Stukkies van die hemel op aarde. Dirkie Smit
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Stukkies van die hemel op aarde - Dirkie Smit страница 2
Die boek is in die vorm van vyf briewe. Sy skryf aan haar kleinkinders, oor die vraag wie ons as mense eintlik is, sáám met ander en tog elkeen ook so ánders en uniek. Sy skryf aan haar oorlede moeder oor vrae in verband met geloof en oor God. Sy skryf aan ’n jare lange vriendin, oor liggaamlikheid, en hoe belangrik ons liggame vir ons alledaagse menswees is, en oor soveel liggaamlike lyding in ons land. Sy skryf aan haar kinders, oor sake soos swaarkry, treur en klag. En sy skryf aan haar geestelike raadgewer van baie jare, oor die praktyke van inkeer en gebed, waaroor hulle so baie sou dink en praat, en oor ons almal se persoonlike lewensreis. Vyf diep persoonlike briewe, maar tegelyk wonderlike lees- en nadinkstof vir enigeen: oor menswees, geloof, vriendskap, leed, gebed.
Aan die einde van haar boek volg ’n naskrif vir haar kleinseun. Net enkele paragrawe, kort, maar dis asof die hart van die boek hier klop.
Sy peins oor die Middeleeuse mistikus Juliana van Norwich se woorde: Alles wat is, sit opgesluit in ’n haselneut – hoe klein en gering ook al. Waarom? Omdat God die neut gemaak het en liefhet. Daarom is dit immers dáár.
In die neut, soos in alle kleine en onopvallende, alle gewone en vanselfsprekende dinge, skryf sy, skuil die geheimenis van die lewe, omdat dit deel in die geheimenis van God se ewige liefde.
Dis die lewe, as ’t ware in ’n neutedop.
Daarom is dít haar wens vir haar kleinseun: dat hy hom steeds sal bly verwonder aan die oënskynlik onbeduidende; dat hy die geheimenis van die eenvoudige sal bly bespeur; dat hy God se liefde in die alledaagse sal bly raaksien; dat hy waardering sal hê vir die grootsheid van die kleine.
Nou dís mos ’n wens vir iemand anders, of hoe, vir vriende, vir familie, vir mekaar, sommer vir onsself ook? Voorspoedige nuwe jaar, en mag dit vir ons ’n jaar wees van kleine dinge!
Roetine?
“Genadige God, my siel het geword soos ’n groot pakhuis waarin trokke dag vir dag hulle vrag kom aflaai, ongeorden en holderstebolder, totdat die hele ruimte van bo tot onder gevul is met onbenullighede, gemeenplase, nietighede, vervelende roetine. Leë woorde en sinlose aktiwiteit, oppervlakkige belange en die pretensie van belangrikheid vul my hart in ’n nimmereindigende stroom. Maar dit help nie om daarvan te ontvlug nie. As ek deur die dag by U wil uitkom, sal dit met ’n pad moet wees wat deur my doodgewone bestaan loop . . .”
Só begin die pragtige vertaling van ’n aangrypende gebed in [2]Die groot gebedeboek. Daaglikse gesprekke met God. Dis van die Katolieke denker Karl Rahner (bl. 32).
Hy sou die afgelope eeu oneindig veel daartoe bydra dat derduisende mense wêreldwyd weer die wonder van menswees ontdek. Gevierd en invloedryk, volgens baie die grootste Katolieke teoloog van die 20ste eeu, bly sy denke diep gewortel in mistieke vroomheidstradisies.
Hy skryf talle gebede en populêre geskrifte oor wat hy “die mistiek van die alledaagse” noem. Hy wou sy moderne tydgenote – gesekulariseer, ontnugter, sonder enige aanvoeling vir godsdiens, geloof en die kerk, eensaam vasgevang in hulle rasionalistiese, siniese ervarings van ’n lewe sonder God – probeer help.
Probeer help om te kan liefhê, om te kan glo, om te kan hoop en om te kan bid. Hy wou sy tydgenote help om die geheimenis van lewe te ontdek en te beleef, dié geheimenis wat hy God noem.
Ons vind die misterie van God nie buite ons gewone ervarings nie, maar juis daarin. Daarom skryf Rahner – soms diepsinnig, filosofies, met indrukwekkende geleerdheid, maar meesal eenvoudig, gewoonweg, vol verwondering – oor ons alledaagse roetine. Oor werk en slaap, oor eet en drink, oor sit en staan, oor enigiets.
Want God is juis deel van ons lewe, sê hy. Hy is vír ons en náby ons. As ons tog maar net kan leer luister, tog net kan leer om die fluisterings van die genade in die roetine van elke dag te hoor . . .
Heilig?
Die kuns van die lewe is om die buitengewone in die gewone te ontdek, die ewige in die alledaagse. Die geheim van menswees is om genade in die gewone te gewaar, verrukking in die vanselfsprekende. Om grootsheid in die kleine, majesteit in die eenvoudige, vreugde in die vertroude te leer vind, ja, om God in ons naaste raak te sien, naby ons, onder ons. Om ware heiligheid te leer herken.
Dis ook die geheimenis van die Christelike evangelie – en die aanstoot daarvan. Die Woord het vlees geword en onder ons kom woon, bely Johannes verstom (1:14). God het onder ons kom huis opsit, in ons tyd, sodat ons sy heerlikheid kan aanskou.
Natuurlik was dit vir mense tot aanstoot, van tóé af al. God se gestaltes onder ons beïndruk ons nie regtig nie. Ons sou sy teenwoordigheid eintlik so anders verwag. Johannes die Doper is skoon besete, kla hulle in die tye van die Evangelies al, totaal vreemd aan die werklikheid. En Jesus is weer te wêrelds, sommer ’n gewone vraat en wynsuiper (Matt 11:16-19).
Nee, God behoort darem ánders te lyk, ánders te kom, meen ons, meer herkenbaar, Goddeliker, heiliger. Hy moet wees soos óns sou verwag Hy moet wees.
Eeue lank sou die vroeë kerk met dié wonder en dié aanstoot worstel. Uiteindelik sou hulle dit stamelend bloot bely, sonder om dit te begryp: Die ewige God woon só onder ons. Só vind ons sy troos, hiér, onder ons, in ons huise, en rondom ons elke dag. Ons leef van die genade in die gewone. En só dien ons Hom, in die heiligheid van die hede.
As ons Christus wil dien, sê Luther, moet ons nie hemelwaarts hunker nie, maar rondom ons kyk. Hom nie dáár gaan soek nie, want Hy is hiér te vinde.
Maar dis vir ons tot teleurstelling en aanstoot. Hoeveel keer nie juis die rug op die evangelie vanweë sy alte menslike, brose gestaltes en getuies nie? Hoeveel vind dit nie moeilik omdat hulle Christenmense en die kerk te goed ken, te van naby, te veel onder die indruk is van die menslikheid van dié draers van die evangelie nie, ja, dikwels erger as vrate en wynsuipers!
Predikers, profete, pastore, priesters, pouse lyk, van naby bekyk, maar presies nes ons almal.
Hoeveel verlang nie ’n ánder belewenis van God nie? ’n Ander soort heiligheid, minder alledaags, meer Goddelik? Al moet hulle ver soek, hoog styg, lank wag, baie deurmaak?
Soos in die storie van ene mevrou Shapiro van Brookline, Massachusetts. In die Himalajas gaan sy op soek na die heilige wat bly op een van die mees ontoeganklike pieke. Ná talle weke van oneindige ontberings bereik sy einde ten laaste die plek. Maar ’n jong dissipel van die heilige sê hy is baie besig en sy kan hom eers vier dae later sien, om drie-uur die oggend. Intussen kan sy in ’n grot bly wag. Wat sy doen. Ondanks die geweldige koue, al moet sy op die klipgrond slaap, en al het sy slegs wilde bessies en koue jak-melk om te drink.
Ná ’n paar nagte kom haal die dissipel haar uiteindelik soos belowe na ’n ander grot. En daar sit die heilige inderdaad. Mevrou Shapiro stap summier nader, en sê: “Marvin, kom nou ’n slag huis toe!”
Nou, dáár is nou vir jou ’n regte soort heilige, of hoe?
Dié mevrou Shapiro?
Goeiedag!
Elke alledaagse groet was vroeër bedoel as seën. Elke omgangsgroet – of dit nou “Môresê!”, “Goeienag!”, “Tot siens!” of “Gelukkige nuwe jaar!” is – rus op die oortuiging dat niks vanselfsprekend is nie; dat ons almal afhanklik is van genade en goedheid.