Ena Murray Keur 1. Ena Murray

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ena Murray Keur 1 - Ena Murray страница 9

Ena Murray Keur 1 - Ena Murray

Скачать книгу

daar nog iets wat ek vir jou kan bring, juffrou?” hoor sy ’n sagte, moeë stem langs haar vra en sy skrik byna.

      “Dankie. Ek het heerlik geëet. En noem my gerus Sandra.” Nina Andrews glimlag net en Sandra vra simpatiek: “Hoe voel jy vanoggend? Het jy darem goed geslaap?”

      “Ja, dankie. Redelik.”

      Sandra voel weer die jammerte in haar. Arme vrou. Sy gaan uit haar pad om vriendelik te wees.

      “Kom sit by my en drink saam met my ’n koppie koffie, toe.”

      “Dankie, maar ek het klaar ontbyt geëet. As daar niks meer is waarmee ek kan help nie . . .”

      Sy swyg toe Dianne by die deur verbyloop op pad na buite, en ’n lang oomblik bly haar oë op die deur gerig, die weemoed weer duidelik in die ligblou dieptes leesbaar. Dan is dit of Nina haar doelbewus regruk en haar stem klink half gejaag: “Verskoon my. Ek moet my spyskaart vir vanmiddag gaan regkry.”

      Sandra volg haar met ’n bekommerde blik. Sy sien hoe die vrou ’n hand uitsteek toe sy by die kombuisdeur kom, asof sy skielik weer half duiselig geword het. Dan verdwyn sy en Sandra byt haar onderlip vas. Sy is nou heeltemal seker dat Nina Andrews bewus is van die verhouding tussen haar man en Dianne Bougard. Haar oë het dit verraai toe Dianne by die deur verbygekom het. Weer eens voel sy hoe haar hart na hierdie vroutjie uitgaan.

      Dit moet hel wees vir ’n vrou om te sien dat die man wat sy liefhet ’n ander vrou bo haar verkies. Maar benewens hierdie feit, moet dit vir Nina Andrews nog erger wees, want waar ’n ander vrou miskien nog kan probeer om haar man terug te wen, kan sy beslis nie teen die heelwat jonger Dianne meeding nie. Hierbenewens is haar gesondheid ook nog swak. Sy het geen kans om haar man weer na haar terug te lok nie. En sy weet dit, besef Sandra met innige meegevoel. Sy weet sy kan maar net swyend toekyk hoe ’n ander jonger, gesonder vrou haar man van haar steel – en daar is niks wat sy kan doen om dit te verhoed nie.

      Sandra sug saggies en hoor dan Gustaf se stem agter haar in die gang.

      “As jy nie omgee nie, doktor Basson, sal ek graag saamstap. Dan wys jy my sommer die kortpad na die ruïnes.”

      Sy is soos blits op.

      “Ek gaan saam. Wag vir my.”

      Basson glimlag geamuseer toe Sandra drafstap in die rigting van haar kamer om haar kamera te kry.

      “Hierdie klein verslaggeefster gaan aan jou klou soos ’n neet, my vriend!”

      Gustaf glimlag ook.

      “Ek gee nie om as so ’n oulike dingetjie soos ’n neet aan my klou nie, doktor. En sy gaan vir my baie handig te pas kom, ’n ekstra paar oë en ore so te sê. Maar sy gaan werk vir haar scoop, glo my!”

      “Ek is gereed.” Sandra voeg haar effens uitasem by hulle.

      Dis uiters vyf minute se stap met die kronkelpad voordat hulle die ruïnes bereik. Groepies toeriste kan reeds gesien word. Daar is natuurlik diegene wat dié oggend na die ruïnes kyk, wie se belangstelling maar baie oppervlakkig is. ’n Oomblik sal die misterie van Zimbabwe hulle gevange hou. Dan sal hulle omdraai en terugkeer hotel toe sodat hulle tuis aan hul familie en vriende kan vertel dat hulle ook ’n draai by die Zimbabwe-ruïnes gemaak het. Baie interessant, ensovoorts, ensovoorts.

      Maar tog is daar hulle wat met opregte belangstelling deur die torings en gange en sale dwaal, mense soos die argeoloog, doktor Jan Basson, wat antwoorde op al die skynbaar antwoordlose vrae soek: Wie het hierdie klippe so kunstig gebreek en met ’n meesterhand opgestapel sonder om van ’n voegmiddel gebruik te maak, en dit so na aan volmaak gedoen dat dit eeue daarna nog ongeskonde en byna in perfekte orde behou is? Soos ’n tergende vraagteken beskou dit steeds die hedendaagse hoogs ontwikkelde menseras uitdagend in volkome swye en misterie.

      Watter menseras het hier geleef, gelag, gely . . . en uiteindelik so uitgesterf dat daar nie eens mondelinge oorlewering van hulle oorgebly het nie, afgesien van hierdie groteske en grootse handewerk wat as enigste bewys aan vandag se wêreld staan dat hulle hoogs beskaaf was vir die tyd waarin hulle geleef het, dat hulle hoogs intelligent was met ’n vakmanskap wat vandag nog te beny is? Ja, dat hulle reeds kennis daarvan gedra het dat die aarde in sy boesem meer as net grond huisves en dat hulle reeds na daardie skatte begin soek het. ’n Menseras wat reeds begin het om handel te dryf; om dit wat hulle het, te verruil vir die noodsaaklike dinge wat hulle nie het nie. Maar ook ’n menseras wat ’n hoë peil van aanbidding aan hul gode gehandhaaf het, vandaar die tempelruïnes, die torings, die geheime wandelgang van, soos vermoed word, die priesters na die allerheiligste waar priesters en hoëpriesters hul gode aanbid het.

      Daar is party geleerdes wat die teorie handhaaf dat hierdie beskawing behoort het aan ’n swart ras wat hierdie grootse bouwerk in die vyftiende eeu gebou het, kom dit in die vertelling van doktor Basson uit terwyl hulle nader stap. Maar Jan Basson is geneig om eerder met een van die ander teorieë saam te stem . . . dat dit die Feniciërs was wat, vlugtend teen die oormag van die Romeinse Ryk, eindelik hier ’n rusplek gevind het van hul vyande. Hulle het hul kennis en beskawing saamgebring om hier in die donker binneland van ’n toe nog onbekende kontinent van voor af hul hoë peil van beskawing te herbevestig.

      Is dit hiervandaan dat Salomo die goud vir sy tempel gekry het? In die Bybel word gemeld dat hy goud uit Ofir gekry het, en oral om die ruïnes is duidelike tekens van goudontginning. Was dit die land van Ofir van ouds dié? En was dit miskien uit hierdie omgewing dat die koningin van Skeba gekom het, die swart koningin uit ’n ver land wat net een keer haar verskyning in die Bybelse vertellings maak en dan weer verdwyn?

      Jan Basson se blik rus peinsend op die ruïnes voor hom. Die oog van die argeoloog kyk anders as die oog van die gewone mens. Vir hom is die ruïnes nie net ’n hoop opgestapelde klip wat ná eeue nog staan nie. Die argeologiese oog kyk ver terug die verlede in en sien die kinders onder die wilde lukwartbome speel – die m’hoba-hoba soos hulle in hierdie geweste bekend staan. Hy sien hulle onder die denne- en bloekombome opgroei. Hy sien die priesters met hul vleklose gewaad en somber, gerimpelde gesigte met donker, stip starende oë al langs die geheime wandelgang beweeg na die offersaal waar wierookbakke en fakkels groteske skaduwees op die ruwe klipmure gooi, terwyl die lykwit hande van die hoëpriesters omhoog gerig word in aanbidding tot die gode van hul voorvaders, die groot en magtige Baäl – Astarte.

      Op die agtergrond klink die temerige gesang van die tempeldienaars op teen die sterwende dag en die moeë delwer na die goud in die boesem van die aarde keer met langsame tred terug na die veiligheid en rus binne die ommuurde stad en vesting. Daar sal hy veilig wees tot môreoggend, wanneer die jubelsang van die priesters met wierookdampe meng terwyl ’n nuwe dag van arbeid en aanbidding aangekondig word en Baäl op sy vurige koets die donker horison breek om sy kinders met nuwe warmte en bloed te besiel.

      Maar wat het van hulle geword – van die kinders onder die m’hoba-hoba, die delwer wat saans huis toe kom, die priester met die wierook en die brandende fakkel? Watter tragedie het hom eeue gelede hier afgespeel sodat geen oorblyfsel van sy bewoners gevind kan word nie? Geen beendere, geen grafte is nog gevind om die mantel oor die swyende misterie te lig nie. Wat het geword van hulle wat hier gesterf het? Waar is hul beendere gebêre en wat het van die laaste lewendes geword?

      Hoe kon die eeue oue geskiedenis hulle so ingesluk het dat daar selfs geen oorlewering, geen legende, geen enkele storietjie van hierdie sonaanbidders en ambagsmanne vertel kan word nie of opgeteken staan êrens op ’n ou perkamentrol of ingebeitel is in die seepsteen wat hierdie mense vir hul beeldhoukuns gebruik het nie? Hoe is dit moontlik dat ’n hele ras van ontwikkelde intellek van die aardbodem kon verdwyn sonder

Скачать книгу