Uit die beek 2014. Attie van Wijk
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Uit die beek 2014 - Attie van Wijk страница 1
Uit die
Beek
2014
Attie van Wijk
Lux Verbi
Voorwoord
Baie welkom by nog ’n jaar van saam luister na die Woord van God. Ons sal om die beurt ’n boek uit die Ou Testament en die Nuwe Testament bestudeer. As jy al vyf jaar in die siklus saam met ons gestap het, het jy al 66 boeke in die Bybel van voor tot agter deurgelees. Dit is daarom belangrik om ook die aand-gedeelte elke dag te lees.
Gebruik asseblief die Gebedsgids in hierdie boek om jou te help om elke dag sinvol voorbidding te doen, sonder om in dieselfde rympie te verval.
Ds. A.J. van Wijk sr. het in 1925 begin om hierdie oordenkings te skryf. Sedert 1927 is dit Uit de Beek genoem, na aanleiding van Ps 110:7 in die Nederlandse Bybel: “Hij zal op den weg uit de beek drinken; daarom zal Hij het hoofd omhoog heffen.” ’n Beek is natuurlik ’n bergstroompie. Die gedagte is dat ons onsself elke dag moet verfris by die vars water van die Woord vir die dag wat voorlê. Sedert 1929 is hierdie oordenkings in Afrikaans geskryf, wat Uit die Beek die oudste Bybeldagboek in Afrikaans maak. Hierdie is die 89ste uitgawe daarvan. En ons sal sien dat die Bybel elke dag byderwets, nuut en vars is. Die huidige skrywer is ’n kleinseun van die oorspronklike skrywer. Sy e-posadres is [email protected].
In die Ou Testament lees ons vanjaar deur Eksodus, Rigters, Esra, Nehemia, Prediker, Jeremia en Sagaria. In die Nuwe Testament lees ons deur Markus, 1 en 2 Korintiërs en 1 en 2 Petrus. Sondae lees ons soos gewoonlik uit die Psalms. Ons sal agterkom hoe aktueel selfs die minder bekende Bybelboeke vir ons daaglikse lewe is.
Dié dagboek is geskik vir jou persoonlike stiltetyd, en ook om tydens huisgodsdiens te gebruik. Om daarmee te help gee ons elke dag ’n geselsvraag om die gesin te betrek. Dit sal julle help om die Skrifgedeelte elke dag op julself toe te pas.
Mag hierdie jaar vir jou ’n besondere tyd van geestelike groei wees, sodat jy die Here sal leer ken soos Hy werklik is! Bou elke dag aan jou verhouding met Hom!
Sake vir daaglikse voorbidding
Sondag: Die uitdra van die evangelie
Dat elke prediker deur die Heilige Gees vervul sal wees
Dat die hoorders daders sal word
Dat gelowiges toegerus sal word vir die week
Dat ongelowiges tot geloof sal kom
Vir die vertaling en verspreiding van die Bybel
Maandag: Opleidingsinrigtings
Dat elke dosent en onderwyser Christus sal verheerlik
Dat elke leerder kwaliteit-onderrig sal kry
Dat dissipline herstel sal word
Dat die jeug reg gevorm sal word
Dat dosente en onderwysers geesdriftig sal volhard
Dinsdag: Die jeug
Dat ouers die regte voorbeeld sal stel
Dat kinders die Here tuis sal leer ken
Dat kinders groepsdruk sal weerstaan
Dat kinders die regte keuses sal maak
Dat kinders mekaar na Jesus sal lei
Woensdag: Owerhede
Dat ons leiers die Here sal leer ken en volg
Dat die regering die regte besluite sal neem
Dat die parlement God sal verheerlik
Vir die veiligheidsdienste, polisie en weermag
Dat misdaad en korrupsie uit ons land sal verdwyn
Donderdag: Sending en getuienis
Vir ’n sendingvisie en -passie by elke gelowige
Vir jul sendelinge en hul gesinne by name
Dat Christene die Woord vreesloos sal uitleef
Dat die Gees harte sal voorberei en verander
Vir die nodige finansies vir die werk
Vrydag: Diens van barmhartigheid
Vir kundige hulp aan werkloses en armes
Vir bevryding uit die armoedespiraal
Vir die inrigtings wat mense probeer help
Vir die nodige finansies hiervoor
Vir elkeen wat in beproewing verkeer
Saterdag: Herlewing
Dat elke Christen die Here sal ken en gehoorsaam
Dat God op elke vlak van die lewe verheerlik sal word
Dat die Heilige Gees kragtig sal werk
Dat die kerk ’n verskil in die wêreld sal maak
Dat ons gereed sal wees vir die wederkoms van Christus
Welkom by Eksodus!
Skrywer:
Dit is deel van die Tora, die boeke van Moses.
Eerste lesers:
Die Israeliete op pad van Egipte na die beloofde land.
Datum:
Tussen 1445 en 1405 v.C.
Doel:
Om die ontstaan van die volk Israel te verduidelik.
Om die Paaslam as simbool van verlossing te verduidelik.
Om die dwaasheid van afgodsdiens te beklemtoon.
Hooftrekke:
Die geboorte en roeping van Moses (1:1 – 4:31).
Die tien plae (5:1 – 11:10).
Die Paasfees en die uittog (12:1 – 15:21).
Die reis van die Rietsee tot by Sinai (15:22 – 18:27).
Die