Christine le Roux Omnibus 5. Christine le Roux
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Christine le Roux Omnibus 5 - Christine le Roux страница 5
“Was dit ’n ongeluk?”
“Blykbaar.” Dennis kom orent en skink vir hom ’n glas lemoensap uit die beker langs sy bed. “Een van daardie fratsongelukke. Hy het voor die hotel in sy stilstaande motor gesit. ’n Vragwa was besig om boumateriaal af te laai – ysterstawe en goed. Die hyskraan het gegly of ’n kabel het gebreek, die verpleegster is ook nie doodseker nie. Dit het in elk geval op die dak van sy motor geval net toe hy wou wegtrek en hy was vasgepen met ernstige kopbeserings – soos jy kan sien.”
Sy staan nog steeds na die man en kyk. “Ek is nie ’n dokter nie,” sê sy nadenkend, “maar in die stories wat ’n mens altyd lees oor sulke gevalle . . . behoort hy nie gestimuleer te word nie?”
Dennis gee ’n laggie. “Wat bedoel jy daarmee, sus?”
Sy gee hom ’n streng kyk oor haar skouer. “Sy brein moet wakker gemaak word. Hulle speel mos vir sulke pasiënte musiek en praat onophoudelik met hulle om hulle te probeer wakker maak. Mens lees gereeld van ouers wat geweier het om hulle kind se toestand te aanvaar en maande met die kind bly praat het tot die kind meteens wakker geword het. “
“Ja,” stem hy saam, weer ernstig. “Die verpleegster het dit ook genoem, maar vanselfsprekend het niemand hier die tyd om so iets te doen nie. Jy weet self: almal is oorwerk en dit net om na ons fisieke welsyn om te sien.”
“En hy het geen familie hier nie,” mymer sy. Sy tel sy hand op. Dit voel koud en leweloos. Swaar. “Meneer Ollsen,” sê sy, “jy is nie alleen nie. Daar is mense by jou wat jou wil help.”
“En wat,” vra ’n droë stem by die deur, “laat jou dink ’n Noorweegse toeris verstaan Afrikaans?”
Sy swaai om. Dis die dokter van die vorige middag en sy donker oë kyk haar sardonies aan.
“Die taal maak nie saak nie,” sê sy net so koel. “Solank hy weet daar is iemand hier.”
“Ons is hier.”
“En julle stel net in sy fisieke toestand belang.”
Sy wenkbrou skiet op. Hy stap nader en sy los die koue hand en retireer. “Ek het nie besef jy is ook ’n dokter nie,” sê hy.
Sy raak verbouereerd, maar wys dit nie. “Ek is nie ’n dokter nie. Ek is net jammer vir die man omdat hy niemand hier het om hom te help nie. Sy eie mense is so ver en –”
“Glo my,” knip hy haar kort en begin die gordyne toetrek. “Ons doen ons bes.”
Sy gaan sit stomend langs haar broer se bed, ’n diep frons tussen haar wenkbroue. “Wat ’n onplesierige man,” sê sy in ’n fluisterstem vir Dennis. “Die arme Kurt gaan nooit sy bewussyn herwin met so ’n dokter nie.”
Dennis lyk hoogs geamuseer, maar druk sy vinger teen sy lippe om te wys die dokter kan haar hoor.
“Bog!” sê sy, nog steeds ontstoke. “Ek gee nie om of hy my hoor nie. Ek is vreeslik bly jy het nie jou kop seergemaak nie, Den, anders was jy ook seker een van sy pasiënte. Hy is ’n voorbeeld van die soort dokter van wie ons in sielkunde geleer het. Die soort wat dink die liggaam is belangriker as die psige.”
Dokter Hofmeyr kom agter die gordyn uit en trek dit weer oop. “A,” sê hy met sy rug na haar. “Jy het dus sielkunde bestudeer. Ek staan terug voor soveel kennis.”
Sy wil stik van woede, maar kan nie ’n woord uitkry nie.
Net voordat hy teen sy gewone spoed by die deur uitloop, knik hy in die rigting van sy pasiënt. “Daar is jou pasiënt, juffrou,” sê hy met ’n stem wat kookwater sou kon laat vries. “Leer vir hom Afrikaans.”
Sy staar na die deur, haar mond halfoop. “Die vermetele . . .” begin sy.
Dennis druk sy hand teen sy maag, maar kan nie ophou lag nie. “O aarde!” hyg hy. “Dis ’n goeie ding my wonde het byna alles geheg anders moes ek nou van voor af steke kry. Jy het daarvoor gesoek, Nico. Dokter Hofmeyr is een van die mees vooraanstaande neurosjirurge wat ons het en jy het hom pas vertel hy weet nie wat hy doen nie. Wat verwag jy?”
Sy staan op, loop doelgerig terug na die lewelose figuur en tel sy hand op. “Meneer Ollsen,” sê sy ferm, “moet jou nie steur aan jou onsimpatieke dokter nie. Ek is hier en ek sal met jou praat.”
Dennis kyk nadenkend na haar. “Ek dink nie dit kan kwaad doen nie,” merk hy op. “Maar ek moet met dokter Hofmeyr saamstem: jy gaan wraggies nie tot hom deurdring as jy met hom praat in ’n taal wat hy nie verstaan nie.”
Sy draai haar kop en kyk hom streng aan. “Ek ken nie Noorweegs nie, watse keuse het ek? Solank hy net iemand se stem hoor, iemand se aanraking voel.”
Op daardie oomblik kom Rosa in. Sy kyk verbaas na Nicoline terwyl sy oor Dennis buk en hom soen. “Wat maak sy?” vra sy vir hom.
Hoogs geamuseer vertel hy haar wat pas gebeur het. “En moenie dink Nico voel skuldig of beskaamd nie,” eindig hy. “Die dokter was skaars uit toe hou sy weer die man se hand vas.”
Rosa staan skigtig nader, kyk af na die man. “Sies tog, die arme mens! Besoek niemand hom dan nie?”
Dennis bring haar vinnig op die hoogte van alles wat hy die vorige aand by die verpleegster gehoor het.
“Dis vreeslik,” sê Rosa. Sy is dadelik die ene simpatie. “Dit moet swaar wees om in so ’n toestand in die vreemde te lê met niemand om by jou te wees nie.”
“Ék is nou hier,” sê Nicoline. Sy buig laer af sodat haar mond by sy oor is. “Hoor jy my, Kurt? Ek is nou hier.”
Die ander twee bekyk haar in stilte. Dennis spot nie meer nie, hy loer deur nougetrekte oë na haar. Dan is dit asof hy tot verhaal kom, sy gesigsuitdrukking verander en sy oë word weer tergend. “Jy sal Noorweegs móét leer, Nico.”
“Moenie met haar spot nie,” kom Rosa tot haar hulp. “Kyk, as hy deur die land getoer het, soos die verpleegster sê, moet hy ten minste Engels kan praat. Hoe anders het hy reggekom?”
Nicoline trek die stoel nader, haar rug word seer om so ongemaklik gebuig oor die bed te staan. Sy gaan sit sonder om Kurt se hand te los en slaan met die grootste gemak oor in Engels. Sy werk nie verniet al byna agt jaar by meneer York nie.
“Ek sal jou vertel hoe dit hier lyk,” sê sy. “Dis ’n regte Transvaalse herfsmiddag. Jy sal natuurlik nie weet of dit tipies is of nie, aangesien jy net ’n besoeker is. Die son skyn, dis droog, maar daar is ’n byt in die lug. In jou land het dit seker al begin sneeu. Nee, natuurlik nie. By julle word dit nou lente. Jy lê in ’n kamer wat maar doodgewoon is.” Sy kyk krities om haar rond. “Liggroen mure, witterige gordyne. My broer lê op die bed langs jou. Hy’s ’n prokureur en so ’n toegewyde een dat hy nie kon ophou lees toe hy by sy kantoorgebou uitgeloop het nie. Hy is omgery.” Sy kyk vinnig na Dennis, haar oë vol lagduiweltjies. “Ja, ek weet dit was dom. Ons het almal so gedink. Hy is nietemin ’n gawe man en ek is seker as jy nie bewusteloos was nie, het julle lekker gesels, want hy is al baie verveeld met sy bestaan hier. Maar jy sal moet opskud, hy gaan volgende week huis toe. As jy ’n gesels wil inkry, moet jy vinnig wakker word.”
Die verpleegster wat dokter Hofmeyr die vorige