Piekfyn Afrikaans Leerderboek Graad 7 Huistaal. Rina Lamprecht
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Piekfyn Afrikaans Leerderboek Graad 7 Huistaal - Rina Lamprecht страница 3
Intrige/verhaalplan
Dit is die reeks gebeurtenisse in ’n storie wat help om die spanning op te bou tot die hoogtepunt. Die spanning word dan ontlont in die ontknoping.
Karakters
Die persone wat in ’n storie optree, word die karakters genoem. Daar is gewoonlik een of twee wat die belangrikste is. Ons noem hulle die hoofkarakters.
Ruimte
Dit is die agtergrond (die “ruimte”) waarteen ’n verhaal afspeel. In hierdie geval is dit ’n verhaal wat in die bos afspeel, en die karakters is almal deel van die natuur. Hulle kan praat en redeneer. Baie dinge is dus moontlik.
Tyd
Dit is die tyd waarin ’n verhaal afspeel. Dit is belangrik, want dit verduidelik vir die leser hoe mense gedink het. Hierdie verhaal verduidelik aan die leser hoe mense vroeër natuurverskynsels probeer verklaar het.
Die tema van ’n gedig of ’n verhaal is die stukkie waarheid oor die lewe wat ’n mens in die verhaal of gedig raaksien.
Die vertelperspektief
Dit verwys na die siening van die verteller oor gebeure in die verhaal. Die verteller beïnvloed die leser omdat positiewe of negatiewe gevoelens deur middel van die verteller aan die leser oorgedra word.
In hierdie verhaal kry ons ’n alomteenwoordige verteller. Die verteller staan buite die verhaal en vertel bloot die gebeure. Die verteller is nie emosioneel betrokke by gebeure nie en vertel net bloot wat hy weet/sien.
Die titel en subtitel
Die titel is die naam van die verhaal of gedig.
Die subtitel is die gedeelte wat net onder die titel (opskrif) van die verhaal of gedig staan. Dit lyk soos ’n tweede titel en gee die leser meer inligting oor die gedig. Dit word gewoonlik skuinsgedruk.
Leesbegrip
Lees die verhaal weer ’n keer op jou eie deur en beantwoord die vrae.
1. Noem die name van die belangrikste karakters in die verhaal.
2. Wat was die boodskap wat Haas aan die mense moes gee?
3. Watter boodskap het hy uiteindelik aan hulle gegee? Hoe verskil dit van die boodskap wat hy eintlik moes gegee het?
4. Wat dink julle bedoel die verteller as hy sê dat die Maan nie regtig doodgaan nie. Waarna verwys hy?
5. Hoekom dink die maan dat Luis eintlik lui is?
6. Hoe het Haas vir Luis bedrieg (gekul)?
7. Hoekom het Haas vir Luis bedrieg? Wat sou hy daardeur wen?
8. Waarna verwys die titel van hierdie storie?
9. Hoe help die subtitel die leser om die storie beter te verstaan?
10. Hierdie storie verklaar twee dinge: waarom ’n haas ’n gesplete lip het en waarom daar sulke snaakse merke op die maan is. Verduidelik hoe dit gebeur het.
11. Aan wie se kant is jy in hierdie storie? Verduidelik waarom.
12. As jy ’n kleuter van so 100 jaar gelede was wat na grootmense se stories saans om die vuur geluister het – sou jy hierdie storie geglo het? Hoekom/hoekom nie?
Bestudeer In ’n neutedop voordat jy die taalvrae beantwoord. Kyk ook na die Taalgids agter in die boek.
Selfstandige naamwoorde
Selfstandige naamwoorde het meervoud en verkleining, byvoorbeeld: man – manne, mans, mannetjie; vrou – vroue, vrouens, vroutjies; fanatikus – fanatikusse, fanatici, fanatikussie.
Selfstandige naamwoorde is onder andere die name van plekke, diere, dinge, mense, plante, houdings en gevoelens, byvoorbeeld: Loftus, hond, sokkerbal, tennis, Gavin, varing, liefde.
Selfstandige naamwoorde van mense en diere het ook manlike en vroulike geslag, byvoorbeeld: speler – speelster; haan – hen.
Die lidwoorde ’n en die kan altyd voor ’n selfstandige naamwoord gebruik word, byvoorbeeld: Die seun skop ’n sokkerbal.
Verkleining in Afrikaans word gewoonlik deur die agtervoegsels -tjie, -jie, -pie, -ie, -etjie en -kie aangedui, byvoorbeeld: deuntjie, blommetjie, boompie, rokie, ringetjie, woninkie, ma’tjie, oupatjie. In baie gevalle word die woord “klein” saam met die verkleinwoord gebruik
Meervoude in Afrikaans kom voor by selfstandige naamwoorde. Meervoude word aangedui deur agtervoegsels soos -e, -s, -ere, -ers, -ens, -’s, -te of -de aan te las by die selfstandige naamwoorde. (Onthou dat nie alle selfstandige naamwoorde ’n meervoudsvorm het nie, byvoorbeeld: water, haat, yster, goud.)
Die volgende selfstandige naamwoorde word in Afrikaans onderskei:
Soortname: My familie, die stad, ’n spotprent, die orkes
Versamelname: bos blomme, bundel verhale, string pêrels
Eiename: Frans, Fanie, Esterhuizen, Brittanje
Abstrakte selfstandige naamwoord beskryf emosies soos liefde, haat, woede, hartseer of toestande soos ongemak, armoede
Massaname is die name van items wat moeilik getel kan word, byvoorbeeld: uraan, goud.
Byvoeglike naamwoorde
Hierdie woordsoort beskryf ’n selfstandige naamwoord. Ons beskryf byvoorbeeld ’n strokie as ’n oulike strokie. Ons kan ook sê dit is ’n vervelige strokie; ’n kleurryke strokie.
Die byvoeglike naamwoord kan gebruik word in die intensiewe vorm, byvoorbeeld: baie swart – pikswart, baie koud – yskoud. Intensiewe vorme word altyd as een woord geskryf.
Trappe van vergelyking word gebruik wanneer twee of meer dinge met mekaar vergelyk word, byvoorbeeld: Victor is moeg, Schalk is moeër, maar Morné is die moegste.
As twee dinge met mekaar vergelyk word, word die vergelykende trap gebruik (mooier).
Die oortreffende trap word weer gebruik as meer as twee dinge vergelyk word (die mooiste). Die lidwoord die word altyd saam met die oortreffende trap gebruik.
Onthou: As die byvoeglike naamwoord op ’n -s eindig, verdubbel die s, byvoorbeeld: Ek is vies, maar hy is die viesste van ons drie.
Meerlettergrepige woorde wat op ’n -e eindig, kry meer en mees vooraf, byvoorbeeld: Die Kiwi’s is opgewonde, die Italianers is meer opgewonde, maar die Spanjaarde is die mees opgewonde.
Belangrik: