Piekfyn Afrikaans Leesboek Graad 7 Eerste Addisionele Taal. Riens Vosloo
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Piekfyn Afrikaans Leesboek Graad 7 Eerste Addisionele Taal - Riens Vosloo страница 5
Die groot dors
Pieter W. Grobbelaar
Prelees – groepbespreking
Kyk na die illustrasie van olifantsgras. Waar dink jy kom hierdie benaming vandaan?
Dink jy mens sal sulke gras in ’n land kry waar daar droogte heers? Verduidelik hoekom jy ja of nee sê.
Die verhaal
Ver, ver terug toe Kaggen die diere gemaak het, was daar geen fonteine of riviere of watergate op die aarde nie. Al wat hulle te drinke gehad het, was mekaar se bloed, en hulle het die vleis van mekaar se bene afgeëet. Ja, dit was rooi dae, en geeneen was sy lewe seker nie.
Toe sê Olifant, die grote: “Nee, so kan dit nie aangaan nie. Ek wens ek was liewers dood. Dan kan my bene vrugtebome word, en my senings sal oor die grond rank en tsammas dra, en my hare sal ’n grasveld wees.”
En die diere vra: “Hoe lank moet ons nog wag, Olifant? Hoe lank moet ons wag? Want jou soort word baie oud.”
“Nee, dit weet ek nie,” sê Olifant. “Ons moet maar kyk.”
Maar Slang sê: “Ek sal jou help!” En voor Olifant nog ’n voet kan verroer, slaan Slang sy giftande in hom vas, en hy laat nie los voor Olifant dood neerslaan nie.
Nou storm die diere! Dis Leeu en Luiperd, dis Jakkals en Hasie, en ou Skilpad kom ook krombeen by. En hulle eet en eet Olifant se vleis, en hulle lek sy bloed, en hulle hou nie op voor net sy bene en senings en hare oorbly nie. Toe gaan hulle slaap, want nou was almal weer gelawe.
Maar toe hulle die volgende oggend wakker word, begin die diere weer kla: “Nou is Olifant dood en opgeëet. Waarvan gaan ons lewe?” En hulle sou seker gehuil het as daar trane was, maar die son drink hulle lywe droog, en hulle oë bly dof.
“Toe maar,” sê Slang. “Olifant het mos belowe.”
“Olifant het belowe as hy sélf doodgaan,” sê die diere. “Maar nou het jý hom doodgemaak.”
“Moenie so kerm nie,” sê Slang. “Laat ons nie te haastig wees nie. Wag en kyk. Of is daar iemand wat mý bloed wil drink?”
Maar die diere is bang vir sy giftande en bly liewers stil.
Daardie aand toe die sterre een vir een uit hul lêplekke opstaan, is daar ’n nuwe vuur aan die hemel. “Dis Olifant se gees!” sê die diere bang. “Nou kom hy ons sekerlik almal doodmaak.”
“Wag en kyk,” sê Slang.
En Olifant se oë is twee blink kole wat al hoër klim tot dit reg bo die plek hang waar die diere sy liggaam verskeur het. Toe skielik kom sy beendere regop en hulle kry wortels en takke vol vrugte. En sy senings rank oor die aarde en dra tsammas. En sy hare word velde gras.
“Nou het ons kos!” roep die diere, en hulle begin sommer wei. Maar party kan nie meer sonder vleis en bloed klaarkom nie. Daarom gaan hulle in die donker wegkruip: Leeu en Luiperd, Jakkals en Wolf, Wildekat en Uil. En as die ander diere slaap, kom hulle uit om te moor en te verskeur. Valk is glad so astrant dat hy helder oordag sy prooi soek. Net Aasvoël sê: “Ek wil ook vleis hê, maar ek sal nie self doodmaak nie.”
Maar noudat hulle kos het, is die diere nog nie tevrede nie.
“Water! Water!” kla hulle. “Ons gaan dood van die dors.”
“Die vrugte is vol water,” sê Slang, “en die tsammas en die gras.”
“Water! Water! Water!” kerm die diere, en hulle begin weer soos vroeër na mekaar kyk wie die lekkerste jong bloed het om te drink.
“Olifant het vir julle sy lyf gegee!” roep Slang boos uit. “En ek het vir julle my gif gegee. Maar julle hou nog nie op nie.” Want wat die diere nie weet nie, is dat Slang al sy gif opgebruik het om die grote Olifant dood te kry. “Laat ek dan vir julle water ook maak!”
En Slang verdwyn by ’n gat onder die aarde in, en hy sis en hy blaas en spuug lang strale tot die water bo die grond uitborrel en in die slote wegspoel en die leegtes vul.
“Nou het ons ’n fontein en strome en watergate!” sê die diere, en hulle is tevrede.
So het die diere kos en water gekry, en ons hoor vandag nog van olifantsgras en die waterslang.
Woordverklarings
beendere – liggaamsbene (nie die Engelse “legs” nie maar “bones”)
Kaggen – die Skepper
senings – spiere
tsammas – wildewaatlemoen (Citrullus vulgaris)
Postlees: Beantwoord die onderstaande vrae in jou werkboek (pas leesstrategieë toe). | |
1. | Waarom lees ons in die eerste paragraaf dit was “rooi dae”? Skryf net een korrekte antwoord neer: Die woestynsand is rooi / Die son was baie warm / Daar was baie bloed. |
2. | Noem ten minste drie dinge in hierdie verhaal wat nie in die werklike lewe moontlik is nie. |
3. | Waarom word die volgende woorde met hoofletters gespel in hierdie verhaal: Leeu, Luiperd, Jakkals, Wolf, Wildekat en Uil? |
4. | Twee voëls in hierdie verhaal jag soos hulle ook vandag jag. Noem die twee voëls en beskryf in een sin hoe hulle jag. |
5. | Skryf in een sin watse lewensles ons uit hierdie verhaal leer. |
6. | Watter dier in hierdie verhaal was werklik onselfsugtig? |
7. | Waarom kan hierdie verhaal ook as ’n volksverhaal beskou word? |
8. | Was dit in hierdie verhaal die diere se skuld dat daar geen water was nie? Skryf een sin as antwoord. |
9. | Is dit die mens se skuld dat water vandag al hoe skaarser raak? Raadpleeg die internet en gebruik die soekwoord “waterbesoedeling”. |
Die boodskap
George Weideman
Nota: George Weideman het hierdie verhaal oorspronklik by ouma Rachel Eises gehoor. In die talle variasies op hierdie oerverhaal bring die verkleurmannetjie en die akkedis soms die tyding, en soms verknoei die haas die boodskap op sy eie. In dié weergawe is Luis en Haas die boodskappers.
Prelees – groepbespreking
Hoekom kan jy uit die titel aflei daar sal meer as een karakter in hierdie verhaal wees?
Waarom kan ons reeds uit die nota onder die titel aflei dat ons hier met ’n volksverhaal te doen het? Daar is meer as een rede.
Die verhaal
Dis die storie van Volmaan, Luis en Haas, en die boodskap wat Maan lank, lank