Ena Murray Keur 1. Ena Murray
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Ena Murray Keur 1 - Ena Murray страница 2
Die jonger man staan op.
“Goed.”
Die ouer man reik hom die hand en die eerste keer is daar ’n teken van ’n glimlag om sy mond.
“Tot siens. Ek hoop ek sal gou van jou hoor. Miskien wil ek nou ’n haas opjaag waar daar nie een is nie, maar . . . iets vertel my dat hierdie saak werd is om ondersoek te word.” Die skrams glimlag het weer verdwyn. “Hier is vir my ’n duistere skynsel aan die hele besigheid. Ek hou nie van bloedlose lyke nie en ook nie van onnatuurlike verskynsels waarvoor geen logiese verklaring gegee kan word nie.”
Die jonger man glimlag grimmig.
“Ons smake stem ooreen, majoor. Tot siens.”
“Wederom, kaptein Lenard.”
’n Paar uur later sit die jong kaptein van Harare se speurafdeling in dokter Dennis Johnson se spreekkamer in Masvingo.
“Ek was reeds by jou twee kollegas, maar hulle kon my niks meer vertel as wat in hul verslae staan nie. Het jy nie miskien intussen aan iets gedink, selfs aan ’n logiese verklaring vir die bloedlose toestand van die lyk en die vreemde verswakking van die toeriste nie, dokter?”
Maar die distriksgeneesheer skud sy kop.
“Ongelukkig nie. Ek is nog steeds dronkgeslaan. Ek het uit die aard van my werk nie een van die toeriste behandel wat oor ’n toestand van onverklaarbare swakheid gekla het nie, want ek is distriksgeneesheer en hulle is uiteraard private pasiënte wat my kollegas ingeroep het. Ek kan net praat van Attie Brijns en al wat ek van hom kan sê, is dat sy lyk heeltemal bloedloos was – en daarvoor kan ek jou geen logiese mediese verklaring gee nie. Dis ook bloot toevallig dat die eienaardige verskynsel van die vreemde verswakking onder toeriste by die Zimbabwe-ruïnes in ’n gesprek tussen my en die ander twee dokters opgehaal is. Ons is gholfmaats en ek het hulle, terwyl ons aan die speel was, vertel van die eienaardige bloedlose toestand van die lyk waarop ek ’n lykskouing moes hou. Ons het so ’n bietjie daaroor gesels. Dit het toe in die gesprek uitgekom dat die assistent genoem het dat die oubaas die laaste dae voor sy dood skielik swak geword het, maar oor geen pyn of iets dergeliks gekla het nie. My twee kollegas het toe onthou dat hulle kort-kort die afgelope maande pasiënte met eienaardige simptome onder die toeriste by die ruïnes gehad het. Ek het toe gewonder of daar nie miskien ’n verband tussen hierdie gevalle kan wees nie.”
“Ek sien. Die lyk is nog nie begrawe nie, is dit?”
“Nee. Dit lê in die polisielykshuis. Die majoor het laat weet dat dit ook deur my twee kollegas, asook die polisiedokters en ’n patoloog, ondersoek moet word voordat dit begrawe word. Ek dink hulle is op die oomblik daarmee besig.”
“Hoeveel private praktisyns is in Masvingo?”
“ ’n Paar. Ek kan jou die lys van name gee. Hoekom?”
“Van die ander dokters in Masvingo kon ook die afgelope maande toeriste vir hierdie vreemde siekte behandel het. Ek wil presies weet hoeveel mense die afgelope maande oor so ’n skielike swakheidstoestand gekla het, wie hulle is en hoe dit nou met hulle gaan, veral hoe dit met hulle gegaan het pas nadat hulle die ruïnes verlaat het.”
Hy ontvang die lys van name en staan op. “Dankie, dokter. Ons sal mekaar weer sien. En indien daar intussen enigiets opduik of iets jou byval, maak dadelik kontak met die naaste polisiekantoor. Ek het nog nie besluit waar presies ek by die ruïnes sal tuis gaan nie. Daar is mos ’n hele paar hotelle, nie waar nie?”
“Ja, en natuurlik die kampeerterrein. Dan is daar ook ’n vakansieplaas.”
“Dankie. Ek sal jou laat weet sodra ek ’n adres het.”
Ná ’n paar uur is met al die private praktisyns in Masvingo in verbinding getree. Nog twee ander kan onthou van ’n paar sulke gevalle wat hulle die afgelope maande gehad het. Ongelukkig het almal nie die pasiënte duidelik aangestip nie, aangesien dit almal toeriste was en nie vaste pasiënte nie. Dis in elk geval ’n aardige lysie wat Gustaf teen die end in sy sak steek. Elke dokter word ook dringend versoek om, sodra daar weer so ’n geval onder hulle aandag kom, onmiddellik met die plaaslike polisiekantoor in verbinding te tree.
Hiervandaan gaan die jong speurder na die polisielykshuis. Met die vrymoedigheid van sy beroep stap hy die vertrek binne wat spesiaal vir polisielykskouings ingerig is. Daar tref hy dokter Johnson, die polisiedokter en die patoloog aan, besig met hul onaangename taak om in die lyk van ’n ou man rond te delf. Met uitdrukkinglose gelaat staan hy stilswyend en toekyk waar die drie mans gebuig oor die oopgesnyde buik staan, terwyl vaardige vingers en skerp kennersoë op soek is na die oplossing van ’n verstommende geheim. Telkens word dele van organe en selfs heel organe uit die lyk verwyder en in afsonderlike blink bakkies geplaas om na die laboratoriums vir ontleding te gaan. Maar tevergeefs soek hulle na ’n enkele druppel bloed vir ’n monster.
Dis net nie te vinde nie.
“Iets gevind?”
Die patoloog skud sy kop.
“Niks wat die aandag trek nie. Op die oog af lyk alles normaal – abnormaal normaal om dit so te stel. Hierdie oubaas was volgens my persoonlike mening honderd persent gesond.”
“Ek wil die laboratoriumtoetse se uitslag so gou moontlik hê. Maak dit uiters dringend.”
“Dit sal gedoen word.”
Dokter Johnson trek die masker van sy gesig en gooi sy handskoene sonder vlekke daarop eenkant neer.
“Hier is niks verder nie. Hy is van hoek tot kant deurgegaan.” ’n Oomblik kyk hy stil op die lyk af. “ ’n Mens voel skoon aardig om met hom te werk. Gewoonlik word jy maar besmeer met ’n lykskouing, maar . . . Dis of die ou totaal en al leeggepomp was! Ek kan dit nie begryp nie!” Hy skud sy kop verslae heen en weer.
Swyend stap hy en Gustaf na buite. Dis Gustaf wat die stilte verbreek.
“Nog twee ander dokters het pasiënte van Zimbabwe met hierdie eienaardige simptome gehad. Dit gee ’n redelike lang lys oor verloop van ’n paar maande.”
Hy frons. “Dit verbaas my dat hierdie eienaardigheid, of liewer, onreëlmatigheid, nie vroeër aan die lig gekom het nie.”
Dokter Johnson trek sy skouers op.
“Jy moet onthou, kaptein, dat dokters selde buite die praktyk hul pasiënte met mekaar bespreek. Was die pasiënte nog mense wat hier permanent woonagtig was, of selfs net ’n paar maande, dat die verskillende gevalle onder hul aandag gebly het, sou dit anders gewees het. Die een of ander tyd sou een van hulle ’n kollega vir konsultasie ingeroep het as hy net nie daarin kon slaag om die vinger op die moeilikheid te lê nie. Dan sou hierdie ding gouer aan die lig gekom het. Maar almal was deur die bank toeriste wat ná een of twee afsprake met die dokters teruggekeer het huis toe of hiervandaan weg is, en die gevalle het onder die aandag van die dokters verdwyn.”
Kaptein Lenard se oë vernou.
“Ja. Dis ’n feit wat baie opvallend is en op sigself baie, baie vreemd – die feit dat almal toeriste was.”
Hy trek die lys uit sy sak en vou dit oop. “Daar is nog iets wat my opgeval het – dis deur die bank mans . . . en soos wat die dokters kan onthou,