Orion. Deon Meyer
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Orion - Deon Meyer страница 20
O, die soete skok wat deur my lyf geruk het.
Ek het daar gestaan, te bang om te beweeg, te bang om asem te haal, lighoofdig, sinneloos, volkome jags, ontdekker van die vreugdes van voyeurisme, ’n uitverkorene wat deur die gode hier geplaas is, op hierdie oomblik.
Ek weet nie hoe lank dit haar geneem het om orgasme te bereik nie. Twintig minute? Meer? Vir my het die tyd verbygeflits, ek kon nie genoeg kry nie, tot sy eindelik, met ’n lae, diep geteem deur haar oop, vol mond en met hemelse klein bewegings van buik en bene haarself bevredig en versadig het.
Toe het sy stadig opgestaan en in die huis verdwyn.
Ek het lank na die matras bly staar in die hoop dat sy sou terugkeer, later besef dit was my nie beskore nie en aan my eie, allesoorheersende lus gaan uiting gee in die privaatheid van my kamer. Keer op keer op keer.
En die volgende middag was ek weer op my pos by die spleet in die houtpaalheining, gereed om my eensydige, wonderlike verhouding met Babie Marnewick voort te sit.
Sy het nie elke middag in haar agterplaas gemasturbeer nie. Sy het nie elke middag blink en kaal in die son gelê nie. Daar was, tot my groot teleurstelling, geen ritme tot haar ritueel nie, geen roetine van tyd of dag nie. Ek het soms gewonder of sy dit dalk in die oggend doen, wanneer ek by die skool is. Ek het dit selfs oorweeg om ’n paar dae “siek” te wees om die teorie te toets. Maar nou en dan, een dag per week, soms een keer in twee weke, is my ywer beloon met dieselfde betowerende toneel.
Ek het oor haar gefantaseer. Natuurlik. Ek stap om (oorklim sou te onwaardig wees), gaan staan langs haar en sê: “Jy sal nooit weer jou hand hoef te gebruik nie, Babie.” Dan trek sy uit en verwelkom my in haar met ’n “ja, ja, ja, ja”. En nadat ek haar vir die vyfde of sesde keer op die opblaasmatras tot ongekende hoogtes gevoer het, sal ons langs mekaar lê en bespreek hoe ons sal wegloop en vir ewig en altyd gelukkig saam sal leef.
Fantasie nommer een. Met variasies op dié tema.
Hoeveel anders en interessanter as my drome sou die werklikheid, die lewensveranderende klein intrige van dié suburb nie wees nie.
13
Spitsverkeer uit Mitchells Plain. Hy ry met die N7, haastig huis toe. Hy moet nog vir Wilna van As bel.
Hy verwonder hom aan die wêreld waarin hy leef. Hy en Kemp en hy en Orlando en wie skuld vir wie, die meganismes van sosiale en professionele interaksie, die elfde gebod: wees die een vir wie geskuld word. Kemp: Jy is gemors, Van Heerden. O’Grady: Jeez, Van Heerden, that’s not a fucking living. Why don’t you come back. Orlando: … a bottom feeder, going down … Dis laer as kreefkak, Van Heerden. Hoekom gaan jy nie terug Force toe nie?
Algemene konsensus oor sy lewe, maar hulle weet nie, hulle verstaan nie, hulle het nie insig nie. Hulle het nie begrip vir sy vonnis nie – hy moet dit uitdien. Lewenslange gevangenisstraf.
En dan, in die oomblik van ondersoek-euforie, het hy gewonder of hy vrygelaat gaan word, amnestie gaan ontvang. Hoe belaglik, fok, soos ’n man in ’n sel wat droom hy is buite, net om die volgende oggend wakker te word …
Hy stop in Goodwood vir brandstof, sien die telefoonhokkie. Hy bel vir Wilna van As.
“Die bank sê daar was geen verbande op die eiendomme by hulle nie. Ek het die oordragdokumente gekry en die prokureursbriewe, maar ek verstaan dit nie alles nie,” sê sy.
“Wie was die oordragprokureurs?”
“Hou aan, asseblief.”
Hy wag, sien in sy geestesoog die vrou in haar kantoor na die melamienkas stap vir die dokumente.
“Merwe de Villiers en Vennote.”
Hy ken nie die firma nie. “Kan jy die dokumente vir Hoop faks?”
“Ja.”
“Dankie.”
“Die identiteitsboek. Het jy iets uitgevind?” vra sy.
“Ek weet nog nie,” lieg hy. Want dit is Hoop Beneke se werk om die slegte nuus oor te dra. Hy is maar net die gehuurde hulp.
“O.” Nadenkend. Bekommerd.
“Totsiens,” sê hy.
Hy blaai terug in sy notaboek, kry Hoop se nommer en gooi nog ’n muntstuk in voor hy bel.
“Sy is in konsultasie,” sê die ontvangsdame.
Soos ’n fokken dokter, dink hy.
“Gee vir haar ’n boodskap, asseblief. Wilna van As gaan vir haar die oordragdokumente van Jan Smit se twee huise faks. Ek wil weet of daar verbande op die huise was. Sy kan my by die huis bel.”
Hy ry haastig na Table View se groentemark, want dit is toemaaktyd. Hy soek vars knoffel en pietersielie.
Wanneer hy uitklim en opkyk, sien hy die son ondergaan agter die volgende koue front wat van die see af inkom, die uitgestrekte wolkbank swaar en swart en oorweldigend.
Hy braai die knoffel en gesnipperde pietersielie lig en stadig in die groot pan. Die geure kom los en styg saam met die stoom op om die vertrek te vul. Hy adem dit met genot en ’n vae, vlietende verbasing dat hy iets nog kán geniet. Verdi op die klein luidsprekertjies, La Traviata. Kookmusiek.
Jan Smit is nie Jan Smit nie.
Iewers in of voor die jaar van Onse Heer 1983 verkry die man voorheen bekend as X Amerikaanse dollars. Wederregtelik. Só wederregtelik dat hy ’n nuwe identiteit moet bekom. Vir ’n nuwe lewe. As Johannes Jacobus Smit. ’n Lewe van klassieke meubels, ’n lewe binne die wet, ’n private wegkruiplewe.
Hy maak die blikke tuna oop en gooi die soutwater versigtig in die wasbak af.
Jy verkoop ’n vuis vol van jou dollars op die swartmark om die huis en die sakeperseel te bekom, om die eerste meubels aan te skaf. Dit gaan goed met die besigheid. Jy het nie jou oorskotdollars nodig nie. Jy bou of laat bou ’n instapkluis vir die restant. Hoe groot is dié restant? Baie groot. As jy ’n instapkluis nodig het. Of wil jy ook iets anders bêre? Amerika – die bakermat van dwelmafset, die bron van alle dollars. Wil jy ’n instapkluis bou om jou stapels wit sakkies heroïen of kokaïen netjies op die rakke te stapel, langs die dollars? Kleinhandelaar, groothandelaar, middelman?
Wapenhandel. Nog ’n betroubare bron van groot bedrae dollars. In ’82 of ’83 – die bloeijare van Krygkor en sy duisend obskure filiale, en Afrika met sy terreurakronieme wat ’n onversadigbare honger vir wapens het.
Die instapkluis is nie heeltemal so groot nie. Miskien nie wapens nie.
Waarom? As dit so goed gaan met die besigheid van klassieke meubels, waarom verbrand jy nie bloot die inkriminerende bewysstukke nie? Omdat jy arm grootgeword het en iets wil bêre vir die onvoorspelbare toekoms? Omdat jy jou dalk eendag kan vasloop in die oorspronklike eienaar van die dollars en/of die dwelms – en dan kan aanbied om dit terug te gee in ruil vir jou lewe?
Hy voeg die tuna by die knoffel en pietersielie.