Kobra. Deon Meyer
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Kobra - Deon Meyer страница 16
“En toe voel jy te sleg om nee te sê.”
“Nee, Dok, ek wou.”
“En nou slaap jy by die kantoor omdat jy bietjie alleen wil wees?”
“Dis min of meer …”
“Jissis, Griessel, jy’s ’n swaap.”
“Ja, Dok.”
“Het jy jou woonstel opgegee?”
“Ja, Dok.”
“’n Swaap én ’n aap.”
“Ja, Dok.”
“Jy weet wat die regte ding is.”
“Nee, Dok.”
“Jy weet, maar jy wíl nie weet nie. Jy moet met haar gaan sit en praat. Jy moet vir haar sê jy soek jou ruimte. En dan gaan sy bedreig en onseker voel, want sy is ’n arties. En sy gaan wonder of jy regtig lief is vir haar. En sy gaan begin huil, en sy gaan na die bottel gryp, en dan voel jy verantwoordelik. Dis die probleem. Jy sien nie kans vir al daai dinge nie. Jy was nog nooit baie goed met konflik nie.”
“Fok, Dok.”
“Nou sê vir my, hoe lank het jy gedink kan jy by die kantoor slaap voor dit komplikasies begin veroorsaak?”
Griessel staar grond toe.
“Jy het nie gedink nie, het jy?”
“Nee, Dok.”
“Hoekom is jy hier, Bennie? Want jy het presies geweet wat ek gaan sê.”
“My B.O. het gesê ek moet kom.”
“Het jy vir hom gesê jy suip nie?”
“Ek het probeer, maar …”
“Wat gaan jy doen?”
“Ek weet nie, Dok.”
“Jy sal iéts moet doen.”
“Alexa gaan môre Johannesburg toe, tot Donderdag. Ek sal dink, Dok. As sy terugkom …”
Dok Barkhuizen kyk vir Bennie onder die dik wenkbroue deur. Dan sê hy: “Jy weet ons is persoonlik verantwoordelik vir vyf-en-negentig persent van die moeilikheid in ons lewe.”
“Ja, Dok.”
“Wil jy hê ek moet jou B.O. bel?”
“Asseblief, Dok.”
“O.K. En moenie worry nie, ek sal diskreet wees.”
* * *
Sy selfoon lui toe hy saam met Barkhuizen na buite stap. ’n Onbekende nommer. Hy antwoord terwyl Dok die spreekkamer sluit. Die wind is ysig.
“Kaptein, dis Jeanette Louw.”
“Hallo,” sê Griessel, want hy weet nog steeds nie hoe om haar aan te spreek nie.
“Ek het met die naasbestaandes oor jou versoek gepraat. Dit gaan moeilik wees. Hulle het reeds die meeste van die familielede in kennis gestel, en van die mense is al op pad Kaap toe vir ondersteuning, en die begrafnisse.”
“Ek verstaan heeltemal,” sê hy.
“Hulle sê hulle sal probeer, maar hulle kan nie waarborg dat dit nie by die media gaan uitkom nie.”
“Dit gee ons ’n bietjie tyd,” sê hy. “Baie dankie.”
“Kaptein, hulle doen dit omdat hulle wil help om die moordenaars te vang.”
Hy reageer nie.
“Gáán jy hulle vang, kaptein?”
“Ek gaan my uiterste bes doen.”
Sy bly lank stil, voor sy sê: “As daar enigiets is wat ek kan doen. Enigiets …”
11
Griessel ry, kyk terug in die spieëltjie na die skraal, effe krom figuur van Dok Barkhuizen onder die straatlig. Hy voel ’n groot deernis vir dié man, vir die groot hart wat agter die streng, onkreukbare fasade skuil.
En dan kom lê sy sondes swaar op hom.
Dok is die een mens vir wie hy nie wil lieg nie. Dis ’n heilige verhouding, die een met jou AA-borg, as jy regtig wil ophou suip. Dis die hoeksteen van rehabilitasie, dis uiteindelik jou enigste reddingsboei in die stormsee van dranklus. As julle mekaar nie kan vertrou nie, is jy basies gefok. Dok is die afgelope paar jaar die een standhoudende ding in sy lewe, die een met wie hy alles gedeel het.
Tot vandag toe.
Daarom maal die ongemak nou hier in sy buik: As jy eers met halwe waarhede en verswyging van die Groot Moeilikheid begin, gly jy gou teen die gladde wand van verval af. Hy weet. Hy wás al daar.
As hy nie oor die eintlike probleem kan praat nie, hoekom was hy nie dan minstens eerlik oor die ander goed wat by hom spook nie?
Want Dok sal sê: “Jy weet wat om te doen.”
En Dok sal reg wees.
Hy sal vir Dok sê: “Ek is bang Alexa gaan my uitvang, ek’s bekommerd dat sy die een of ander tyd deur my gaan sien. En dan gaan sy my los. En al soek ek so ’n bietjie ruimte, wil ek nie dít hê nie. Want ek is lief vir haar, sy is eintlik al wat ek het. So, dit pla my baie, Dok.”
Hy sal darem kan verduidelik waar die ding begin het, waar die oorsprong lê. Dit was destyds, toe hy vir Alexa ontmoet het. Hy was betrokke by die ondersoek na die moord op haar man. Hy was die een wat haar herken het as die voormalige sangsensasie, dit het hom vol nostalgie en bewondering en heimwee gemaak. En toe was hy simpatiek teenoor haar drinkery, en het hy vir haar gesê hy is ook ’n alkoholis. Hy was die een wat van die begin af geglo het sy was onskuldig, hy was die een wat die hele spul ontrafel het, en agterna die een wat vir haar in die hospitaal blomme gevat het en oor musiek gaan gesels het.
Toe dink sy hy is kwaai.
Hy het vir haar probeer sê hy ís nie. Verskeie maniere, verskeie kere. Maar hy het nie ’n vreeslike goeie jop gedoen nie, want hy was half verblind deur wie sy was, en haar musikale vermoë en haar Storie en haar vasberadenheid om op te staan en haar sensualiteit – fok weet, ondanks die skade, ondanks die jare, is sy ’n sexy, mooi vrou. En toe gaan staan en raak hy verlief. En as jy verlief is, dan sit jy jou beste voetjie voor, jy steek ook maar weg wie jy regtig is. En sy het gehoor net wat sy wil.
En toe, in die maande daarna, het ’n ding ontwikkel, “’n dinamiek” sal Dok Barkhuizen dit noem. Alexa wat hom behandel het asof hy ’n goeie, standvastige man is. ’n Held. ’n Vertroueling, ’n raadgewer. Hom voorgestel as haar “baasspeurder”, en tot sy ontsteltenis selfs een of twee kere as haar “rots”.
Hy,