Engele by ons. Susanna S.J. Wiese
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Engele by ons - Susanna S.J. Wiese страница 7
Hiermee saam is diepgaande Bybelstudie nou binne elkeen se bereik danksy die vrye vloei van kennis en die beskikbaarheid van inligting. Die predikant is nie meer die enigste bron van Bybelkennis nie en sy woord is nie meer ongekwalifiseerd wet nie.
Enige student wat die volledige Bybel bestudeer, sal die een of ander tyd aandag moet skenk aan engele, aangesien daar in vier en dertig van die ses en sestig Bybelboeke meer as driehonderd uitsprake oor hulle bestaan.
Met die toename van kennis was dit dan ook moontlik om ’n naam te gee aan ’n onbeskryflike ondervinding wat iemand gehad het. Soos ’n sewentigjarige boer aan my gesê het: “Vandag weet ek presies wat met my gebeur het toe ek twaalf jaar oud was. Ek het altyd daaroor gewonder, maar namate my kennis van die Woord van God toegeneem en ek nader aan Hom begin leef het, weet ek vir seker dat ’n engel my bygestaan het. Dit was nie maar net ’n noue ontkoming nie, soos ek as kind gedink het toe ek van die perdekar af geval en tussen die speke van ’n draaiende wiel beland het.”
Aangesien die beskerming van mense ’n belangrike taak van engele is, moet ’n mens verwag dat hul aktiwiteite in krisistye sal toeneem. In haar boeke skryf Corrie ten Boom oor talle voorvalle waar engele Jode tydens die oorlog help beveilig het. In ander geskrifte word verskeie gevalle beskryf waar engele tydens die oorlog sigbaar betrokke was by die bewaring van byvoorbeeld vegvlieëniers. Wanneer jy weer krisistye tegemoetgaan, kan jy verwag dat die sigbare bedrywighede van engele sal toeneem.
Daar word aanvaar dat dieselfde ondervindings wat mense nou het, ook destyds met mense gebeur het, maar dat ’n mens nou net danksy gevorderde kennis ’n naam daaraan kan gee. Vroeër sou iemand God net gedank het oor hierdie onbegryplike ding wat met hom gebeur het. Vandag kan hy ’n naam daaraan gee en weet dat engeleverskynings, drome of visioene steeds deel van God se werkswyse is.
Dis allermins ’n manier om dié gebeure te veralgemeen of te verkleineer. ’n Mens kan dit vergelyk met die toename in gesondheidskennis: Hoewel die pyn wat mense deur die eeue heen ervaar het dieselfde gebly het, kan daar danksy groter kennis nou meer spesifieke name aan siektetoestande gegee word. Net so kan doodgewone mense nou met die beskikbare kennis ’n naam aan ’n ondervinding gee wat hulle met ’n engel gehad het.
Dit is ook so dat die kerk gedring is om meer aandag aan engele te skenk omdat die wêreld oorweldig word deur Satanisme en belangstelling in duiwels en demone. Ewe skielik moes die kerk oplossings gee aan mense wat deur duiwels gepla word en wat om hulp roep. Namate mense meer bewus geword het daarvan, het die vraag ontstaan: Bestaan sulke dinge werklik en kan dit Bybels geregverdig word? Is daar ’n antwoord daarvoor en wat is die oplossing? Sataniste en satanisme het al hoe sigbaarder geword en duiwelsrites word met groot vrymoedigheid ten aanskoue van die wêreld en televisiekameras beoefen. Dit het selfs meegebring dat sommige Christene duiwelbehep geraak het. Genadiglik het dit ook meegebring dat Christene en die kerk aan engele – goeies en slegtes – begin aandag gee het.
Christene en die kerk moet hulle op Jesus Christus toespits. Gelowiges moet teenoor duiwels optree soos Jesus opgetree het. Hy het hulle uitgedryf met sy woorde, en dan die mens wat genees is, verlos verklaar en hom na die samelewing teruggestuur. Daarmee was die saak afgehandel. Moet nooit onnodige eer aan Satan gee deur aandag op hom te vestig nie. Gelowiges moet hul vyand ken sodat hulle hom kan weerstaan, maar hulle bly hulle beslis nie met hom bemoei nie. Om te herhaal wat iemand eenmaal in ’n tydskrif gesê het: “Ek glo nie in die duiwel nie. Ek glo dat daar ’n duiwel is, maar ek glo in Jesus.”
Waarom gee ’n mens dan hoegenaamd aandag aan engele as dit nie noodsaaklike kennis is nie? Om jou te bemagtig met daardie kennis, en sodat jy nie verskrik of sinies sal wees as die Here jou ooit met ’n sigbare besoek deur een van sy hemelwesens vereer nie. Jy sal weet wat met jou gebeur. En as jy weet hoeveel engele gereed is om jou op God se bevel te help, sal jy minder beangs en neuroties wees oor jou omstandighede. God verkies dat mense hulp sal vra, en Hy word vereer deurdat hulle hul afhanklikheid van Hom erken.
As mense weet dat die vyand, die Satan, reeds aan die kruis deur Jesus verslaan is, sal hulle daardie oorwinning ook vir hulleself toe eien deur hom weg te jaag wanneer hulle versoek word. As mense weet hoe listig, knaend en magtig hy is, sal hulle hulle met die Here Jesus beklee sodat hulle kan staande bly teen Satan se aanslae. En as mense weet watter groot en magtige leër van hemelwesens God tot sy beskikking het om in hul diens te gebruik, sal hulle minder benoud wees. Hulle sal die oorwinning wat hulle reeds in Christus behaal het, vir hulleself toeëien.
Vanselfsprekend is nie elke ondervinding wat mense beleef, of soms optower, bona fide engeleverskynings nie. Die grys gebied tussen wat waarlik van God kom en wat menslike verdigsels is, is baie groot. Voeg daarby die natuurlike gevolge van medisyne wat ingeneem word of mediese ingrype, dan word dit feitlik onmoontlik om elke ondervinding netjies in ’n kategorie te plaas. Vir die Christen is dit in sulke gevalle belangrik om te weet dat jy God kan dank vir enigiets wat met jou gebeur en wat jou op die Here laat fokus, of wat jou nader aan God bring. Of jy ’n presiese naam aan die ondervinding kan gee, en of jy dit in ’n sekere kategorie kan vaspen, is onbelangrik. Dit is hier waar ’n mens onder leiding van die Heilige Gees die gawe van onderskeiding moet gebruik. ’n Eenvoudige riglyn is dat die nuwe inligting in ooreenstemming moet wees met die inhoud en gees van die Skrif en moet bydra tot die eer en uitbreiding van God se koninkryk.
Werksessies waar mense aanbied om jou teen betaling aan jou beskermengel bekend te stel of jou te leer hoe om engele vir jou te laat werk, spring soos paddastoele op. Met die bekendstelling aan jou engel word sy naam aan jou verskaf met die idee dat daar voortaan ’n wisselwerking tussen jou en jou engel sal wees. Hoekom sou ’n almagtige en liefdevolle Vader my engel se naam aan my wil verskaf deur middel van ’n persoon wat nie eens ’n persoonlike verhouding met die lewende Christus het nie? Dit is nie hoe ek Jesus se werkswyse leer ken het in al die jare dat ek ’n pad saam met Hom geloop het nie. En dit is allermins die werkwyse waaraan die Bybel ’n mens bekend stel.
Ek het onlangs ’n holistiese feesmark bygewoon en was verstom oor die verskeidenheid maniere waarop verskillende stalletjies kontak met of inligting oor engele verkwansel het. Dan praat ’n mens nie eens van die magdom ander “geestelike kragte” wat te koop is nie. Wat my verder verstom het, was die toue mense wat gereed gestaan het om hierdie inligting te koop. Ek het weer bewus geword van die ongelooflike geestelike honger wat mense het en hoe baie van hulle uitgebuit word deur mense wat beweer hulle verkoop die ware produk. God se gawes en sy hulp is nie te koop nie. Soveel gelowiges is skuldig daaraan dat hulle nie hul kennis en ervaring met hul naaste deel nie. Gelowiges laat toe dat vals profete hulle stilmaak terwyl hulle toekyk hoe mense die naam verkoop van ’n engel wat kwansuis oor die koper sal waak.
Om te koop voorsien in mense se perverse behoefte om oor iets beheer te hê. Dalk moet mense diep in hul harte kyk of hulle nie stilswyend meedoen aan hierdie onbybelse praktyke omdat dit hulle minder weerloos laat voel nie. Dit wat ’n mens glo, kan jy nie sien nie (vgl. Heb 11:1, 3), en dit maak jou bang. Liggelowigheid maak mense slagoffers van vals profete omdat hulle dít wat mense nodig het in ’n tasbare vorm bied. Mense soek bewyse en vergeet dat God net geloof vra.
Mense erken dit nie maklik nie, maar heimlik bestaan daar tog die idee dat iemand aan wie ’n engel verskyn het, ’n bietjie verhewe is bo ander sterflinge. Na hul mening moes so iemand iewers in hul lewe iets goed of reg gedoen het waarvoor hulle nou beloon word deurdat ’n engel aan hulle verskyn. Niks is verder van die waarheid verwyderd nie. God sal nie ’n engel aan iemand laat verskyn as beloning vir enigiets nie. Hy sal ook nie ’n engelverskyning van iemand weerhou as straf vir iets wat die persoon verkeerd gedoen het nie.
God sal wel ’n engel aan iemand laat verskyn as Hy dink dis om die een of ander rede noodsaaklik – ter bemoediging, vertroosting, waarskuwing, beskerming, hulp of ter versterking van die persoon se geloof. Die feit dat God dit goedgedink het om iemand deur middel van ’n engel te besoek, verhef