Karnaval en lent. T.T. Cloete
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Karnaval en lent - T.T. Cloete страница 1
T.T. Cloete
Karnaval en Lent
is een gedig
Tafelberg
Oor die uitleg
Die uitleg van gedigte in hierdie digitale uitgawe van Karnaval en Lent mag verskil van dié van die gedrukte uitgawe, afhangende van die instellings op u leestoestel. Die uitleg vertoon optimaal indien die standaardinstelling op u leestoestel gebruik word. Lesers kan egter eksperimenteer met die instellings vir verskillende perspektiewe op die gedigte.
vir Ena en Theo Jooste
al is dit net vir die Lentgedigte
Vooraf
die oersop aan die begin is konsuis
gegis in die sielige
wetenskaplike kombuis
alles word daar geweeg getel en gemeet
deur mense wat gevangenes
van hulle eie intellek is
alle ken en weet
of óntken van die Daarvóór
berus dus op ’n dun slymerige
sopperige metafoor
die metafoor is hart en siel van die gedig dus
is dit onbetwisbaar dat alle wetenskap op ’n gedig berus
the I
na A. Heschel en ’n enkele vers van Jacob Revius
the I is a miracle
a pseudonym for what we do not know
man is an obscure text to himself
scratch his skin and you come upon bereavement,
affliction, uncertainty, fear, and pain
a worm crawling on a pebble, the earth;
a speck of life floating aimlessly
through the immeasurable vastness of the universe
with his tiny candles in the mist . . . met
de beroockte slons van menschelijcke reden
his being a problem to himself
kat
batter my heart, three-person’d God – John Donne
ek vra vergifnis omdat ek die onreine
in my pynlike peins
saam met die spartelende vis indra
ek is lewenslank gepla
met die uitputtende
onuitputlike
drie
die heilige
’n gladde
vis en sku
mense
nietig en nederig hooghartig
bestem vir liefde en vir moord
die Teëwig
teenoor God
wat hom nie in my
laat doodswyg nie
die eerste maaltyd
ons suig ons vroegste eerste krag
uit die lyfbrou van ons moeders
deur ’n buis van vlees
eet ons ons moeders
ons teer op hulle van binne
soos geitjies hulle weg na buite beur
son toe . . .
ons binnegoed laat ons onverpoosd verslind
van vóór die eerste bloedspoeg tot ons sterf
’n dwingeland as ons later selfstandig
van ons moeders leef
’n tiran waarvoor ons moet werk en swoeg
die drie stadia
EEN
i
andoelie kom eerste
andouille nothing on life’s menu is more popular
honger was ons eerste versoeking
eet was ons eerste sonde
ons eerste opstand teen die Heilige
uiteindelik sal ons sterf met vet om ons lippe
en vleis tussen ons tande as die armaggeddon kom . . .
ii
eskatologie a
jy glo met jou maag
onbegryplik hang die begryp van die heilige en ewige
af van vleis en brood . . .
ek staan verstom dat grond
vol minerale vol plante en diere
geheimsinnig in my omgelyf word in vleis
in my gebeente en spiere tot in my murg
dan ná dié omlywing
in ’n raptus mentis
blom my maaltye van kool en ’n stuk varkvleis
of van ’n vis bo alle begrip úit
in ’n tweede geheimsinnige onvleeslike omwentel
in eteriese ekstatiese musiek en in
skilderye en gedigte
uiteindelik in geloof in God
en in ’n geroep na Hom op ons knieë
selfs ons gebede is uit brood