan, wat hulle wil – ten spyte van alle fragmentasie. So word geglo.
Dié soort sosiale teorieë praat daarom dikwels ook van sosiale “rolle” wat ons speel. In elkeen van dié leefwêrelde gedra ons ons netjies volgens wat in die betrokke omgewing van ons verwag word, soos akteurs wat rolle vertolk in die teater. Ons weet wat om te doen op die plek waar ons ons op ’n gegewe oomblik bevind. Ons ken ons rolle, ons dra ons maskers, maak ons buigings, sit ons hoede op. Maar eintlik is ons nie regtig só nie – en agterná, privaat, alléén haal ons die maskers af en is ons steeds onsself – die akteur, die individu, die iemand, die self ágter die rolle. Só word gesê en geglo.
Maar deesdae, so voel vele kenners, is dinge dalk veel, veel erger. Dalk bluf ons onsself met dié geloof in die onverdeelde individu, sê dié geleerdes. Die pluralisme daar buite het reeds ’n pluralisme binne-in onsself ook geword, vrees hulle. En ons sien dit oral om ons. Die fragmentasie rondom ons het ’n fragmentasie van die hart geword. Nádat die rolle gespeel is, is daar niemand meer oor om huis toe te gaan nie. Ons hét geen ware, eie identiteit meer nie. Waar daar iemand moes wees, ’n individu, ’n onverdeelde self, is daar net fragmente, brokstukke, soos van ’n legkaart.
Ons weet nie wie ons is, van waar ons kom, waarheen ons gaan, of hoekom nie. Dis die post-moderne gevoel, sê mense. Die moderniste se geloof dat ’n individu alle verwarring en vrae in hom- of haarself kan byeenhou, word in ons tyd ontmasker as bygeloof, as selfbluf.
Nee, dis nie meer soseer dat ons skaam is om onsself in die spieël te sien, en daarom nie daarin wil kyk nie. Inteendeel. Ons kyk, sê Andy Warhol, die 20ste eeuse Amerikaanse kunstenaar en gevierde simbool van die postmoderne tydsgees – maar daar is niemand nie!
Legio
Vroeër is die storie vertel van ’n kêrel wat onder ’n padroller beland het. Hy is in die hospitaal opgeneem en lê in sale drie, vier en vyf. Deesdae pas dié storie dalk ewe goed by diegene wat erge postmodernisme onder lede het.
[16]Legio is mijn naam, noem die gesaghebbende Nederlandse etikus Frits de Lange sy boeiende boek oor “die pluralistiese self”, dit wil sê oor die talle hedendaagse swerwelinge wat nie weet wie hulle is, van waar hulle kom, waarheen hulle gaan of waarvoor hulle eintlik leef nie. Hulle weet dus ook nie volgens watter innerlike norme, waardes en oortuigings hulle hulself moet gedra as niemand hulle die slag dophou nie. Hulle is die “Legio’s” wat heimlik hunker na identiteit en integriteit, na iemand se gesig as hulle ’n slag in die spieël soek, maar tevergeefs.
Die titel van De Lange se boek ontleen hy aan die verhaal in die Evangelies oor Legio (wat “baie”, “ontelbaar” beteken), die besetene van Gerasa, ’n man wat verwilderd, gewelddadig en antisosiaal tussen grafte ronddwaal en gewone burgers die skrik op die lyf jaag. Ons lees dié aangrypende verhaal in Markus 5. Die bose gees wat die arme Legio só aanspoor tot vandalisme en selfvernietiging is die gees van verwarrende veelvoud, legio, van baie-name-en-gesigte-en-geeneen-is-sy-eie-nie, van ewige-verwarrende-verwilderende-nie-weet-wie-hy-is-en-van-waar-hy-kom-en-waarheen-hy-gaan-nie.
Dít is presies ook hoe talle sosiale teoretici die gees van óns tyd beskryf, nés Markus destyds al vir Legio beskryf het.
En wie koerant lees, sien dié talle tragiese verhale daagliks voor die oë afspeel. Op ons strate, ja, vir seker in die verwarde, leë gesigte van kinders sonder verlede of toekoms, maar ook in berigte oor vooraanstaande politici, suksesvolle sakelui, skitterende sterre – sien ons mense oënskynlik sonder integriteit, karakter, morele vorming; mense sonder ’n self, ’n persoonlikheid, ’n eie gesig. Opportuniste wat eenvoudig die oomblik aangryp soos dit kom. Onbetroubaar en beginselloos. Wat elke mantel wat hulle aantrek na enige wind kan laat wapper, nou só, netnou anders, nou saam met dié, dan saam met dáárdie.
Daar is in ons dag vir baie net té veel spieëls om in te kyk, te veel rolmodelle, te veel aansprake op ons. Ons aanskou te veel só-maak-mens-verhale, verneem van te veel uitnodigings, ja, verleidings om langs dié kortpad onsself te verryk of langs dáárdie ompad ons begeertes te bevredig.
Die morele vorming van mense met karakter en integriteit kom ook met die talle mens-maak-nié-so-nie-verhale van ons kinderjare. Maar as dié oral vervaag voor almal-maak-so-verhale raak samelewings koorsig. Want almal-maak-so beteken maar eintlik maak-net-wat-jy-wil en niemand-traak-’n-duit-nie en jy’s-dwaas-as-jy-nie-ook-so-maak-nie. En as dít aansteeklik raak, hiérdie koorsagtigheid, word ’n hele gemeenskap krank, met wat Søren Kierkegaard al in die 19de eeu met profetiese aanvoeling sou diagnoseer as ’n-siekte-tot-die-dood. Daarmee het hy bedoel die diepe wanhoop by die mens só op soek na ’n self, te midde van dreigende morele anargie in die samelewing om ons heen.
Nee, dis duidelik. Die arme pasiënt – platgetrap deur padroller of postmodernisme – hoort eintlik nie oor sale versprei nie, maar in intensiewe sorg! Of nog beter, in Intensiewe Sorg, in die liefdevolle sorg van dié Een wat ons elkeen by die naam roep, ons persoonlik ken, identiteit en waardigheid aan ons gee, ons roep met ’n roeping, ons omvou met liefde en gemeenskap, en ons déél maak van andere óm ons.
Redes
Die 2001-film A Beautiful Mind, oor die lewe van John Nash, die Princetonse wiskundige wat ’n Nobelprys ontvang ondanks erge skisofrenie, het talle bekoor en daar was algemene instemming dat dit die Oscar vir beste prent van die jaar verdien het.
Nash word daarin uitgebeeld as ’n briljante brein, maar ’n moeilike mens. Telkens erken hy self dat mense nie van hom hou nie; dat daar baie aan hom is wat ander vervreem en verskrik. Tog word sy lewe uitgebeeld – histories akkuraat of nie – as ’n innige liefdesverhaal tussen hom en sy vrou. Sy dra en verdra hom wanneer ander nie kans sien nie. Sy vertrou hom wanneer hy dit self nie meer kan of wil nie. Sy bemoedig en inspireer hom.
Trouens, die uitbeelding is sódanig dat ’n mens algaande wonder om wié se beautiful mind dit eintlik gaan!
Van hulle eerste ontmoeting af – hy as dosent, sy as student in ’n warm, raserige klaskamer – word sy uitgebeeld as iemand met dié vermoë wat filosowe sedert Immanuel Kant al die “praktiese rede” noem, met gesonde verstand, normale menslike wysheid, wat méér sien en méér verstaan as net feite en formules.
In ’n diepsinnige oomblik wil hy haar vra om te trou, maar hy twyfel – soos almal maar – oor liefde, en oor ander geesteswerklikhede, oor vriendskap, omgee, getrouheid, hoop, sin, geluk, skoonheid, verhoudings, noem maar op. Daarom vra hy haar om bewyse te lewer van haar vaste liefde vir hom. Hy soek rasionele sekerheid, sodat hy kan wéét en nie hoef te waag nie.
Hoe groot is die universum? wil sy dan van hom weet. Oneindig, sê hy. En hoe weet jy dit? vra sy. Het jy dit gemeet, geweeg, afgetree, gevoel, gesien? Nee, hy gló dit, bely hy. Nou, só is die liefde ook, sê sy. Só is die lewe. Só is menswees. Só