'n Lipstiek-lewe. Kristel Loots
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу 'n Lipstiek-lewe - Kristel Loots страница 2
“Ek hoop so. Ek is vasbeslote om nooit sonder my lipstiek betrap te word nie. Iets moet ek doen sodat ek nie heeltemal in die niet verdwyn nie.”
“Jy, my liewe Roxy, kán nie in die niet verdwyn nie, al probeer jy ook,” verseker Petra haar.
Roxy knyp die gehoorbuis met haar skouer teen die oor vas sodat sy haar met haar arms bo haar kop lank en lekker kan uitrek. “Nou toe,” jaag sy aan. “Wens my nou geluk en kry klaar sodat ek kan opstaan. En met my lipstiek-lewe kan begin.”
“Ek wens jou toe ...” Roxy hóór sommer hoe bewoë Petra raak. Haar oë lek mos vir elke ou bakatelletjie. “Ek wens jou ’n jaar toe waarin jou lipstiek van jou lippe af gesoen sal word.”
Maar daarvoor, weet Roxy, is die kanse skraal.
Hoofstuk een
Teen tienuur die aand gee Roxy moed op – die Duitser gaan nie ’n tweede poging aanwend om haar in die bed te kry nie. Het natuurlik besluit sy is nie die moeite werd nie. Daar’s baie ander gewillige visse in die Kaapse see en sy wat Roxy is, is te veel van ’n piranha. Sy vakansie in Suid-Afrika is amper verby en ’n man moet skep terwyl dit pap reën, weet jy?
O, hy sal wel ’n verskoning hê wanneer sy die toergroep op die lughawe gaan wegsien en hulle mekaar noodwendig weer in die oë moet kyk.
Wat sal dit hierdie keer wees? Een van die standaardstories of dalk iets veel meer kreatief?
Wat van ’n virus? Hy’t die een of ander virus op die lyf geloop, een wat binne vier en twintig uur weer die wyk geneem het.
“ ’n Virus op die lyf geloop?” sal sy ewe sarkasties vra. “Wat was haar naam? Was sy blond?”
Sy kan raai wat sy antwoord sal wees. Nee, nee, dis nie so nie. Hy wou bel, maar hy’t Roxy se nommer verloor.
Maar hy het dit dan soos goud in sy selfoongeheue bewaar.
Die ... die hond het die selfoon ingesluk.
Bla, bla, bla ... Roxy ken elke verskoning in die boek, het dit al tot vervelens toe gehoor.
So sal hulle al in die rondte dans, ás sy natuurlik in ’n bui is vir ’n bekgeveg om hom ’n bietjie te laat sweet voordat sy hom loslaat. Hy sal wel weer teruggaan na die een of ander Duitse godinnetjie in München of Berlyn of waar sy haar ook al bevind.
Of sy kan haarself die ergernis spaar en sommer kortpad vat deur eenvoudig ’n streep deur sy naam te trek.
Waddehel ís die blikskottel se naam nou weer? Heinrich? Seker maar. Elke tweede Duitser wat sy ken, is ’n Heinrich. Nee, nou onthou sy – dis Dieter. Dieter een of ander iets. Blonde reus, Viking-lyf aan hom. Aantreklik genoeg, maar sy wou nogtans nie sy skoene onder haar bed hê nie. Sy het dit nie eens oorweeg nie – daarvoor was daar hopeloos te veel hare op sy hande. Sulke lang, wollerige goudblonde handhare. Jig!
Ja, sy weet. Haar uurglasie loop leeg, sy behoort seker nie so vreeslik kieskeurig te wees nie. Maar haar lyf het nog nie die boodskap gekry nie. Haar lyf het toegevou soos die blare van ’n koolkop die oomblik toe die Duitser haar met sy harige hande begin streel het. Buitendien – sy vermaak haar bloot met die buitelanders wat vir ’n week of wat ’n draai in die Kaap kom maak. Dis een van die byvoordele daarvan om vir Tafelberg Toeriste te werk. Noem dit ’n stokperdjie, noem dit navorsing, ’n ondersoek om vas te stel of dit waar is dat alle mans inherent dieselfde is – noem dit wat jy wil, sy gee nie om nie. Sy geniet dit.
Sy weet wat sy wil hê, wel ... so min of meer in elk geval. Sy soek ’n man met sy wortels hier in die land, een wat pantoffels sal dra en saans voor die televisie op die regering sal sit en vloek met ’n hond by sy voete. Nie iemand wat elke Oktober met ’n groot verlange in sy hart en ’n groter dors in sy keel die pad gaan vat om in sy vaderland fees te vier en bier te drink nie. Die Duitser was, soos soveel ander, sommer iemand om haar in oefening te hou omdat daar nie ’n geskikter kandidaat vir ’n verhouding op langer termyn beskikbaar was nie.
O wel, besluit sy gelate. Another one bites the dust.
Sy rol haar oë, al is daar niemand om dit te sien nie.
Sy wat Roxy Roux is, is veronderstel om ’n volbloed-flerrie te wees. Dis wat almal van haar sê. En nie net sê nie, glo ook! Haar vriendinne, die paar wat dit nog naby haar waag saam met hul skrikkerige mans of verloofdes, selfs haar suster en die ordentlike man met wie sy getroud is, al haar niggies wat haar ook nie naby hul simpele nat agter die ore kêreltjies wil loslaat nie, haar kollegas, die slagter, die bakker, die buurman en sy vrou en al húl vriende ook.
En natuurlik haar ma. Haar ma wil ’n hartaanval kry omdat sy nie haar hande van mans af kan hou nie, maar Roxy probeer om nie te bekommerd oor haar ma se hart en ander aanvalle te wees nie. As sy nou nog nie haar ma se hart tot stilstand geskok het met haar dinge nie, sal sy dit beswaarlik nou regkry vandat sy op die afdraande pad is.
Eintlik weet Roxy nie of sy moet lag of huil oor hierdie wanopvatting nie.
Sy’s nie ’n goeie meisie nie, dit weet sy. Lankal. Sy was nog nóóit ’n goeie meisie nie, nie eens op skool nie. Haar suster met die ordentlike man is een. Haar ma en al haar vervelige tannies ook.
Maar sy’s nie so seker van haar ouma nie. Daar kom so ’n warmtetjie om haar hart as sy aan Oumalot dink. Hoe sal dit met die ou girl gaan? wonder sy. Sy met haar Engelse spreekwoorde vir elke moontlike situasie in die lewe! Life is just a bowl of cherries; love is blind and don’t teach your grandmother to suck eggs. Deesdae ruik Oumalot na ou mens en smeersalf, maar Roxy wil wed daar was ’n tyd toe sy kon hoogskop saam met die beste, of die slegste, van die hoogskoppers.
Nie dat iemand daarvan sal weet nie. Nee, Oumalot se skandes, as daar was, sal verswyg word. Dit sal een van die dinge wees wat in die Pandora-boks weggesteek word, dig toegemaak onder dekade lange stiltes. Kyk, hulle Rouxs weet alles van geheime af, hulle hou geraamtes in ’n kas so groot soos ’n kamer, een waarvan die sleutel in die diepsee gegooi is. Hulle bly al ’n leeftyd lank in ’n huis vol geheime en weet om nie te gaan krap selfs waar dit jeuk nie. Dáárvan weet Roxy alles – het sy dan nie self mildelik bygedra tot die doodsbeendere van die verlede wat tussen die vier mure van haar ouerhuis opgegaar en met stilswye verberg word nie?
Roxy kreun hoorbaar. G’n wonder almal sien haar vir ’n flerrie aan nie. Die etiket hang nou wel nie openlik om haar nek nie, maar sy straal heel moontlik ’n aura uit wat dit verkondig dat sy nie edel van inbors is nie. Sy’s enige skoonma se nagmerrie, een van die vroue teen wie welmenende mammas hul seunskinders sal waarsku.
“Bly weg van ’n vroumens soos daardie, boetie. Een keer sleg, altyd sleg!” G’n wonder sy het geen kans om ’n ordentlike man te kry nie.
Wie wil in elk geval ’n ordentlike man hê? brom Roxy teenoor die mure om haar. Om wát mee te maak?
Iemand soos sy sal beswaarlik tuis voel by ’n ordentlike man. Sy sal settle vir enige man, veral as hy van honde hou. Ordentlik al dan nie.
Roxy wip soos sy skrik toe haar selfoon lui. Sowaar, as dit die Duitse swernoot is, gaan sy hom sy fortune vertel.
Maar dis toe nie die Duitse swernoot nie. Hy voel vere vir haar wat soos ’n opgewende hasie hier vir hom sit en wag in haar Queenspark-bloesie wat haar kredietkaart ernstige skade berokken het. Vir hom is sy nie eens ’n telefoonoproep werd nie. Hy’t finaal besluit om nie sy sjarme te verspil op