Liefde is vir altyd. Daniël Johannes Louw

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Liefde is vir altyd - Daniël Johannes Louw страница 6

Liefde is vir altyd - Daniël Johannes Louw

Скачать книгу

grond van onvervulde behoeftes en emosionele frustrasies wat pla.

      Hierdie N.T.-lyn is so gevaarlik omdat jy hier op die punt staan om die beginsel van duursaamheid en permanensie in te boet omdat jy jou eie posisie in die huwelik as onuitstaanbaar ervaar. In hierdie stadium kan negatiewe emosies – weerstand teen jou maat of die pyn van verwerping – die oorhand kry en die huwelik prysgegee word aan die verder verbrokkelende proses van vervreemding en afstand.

      Wie op die N.T.-lyn van die huwelik staan, moet dus waak teen die gevaar om emosies normatief te maak vir die “sukses” van die verhouding self. Gevoelens is te wisselvallig om as betroubare maatstaf te dien. Om ’n verhouding te laat werk, hoef ’n mens nié noodwendig goed oor en geborge in die verhouding te voel nie. Nieteenstaande negatiewe emosies kan daar steeds bindende faktore wees wat die verhouding dra. Dit is hier waar die geloofsperspektief ’n motiverende rol kan speel en die huwelik steeds ’n bindende faktor bly. Veral as albei huweliksmaats besef dat emosies nie deurslaggewend is vir die sukses van die verhouding nie, maar wel geloof in die trou en liefde van God.

      Dit mag wees dat jy op die N.T.-lyn van die huwelik staan en waardeloos en onaanvaarbaar voel, maar dit onthef jou nie van jou verantwoordelikheid teenoor die huwelik self nie. As gelowige moet jy steeds glo dat jou lewe op grond van die beloftes van God in Christus waardevol en kosbaar is. ’n Vrou wat verworpe voel in haar verhouding met haar man, kan hom steeds aanvaar en na hom uitreik – as sy glo dat haar huwelik ’n guns van Gods genade is. ’n Man wat bedreig voel deur sy vrou of gefrustreerd is in sy verwagtinge van die huwelik, kan haar steeds, ondanks haar negatiewe optrede en reaksies, in liefde onvoorwaardelik aanvaar – as hy glo dat hy deur God tot die huwelik geroep is. Op die N.T.-lyn van die huwelik is God se troue liefde die waarborgfaktor, onafhanklik van die vraag of jy so daaroor voel. Dit beteken nie dat God se liefde ’n soort strooisuiker oor onaanvaarbare houdings en liefdelose gedrag is nie. Geloof in hierdie opsig “bedek” nie alles nie, maar bring alles juis aan die lig. God se liefde werk egter soos ’n periskoop. Dit laat jou om die doodloopstraat van lustelose, ongemotiveerdheid en opgekropte emosies kyk met die vraag: watter moontlikhede is daar nog oop om die verhouding te laat werk? Hoe kan ek my houding en gesindheid verander? Dit versterk motivering wat dan nie negatiewe emosies en destruktiewe gedrag as die norm gebruik nie, maar wel verantwoordelikheid en konstruktiewe besluitneming.

      As ’n mens toelaat dat onbevredigde emosionele behoeftes jou verstrik, begin jy voorwaardelik optree. Jy dink: ek sal verantwoordelikheid vir ons huwelik aanvaar, maar dan moet my maat eers my emosionele behoeftes vervul. Jy besluit om jou maat eers dop te hou om te sien of hy of sy aan jou verwagtinge en/of voorwaardes voldoen. Jy speel ’n kat-en-muis-speletjie: “As jy … dan sal ek.” Misluk jou maat dan in hierdie wag-en-kyk-speletjie, onttrek jy jou aan die verhouding. Wat is dit anders as ’n magspel? Besef jy dat jy, deur voorwaardes te stel, jou maat in ’n posisie plaas om nie daaraan te voldoen nie en dus dinge waaraan jy ’n behoefte het van jou te weerhou? Dié “mag” wat jy sodoende aan jou maat toeken, stel hom of haar in staat om jou te vernietig. In die proses raak julle opponente van mekaar en sluip gevoelens van angs, onsekerheid en verwerping die verhouding binne. Nou begin behoeftes so ’n belangrike rol in jul verhouding speel dat die saak van jul verantwoordelikheid teenoor die huwelik verlore gaan.

      Die vraag duik nou op: maar gaan dit dan nie in die huwelik om die gevoel van liefde en die sensasie van “ai-dit-is-baie-lekker” nie? Liefde, hou van, verlief wees, omhelsing, liefkosing en seksualiteit moet tog immers aangenaam en lekker wees?

      Die behoeftepool (omdat) en saakpool (sodat) van die huwelik

      Dit wat ons “die huwelik” noem, behels meer as net lekker saamleef en hou van mekaar. Huwelikstrou en huweliksliefde is ten diepste ’n etiese daad van toewyding aan mekaar. Dit beteken: ek het vir my maat JA gesê en mag nooit weer NEE sê nie. Jy kan natuurlik nee sê as jy wil, maar jy behoort nie. Dit is die uitdaging van huwelikstrou. Verhoudingsvolhoubaarheid is direk afhanklik van die integriteit van trou sweer en die beginsel van “my woord is my eer”.

      Die raamwerk vir dit wat ’n mens die spiritualiteit en Christelike karakter van die huwelik kan noem, beskryf wat bedoel word met verhoudingsvolhoubaarheid. Nes ’n nasionale pad ’n roetekaart het met heelwat bordjies om mense in te lig oor die roete sodat die roete sinvol voltooi kan word, besit die huwelik twee sulke roetebordjies: die sodat-rigting en die omdat-spoed. Die roetebordjies beskryf die twee pole van dit wat ’n mens ’n Christelike huwelik noem.

      Elke huweliksverhouding bestaan uit twee pole:

      (a) Daar is die behoeftepool,. Die behoeftepool kan ook die omdat-pool van die verhouding genoem word. Omdat ons mekaar liefhet en van mekaar hou; omdat ons aangetrokke tot mekaar voel …

      Die behoeftepool werk soos vonk in sjampanje en soos rek in kougom. Konstruktiewe behoeftes en sinvolle behoeftevervulling saam met realistiese verhoudingsverwagtinge skep ’n ruimte van omgee vir mekaar. Wanneer iemand aanvaar en begryp voel in ’n verhouding, skep dit ’n gesindheid van deel (sharing) en behoort aan. Dit dra by tot ’n houding van plooibaarheid. Dit verskaf soepelheid wat nodig is vir opofferings en begrip vir mekaar. Die behoeftepool word verder onder andere bepaal deur elkeen se rolverwagtinge en ideale vir mekaar. Hierdie pool is herkenbaar aan uitdrukkings soos die volgende: Ek verkies dat jy …, Ek hou daarvan as jy …, Ek wil hê dat jy …, Ek verwag van jou …, Ek voel in jou teenwoordigheid …, Dit is vir my lekker en aangenaam as jy …, Ek wil graag vir jou …

      (b) Dan is daar ook die saakpool. Die saakpool kan ook die sodat-pool van die huwelik genoem word. Sodat ons twee saam die volgende deur ons verhouding kan bereik … Sodat ons mekaar kan liefhê. Of, soos in die geval van gelowiges: sodat ons God in en deur ons verhouding kan verheerlik; sodat ons ander mense se lewens kan verryk en na ander se nood en behoeftes kan uitreik.

      Die saakpool werk soos ’n anker, boei en kompas. Dit bind vas, red en gee koers en rigting aan die verhouding. Benewens die feit dat sekere behoeftes in ’n huwelik vervul word, is die Christelike huwelik ook ’n objektiewe, etiese saak. Die saakpool van die huwelik hou verband met die vrae: Wat is liefde en hoe behoort ’n mens in die huwelik op te tree? Wat is huweliksmaats se verantwoordelikheid teenoor mekaar? En as julle werklik toegewy is aan God, duik die vraag op: wat is God se wil vir die huwelik?

      So sê die Bybel byvoorbeeld dat die Christelike huwelik onverbreekbaar is (Matt 19:6), en dat huweliksmaats wederkerig aan mekaar onderdanig/diensbaar moet wees uit eerbied vir Christus (Ef 5:21). Christene weet dat die huwelik nie net van “binne-faktore” afhanklik is, byvoorbeeld die willekeurigheid van emosies en die wisselvalligheid van seks nie. Daar is ook ’n “buite-faktor” ter sprake. Van “buite af” word ’n mens vasgehou deur die troue liefde van die Here; van “buite af” word ’n mens aangespoor: hê mekaar lief soos Christus. Daarom is ’n huweliksluiting tussen twee gelowiges eintlik ’n verbondskontrak wat bindend vir albei is solank hulle lewe.

      Die saakpool is nou gekoppel aan die kerk. Die Bybel gebruik vir die kerk die beeld van die liggaam van Christus. Wat dus vir die liggaam van Christus geld, geld ook vir alle menseverhoudings. So byvoorbeeld sê Paulus in Kolossense 3:14: “Bo dit alles moet julle mekaar liefhê. Dit is die band wat tot julle tot volmaakte eenheid saambind.” Die mekaar-tekste in die Bybel is ’n aanduiding van die verlossingsfeit: Christus het met my plekke omgeruil en in my plek gesterwe. Die vir-mekaar is nou op tussen-menslike vlak die neerslag van die heilsfeit: Christus het my verander en my met God versoen. Alle menseverhoudings, veral binne die gemeenskap van gelowiges, moet op hierdie model geskoei wees. Daarom dat mens kan sê dat die huwelik soos ’n mini-gemeente werk: ons doen aan mekaar en leef saam met mekaar op die beginsel van die versoeningsmodel. Ons is dus bereid om gereeld plekke met mekaar om te ruil; ruimte vir mekaar te maak; mekaar onvoorwaardelik te aanvaar en te vergeef. Met verwysing na Kolossense 3:15 kan ’n mens sê dat die huwelik

Скачать книгу