Annelize Morgan Omnibus 5. Annelize Morgan
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Annelize Morgan Omnibus 5 - Annelize Morgan страница 6
Nicole kyk agterdogtig na haar.
“Wat is daar wat ek kan oorkom?”
Consuelo bekyk haar van kop tot tone, onbeskaamd geamuseerd.
“Baie … Jy kan byvoorbeeld oor die reling verdwyn sonder dat enigiemand dit sien. Ek hou nie daarvan dat vroue agter Ramirez aanloop nie. Hy behoort aan my en solank jy dit begryp, is jy veilig.”
’n Rilling gaan langs Nicole se ruggraat af. Consuelo bedoel dit, dink sy ontsteld. Hierdie wilde sigeunerin sal haar dreigement uitvoer as sy die idee kry dat sy, Nicole, in die kaptein belangstel.
“Jy kan maar jou planne vergeet,” sê sy ietwat bewerig. “Ek dink hy is ’n buffel.”
Consuelo lag weer sag.
“’n Tipiese Franse edellied,” sê sy smalend. “Julle kan nie werklike manlikheid waardeer wanneer julle dit sien nie.” Sonder om verder op Nicole ag te slaan, stap sy na die ingang wat na die trappe van die ruim van die skip lei.
Nicole draai ontsteld om om weer uit te kyk oor die bleekwit oseaan. Die gesprek met Consuelo het haar omgekrap. Sy sal in haar pasoppens moet bly as sy nie in die see wil beland nie. Consuelo is nie iemand wie se dreigemente ligtelik opgeneem behoort te word nie.
“Sy is nie skadeloos nie, señorita,” sê Da Silva hier agter haar en sy draai vinnig om. “Dit sal raadsaam wees om haar nie te kwaad te maak nie.”
Nicole byt op haar tande.
“Ek het nooit kon droom dat jý vir haar bang sou wees nie!”
Daar is ’n flikkering in sy donker oë.
“Ek is nie vir haar bang nie.”
“Maar sy reël nogtans jou lewe tot in die fynste besonderheid,” kap Nicole terug. “Of was jy nie daarvan bewus nie?”
Hy kyk fronsend na haar.
“Nee, ek was nie. Op watter manier reël sy nogal my lewe, as ek mag vra?” wil hy sarkasties weet.
“Toevallig was dit hierdie keer nie iets waaroor jy jou hoef te bekommer nie, kaptein. Ek stel nie in jou as persoon belang nie en dit was skynbaar waarvoor sy bang was.”
Hy lag sag.
“Nou toe nou! Is jy ’n mannehater?”
“Nee …” antwoord Nicole, effens uit die veld geslaan.
“Maar soos die meeste Franse sien jy neer op die seelui en veral die Spanjaarde.”
Sy skud haar kop heftig.
“Ek oordeel niemand op grond van sy afkoms of roeping nie. Dis tog immers ’n mens se karakter en persoonlikheid wat hom of haar maak.”
“En jy hou nie van my nie?”
“Nie besonder baie nie, monsieur. Ek besef maar te goed dat u so moet wees om gedurig gesag te kan afdwing … Dis u werk, maar …” Sy bly skielik stil omdat sy hom nie wil beledig nie.
“Maar jy hou nie van my manier om gaste op my skip te behandel nie?”
Sy knik stadig.
“Dis seker nie vir u belangrik nie, maar vir ’n passasier wat alleen reis, kan dit nogal ongemaklik wees.”
Hy lag.
“Hierdie is nie ’n reisende teater of ’n plek waar die mense met mekaar sit en ginnegaap nie, señorita. Dis jammer dat u alleen moet reis, maar ek kan daar niks aan doen nie. Miskien moet jy vriende maak met Consuelo. Dan sal jy darem geselskap hê.”
Sy kyk vinnig na hom.
“Sy sal nie vriende met my maak nie. Sy het dit duidelik gemaak dat sy my van die skip afwens.”
Hy lig sy wenkbroue.
“Jy moet net versigtig wees dat sy nie die daad by die woord voeg nie. Sy is baie impulsief van geaardheid.”
“Dankie dat u my gewaarsku het,” sê Nicole ysig. “Dis nogal gaaf om te weet dat die passasiers op hierdie skip heeltemal aan hulleself oorgelaat word … selfs wanneer hulle gedreig word.”
“Ek sal met haar gaan praat.”
Sy skud haar kop heftig.
“Dit sal alles net vererger. Ek dink darem dat ek myself goed genoeg sal kan verdedig.” Sy steek haar hand in ’n versteekte sakkie tussen die voue van haar tabberd in en bring ’n glinsterende oosterse kris te voorskyn. “Niemand gaan my oorboord gooi sonder om ’n dolk in sy maag te kry nie.”
Sy gesig verstrak toe hy na die dodelike wapen kyk. Dan kyk hy na haar.
“Ek dink jy moet dit liewer vir my gee. Nou-nou kry iemand seer.”
Sy steek dit terug in die sak.
“Dis my enigste selfverdediging, monsieur. Ek weet hoe en wanneer om dit te gebruik.”
“Die matrose mag jou dalk lastig val.”
“Dis onwaarskynlik dat hulle my oor die reling van die skip sal wil gooi, monsieur. Ek gebruik dit net om my eie lewe te verdedig.”
Hy aarsel net ’n oomblik voordat hy sê: “Solank u by daardie besluit hou, is dit goed, maar enige onverantwoordelike gebruik van daardie wapen sal maak dat ek u moet opsluit vir die res van die reis.”
“Dis heeltemal ’n redelike dreigement, monsieur.”
“Solank ons mekaar net verstaan,” sê hy in ’n koue stem. “As u enigiets nodig het, sal u Pedro in die stuurkajuit kry. Hy sal omsien na u wense.” Hy maak net ’n ligte buiging en stap dan van haar weg.
Nicole probeer die bonsing van haar hart stil. Dis die geheimsinnige betowering van die nag op see wat sulke dinge aan haar doen, besluit sy. Dis nie die Spanjaard se magnetiese aantrekkingskrag wat haar hart laat bokspring nie. Maar sy weet dat sy haarself om die bos lei; die wilde onstuimigheid in haar hart word deur hóm ontketen. Dis ’n magtelose gevoel, want dit sal nooit beantwoord word nie. As sy haar lewe liefhet, sal sy baie versigtig moet wees om niemand iets te laat agterkom nie.
Eindelik gaan sy terug na haar kajuit om voor te berei vir die nag.
Laat die volgende middag vaar hulle deur die Straat van Gibraltar sonder om iewers in ’n hawe aan te doen. Voor hulle lê die wye Atlantiese Oseaan en al die gevare wat daarmee gepaardgaan.
Nicole klim op die voorkasteel om ’n goeie uitsig te hê oor die hawe van Gibraltar en die groot rots wat dit oorheers. Dit word vinnig donker en die son is lankal reeds onder toe hulle eindelik die wye Atlantiese Oseaan binnevaar. Nog word die siele nie ingetrek nie en stoot die wind hulle oor die egalige deining van die see. Die El Mar vaar onverpoosd voort, asof die kaptein haastig is om sy bestemming te bereik.
Die boeg kloof die water voor haar in die donker en maak helder golwe van fosfor. Dit skuim en borrel om die boeg tot diep