Klawerjas. Adam Small
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Klawerjas - Adam Small страница 3
En ook, my Kaaps leef voort in die musiek van
hierdie nuwe verse, die paring van en speel
met binne- en buiteryme. Só bly die
Krismisbands en -kore, van tye her en nou,
in hierdie nuwe werk se landskap sing,
sing, sing en stap.
Damwal
Ek is half stomgeslaan
maar sit my nie teen,
probeer nie die damwal keer wat breek:
die water vat my heen.
Dis soos by Goree naby Robertson waar
ek ’n klein knaap was en bang, maar kordaat
nie weggeskram het van die sluis van die
oorvol plaasdam nie, dit aangedurf het,
en die water angstig sien kóm het,
die water,
die water.
Aan my skrywersvriende
Ek het Elsa Joubert laat weet ek was
lank stil, maar dat my woorde
nou weer kom,
en sy was daaroor bly.
Vir Antjie Krog het ek dit ook laat weet,
en sý was bly.
En ek het my skrywersvriend
Braam de Vries laat weet. Hy was
eweneens bly.
Ander kollegas het ek nie laat weet nie
maar is seker húlle ook was bly: André
wat aldeur waarderend was van my werk;
Joan Hambidge, met haar waardering
vir Kanna; en Breyten was kennelik bly.
Soos hy vroeër geskryf het: “… aan die einde
van die dag … is Adam Small … die man
wat van ons taal … ’n lokasie, dus ’n
plaaslikheid … universaliteit gemaak
het. Die poësie is dieper as die mond,
en met baie tonge.”
Breyten het my werk van die verlede só
goed verstaan. Nou, sê ek hom egter,
beweeg ek in ietwat anderste bane, en kom
ek deur ’n heelwat vreemder doeane
– alhoewel, op my Odysseus-reis, my hand
van indertyd duidelik genoeg wys. En
wat ek nou ook aan te bied het, laat ek as
’n barakat aan my vriende, ’n toegif,
vrygewend, van geseënde kos,
uit ’n liefdevolle hart.
En ek steek by die begin van hierdie laaste
of voorlaaste reis my mooiste kers op
vir my vriende en hoop die vlam brand
lank genoeg om my die tyd te gun wat ek
nodig nog sal hê om enkele groot dinge
in my leser se skoot te lê.
El sal ook nie nalaat om my padkos
en pak kaarte saam te neem nie, om myself
op die oorblywende weg en weë te vermaak
met die speel, waar ek ook mag aankom,
van Klawerjas of Solitaire.
Op reis
’n Man is ek nou van amper sewe-en-sewentig, ja,
en steeds op reis. Op my trek tot nou het ek
medemense ontdek, en doen dit steeds, sommiges
boordevol smart en pyn, gemene haat en hoon,
ander vol liefde, erbarming, vreugde en geluk:
elkeen, haal na haal, taal na taal, op soek na
sy eie heilige graal.
As digter hoop ek om langs hierdie pad nóg
’n werk te skryf soos Kanna: strak, presies,
gestroop tot op die been. Met versugting
dink ek seker dis nie meer moontlik nie.
Nou wend ek my, beskeie maar,
tot hierdie verse.
Reis laat my dink aan Dirk Opperman. In sy
Bamboesboek is hy verbeeldingryk op pad,
as Marco Polo, na Kammaland. Aan die ander kant:
Ek is ook op reis, God weet, na ’n kontrei, inheems
egter, ’n binneland selfs vérder weg. Jawel, ek word
in die proses verniel, maar beur tóg voort na die
bestemmingshawe van die eie siel.
Maar luister tog, ek het nog glad nie bes gegee, hou
obsternaat aan hoop. Sê maar, sê maar ek skryf tóg
nog ’n stuk wat ons aan Kanna kan meet. Dit sou Maria
heet. Hier dink ek nou tweeduisend jaar en meer
terug aan die “nooi uit Nasaret”. Dis ’n grootse tema,
haar verhaal, ’n heroïese opset inderdaad. Die storie
is bekend, ondanks, natuurlik, dat soveel Christene,
willens en wetens, hulself van die waarheid omtrent
die slim Jodinnetjie verskans. Dis tog klinkklaar