Proteus. Deon Meyer
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Proteus - Deon Meyer страница 11
“Ja, mevrou. En ons weet hy’s nie op die vliegtuig nie.”
Mentz herkou aan die inligting. Dit is stil in die vertrek.
“Mevrou?” sê die stem oor die radio.
“Ja?”
“Wat doen ons nou?”
6
Daar is ’n tyd om jou woede te wys, beheersd, doelgerig, ’n afkeer te hê aan jou mense se optrede, nie aan hulle as persoon nie.
Janina skakel die sprekerfoon ergerlik af en stap na waar haar rekenaar staan. “Ons het die ding beheer. Ons. Ons het geweet waar sy is, waar hy is, waarheen hy gaan, hoe hy daar gaan kom. Volkome beheer.”
Haar stem dra, die woede vlak. Elkeen kyk na haar sonder om oogkontak te maak.
“Waarom het ons beheer verloor? Gebrek aan inligting, gebrek aan intelligensie, gebrek aan oordeel. Hier en by die lughawe. Ons het nou ’n agterstand. Ons het geen idee waar hy is nie. Ons weet minstens waarheen hy gaan en ons ken die vinnigste manier om daar te kom. Maar dit is nie genoeg nie. Ek wil nóú weet wie Tobela Mpayipheli is. Nóú. Ek wil weet waarom Monica Kleintjes na hóm toe is. En ek wil weet wáár hy is. Ek wil weet wát op daardie skyf is. Álles. En ek gee nie om wát julle moet doen om die inligting te kry nie.”
Sy soek na hul oë, maar hulle kyk na die vloer.
“En daardie twee narre, Quinn.”
“Ja, mevrou?”
“Laat hulle ’n verslag indien. En as hulle klaar is …”
“Ja, mevrou?”
“Laat hulle gaan. Hulle hoort nie in dié span nie.”
Sy stap by die vertrek uit, wens daar was ’n deur om te klap. In die gang af, by haar kantoor in – dáár is ’n deur om te klap. Sy val in haar swart leerstoel neer.
Laat die bliksems sweet.
Laat hulle in die eerste plek verstaan as jy nie die hitte kan hanteer nie, sal Janina Mentz jou uit die kombuis verwyder. Want, God weet, hier’s nie plek vir mislukking nie. Sy sal haar beloftes nakom.
Die direkteur weet. Hy sit daar in sy kantoor in sy spierwit hemp en hy weet, want hy luister. Hy hoor elke woord wat in die Opskamer gesê word – en weeg dit: haar doen en late, haar leiding.
Hy het haar gevra, dit voel na ’n leeftyd gelede, tydens hul eerste onderhoud vir die pos: “Sien jy kans, Janina?”
En sy het gesê “ja”, want vir ’n wit vrou in ’n swart administrasie is daar net soveel geleenthede, maak nie saak of jou IK 147 is en jou rekord die een foutlose klein sukses na die ander verteenwoordig nie. Met die klem op klein, omdat die groot geleentheid nog net nie gekom het nie. Tot die direkteur haar vir middagete na Bukhara in die Kerkstraat-wandelhal geneem het en sy visie uitgestippel het: “’n Intelligensiediens wat uitmuntend is, Janina, dít is wat die Visepresident wil hê. ’n Intelligensiediens wat nuut begin, sonder ’n verlede. Aanstaande jaar is hy President en hy weet hy het nie Madiba se charisma nie. Hy weet dit gaan harde werk verg teen elke vorm van teenkanting en ondermyning wat jy nasionaal en internasionaal maar kan kry. Ek het carte blanche en ek het ’n begroting, Janina. En ek glo ek het die argitek vanmiddag hier voor my. Jy het die profiel, die breinkrag, jy het geen bagasie nie, jy het die lojaliteit, jy het die deursettingsvermoë. Maar die vraag is: Sien jy kans?”
O, sy het kans gesien, meer as wat hy besef het. Want dit was elf maande nadat haar man ’n jeuk vir jonggoed ontwikkel het en vir haar kom sê het “die huwelik werk nie meer vir my nie”, asof dit háár skuld is, asof dit sy en die kinders is wat hom nie vervulling gee nie. Terwyl die enigste vervulling ter sprake die ruimte tussen Cindy se bene was.
Cindy. Die vuilvoet-kwasikunstenaar wat haar lappies by ’n Groentemarkplein-stalletjie aan Duitse toeriste verkwansel het en haar groot bruin oë vir getroude mans gefladder het tot sy een in die strik van haar ferm, bralose borste gevang het. En toe trek die tweetjies Pelgrimsrus toe om “’n ateljee vir haar te gaan oopmaak”.
Dus sien ek kans, meneer die direkteur. Ek smag daarna. Want ek het ’n woede in my wat gevoed word deur die verwerping, o ja, laat daar nie twyfel wees nie. Wat gevoed word deur ambisie ook, moenie ’n fout maak nie, ek is die enkelkind van arm Afrikaners wat tot elke prys wil uitstyg bo my ouers se siellose, sinnelose bestaan. Wat gevoed word deur die frustrasie van ’n dekade in die Struggle en al wat ek daarvoor kan wys, ondanks my talente, is ’n adjunkdirekteursposisie. Ek kan soveel meer doen, ek ken die landskap van my psige, ek weet waar die afgronde lê en ek weet waar die pieke staan, ek is onbevange bewus. Ek kan vlieg; maak dit saak uit watter rigtings die winde onder my vlerke vandaan kom?
Sy het dit nie gesê nie. Sy het daardie middagete koel en kalm geluister en gepraat, en net met stille selfvertroue gesê: “Ja, ek sien kans”, en die volgende week begin werk aan hul visie: ’n Eerstewêreldse Intelligensiediens in ’n land wat homself aan die veters van Derdewêreldstewels probeer optrek, ’n nuwe, onafhanklike eenheid met ’n skoon lei.
En steeds sien sy kans. Maak nie saak wat die prys is wat betaal moet word nie.
Haar telefoon lui met die enkellui van ’n interne oproep. “Mentz.”
“Kom loer gou in, Janina, asseblief,” sê die direkteur.
* * * * *
Hy kry ’n minibustaxi Bellville toe – die eerste geleentheid wat hom voordoen. Sy drang is om afstand tussen hom en die lughawe te kry ongeag die rigting. Die implikasies dring mettertyd tot hom deur: Hy kan nie teruggaan na Monica Kleintjes nie, want hulle hou haar sekerlik dop. Hy kan haar nie bel nie. Hy kan nie nou terug huis toe nie. Hy kan nie terug lughawe toe nie – teen hierdie tyd is daar swerms van hulle. En as hulle enigsins wakker is, hou hulle al die stasie dop, dus is bus en trein Johannesburg toe ook buite die kwessie.
Wat hom met die groot vraag laat: Hoe kom hy in Lusaka?
Hy sit in die donker tussen medepassasiers, huishulpe en sekuriteitswagte en fabriekswerkers op pad huis toe wat die styging in die broodprys en sokkeruitslae en landspolitiek bespreek en hy wil een van hulle wees. Hy wil die hardeskyf op Monica se skoot gaan neersit en sê: “Daar is een ding wat jy nie in berekening gebring het nie,” en dan wil hy na Miriam en Pakamile toe en môre wil hy werk toe op sy Honda Benly en tydens sy middagete wil hy met St. Georges opstap na Immanuel die skoenskoonmaker en ’n potjie skaak speel tussen sy Zoeloe-vriend se selfoonpratende, rykdomnajagende kliënte deur, terwyl hulle in Xhosa goediglik met die wittes spot.
Maar nou het hy twee Z88-pistole en ’n plat hardeskyf in ’n blou sportsak wat tussen hom en sy lewe staan.
“En wat doen jy vir ’n lewe?” vra die vrou langs hom.
Hy sug. “Ek is op die oomblik reisend,” sê hy.
Hoe kom hy in Lusaka?
* * * * *
’n Mens sal nie sê hy kom al sesuur soggens kantoor toe nie – hier is dit al byna halfnege in die aand en die direkteur, iewers in sy vroeë vyftigerjare, lyk vars, uitgerus, waaksaam.
“Ek het ’n interessante