Anna Atoom en die seerower se dolk (skooluitgawe). Elizabeth Wasserman
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Anna Atoom en die seerower se dolk (skooluitgawe) - Elizabeth Wasserman страница 4
Admiraal Atoom werk nou al jare lank aan hierdie projek. Die doel daarvan is om ’n mannetjie en wyfie van elke dier op aarde veilig te bewaar, ingeval een of ander ramp hul spesie op aarde uitwis.
“Hallo daar, Abraham!” roep ’n stem, en ’n hologram verskyn eensklaps naby die admiraal.
Sy virtuele gas is Uranus Draak, een van die wêreld se bekendste wetenskaplikes. Die admiraal kry nie dikwels besoekers nie, en al is dit net ’n holografiese beeld van sy ou vriend, is hy altyd bly om hom te verwelkom.
Uranus is oor die twee meter lank, met bloedrooi hare en ’n bloedrooi baard wat in twee lang dun vlegseltjies van sy ken af druip. Die holografiese projeksie laat sy bleek vel met ’n blou skynsel glim. Vandag dra hy ’n babablou kamerjas saam met pienk hasiepantoffels, maar selfs in dié ongewone drag lyk die vername wetenskaplike heel elegant20.
“Uranus! Ek wou jou juis vandag kontak,” vervolg die admiraal. “Ons projek is omtrent klaar. Daar is nog net ’n paar diere wat kort in ons versameling, dan is die Ark volledig!”
Die beroemde mariene bioloog frons. “Nee, Abraham, jy’s verkeerd. Ons het ’n volledige versameling van die diere wat op die oomblik op aarde leef. Wat van dié wat reeds uitgesterf het?”
“Jy weet tog ons het baie van hulle kon terugruk uit die verlede,” sê die admiraal. “Jy het mos al die sabeltandtiere en mammoete gesien wat ek gekloon het van die monsters wat jy in Siberië versamel het.”
“Maar dit kon ons net doen met die diere wat in die Ystydperk geleef het, want hul genetiese materiaal het goed bewaar gebly in die ys. Ons het nog nooit sukses behaal met diere wat in die trope geleef het nie. In die warm omgewing is hul weefsel vinnig afgebreek, en ons kry dit nie reg om ’n dier van droë bene te kloon nie. Jy weet dit net so goed soos ek: ons het hierdie diere vir altyd verloor!” Uranus Draak is nou driftig.
“Kalmeer, ou vriend,” troos die admiraal. “Wat ons hier in die RuimteArk het, is reeds ’n ongelooflike prestasie. As jy eendag hierdie werk aan die wêreld bekend stel, sal jy sekerlik weer die Nobelprys wen. Dan raak jy nog meer beroemd as wat jy reeds is!”
“Ha! Beroemdheid traak my niks. Dis die diere wat belangrik is, Abraham. Die mens se oorbevolking verdryf die diere uit hul regmatige plek. Verbeel jou hoe ons wêreld weer kan lyk as ons van al die mense op aarde ontslae kan raak,” gaan hy voort. “As die oerwoude weer kans kan kry om te groei, as die oseane bevry kan wees van al die vissersbote wat die see plunder21 met hulle sleepnette!”
Uranus kry ’n vreemde, veraf glinstering in sy groen oë.
“Ons kan dit doen! Ons kan die aarde nog red!” Hy skud sy vuis in die lug, vol vasberade opwinding.
Admiraal Atoom is al gewoond aan hierdie uitbarstings van sy vriend.
“’n Dodo, Abraham!” gil Uranus skielik en stamp sy wolpantoffels geluidloos teen die wand van die RuimteArk. “Dís wat ons nog kortkom voordat ons kan sê dat ons projek ’n sukses was.”
Maar dodo’s is al eeue gelede uitgewis, dit weet hulle al twee. Hul vere en vleis het vergaan in die tropiese woude van Mauritius. Die paar stukkies skelet wat die paleontoloë22 nog kon vind, is nie naastenby genoeg om te gebruik vir kloning nie.
Die dodo het van die aarde af verdwyn sonder ’n spoor.
7: Oseaan van die dood
Terug op aarde is Maks en professor Sabatina aan die stry.
Haar stoel hang langs die AardWag, regoor die suidelike deel van die Stille Oseaan. Vandag lyk dit beslis asof iets hier nie reg is nie! ’n Donkerrooi vlek is besig om oor die see te sprei. Volgens Maks se berekeninge word dit veroorsaak deur ’n digte oorgroeiing van alge.
“Dit lyk nie goed nie, Maks.” Die professor frons. “Oorgroeiing deur alge wurg die ander seediere dood, want alge gebruik al die suurstof in die water op.”
“Is so,” antwoord Maks. “Ek het nou net ’n verslag ontvange van die eilande daar naby: dooie vis spoels klaar op die strande uit!”
“Ek sê vir jou, dis daardie vreemde golwe wat ons gister waargeneem het. Dit moet iets daarmee te doen hê.”
“Onmoontlik!” snork Maks. “Hoe kan klankgolwe alge te vinnig laat groeie? My databanke sês niks van so iets nie!”
Die professor sug. Wat Maks nie aldag verstaan nie, is dat hy maar net ’n rekenaar is. Rekenaars weet net wat vir hulle gesê word. Hulle kan nie nuwe kennis uitdink nie. Rekenaars het glad nie ’n verbeelding nie. Al is hulle ook hóé slim.
“Daardie was geen gewone klankgolwe nie,” verduidelik sy rustig. “Wie weet wat die effek daarvan op plantselle sal wees?”
Maks soek weer deur sy databanke. Dit vat hom agt sekondes om deur alle bestaande kennis in die wêreld oor die onderwerp te sif.
“Hmm …” sê hy. “Daar is al heelwat navorsing hieroor gedoene. Die bevindinge was belowends, maar die eksperimente het geen definitiewe uitslag gehads nie.”
’n Drukker in die hoek van die laboratorium begin skielik papier uitspoeg. Professor Sabatina lees die blaaie oor die borand van haar halfmaanbril.
“Maar Maks!” roep sy skielik uit. “Kyk wie het hierdie artikel geskryf!”
“Uranus Draak, ek weete.”
“Tien jaar gelede het hy eksperimente gedoen wat die effek van hoëfrekwensie-klankgolwe op die groei van alge ondersoek het. Maar dié werk deur hom het net stil-stil verdwyn.”
Sy stap heen en weer in die laboratorium soos sy dink. “Nee, Maks, dit kan nie wees nie. Die rede hoekom Uranus nie voortgegaan het met die navorsing nie, is omdat dit wetenskaplik gesproke nie moontlik is nie.”
“Ek het my databanke weer laat kyke na die wetenskaplike korrektheid van Uranus se eksperimente. Daar is niks verkeerde met die metodes wat hy gebruiks het nie. Sy bevindings moes dus korrek gewas gewees het.”
“Gewas gewees het?” vra professor Sabatina geskok. Selfs vir Maks is dit werklik swak grammatika.
Sy lees weer die drukstukke. “Uranus sê in sy eerste artikel dat golwe van spesifieke frekwensies lewende organismes kan laat groei of vermeerder teen ’n baie vinniger tempo as gewoonlik. Of dat sulke golwe dit skielik kan laat vrek. Dis ongelooflik!”
Die professor sug moedeloos. “Dit kan nie blote toeval wees nie. Ek dink ons kan aanvaar daar is ’n verband tussen die vreemde golwe wat ons gister waargeneem het en die oorgroeiing van alge wat nou in daardie deel van die oseaan plaasvind.”
“As die alge aanhou groeie teen hierdie tempo,” sê Maks, “sal al die lewe in die suidelike Stille Oseaan binne twee dae daarmee heen weese.”
“Dan sal dit om die punt van Suid-Amerika spoels en die Atlantiese Oseaan bereike. Die kouer watertemperatuur daar mags die groei dalk vir ’n paar uur vertraags, maar sodra die alge opkruipe