Die hart van 'n wenner. Pieter van Jaarsveld
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die hart van 'n wenner - Pieter van Jaarsveld страница 2
Daar bestaan talle definisies van emosionele intelligensie (EI), maar baie van hulle het geen navorsing om dit te rugsteun nie en is die onbewese sienswyse van die formuleerder daarvan.
Goleman definieer emosionele intelligensie as: The capacity for recognising our own feelings and those of others, for motivating ourselves, and for managing emotions in ourselves, and in our relationships.(1)
Self verkies ek die definisie van Reuven Bar-On. Nie net het hy sy navorsing in Grahamstad in 1985 begin nie, maar ook die assesseringsinstrument (EQi) ontwikkel wat in Augustus 1996 amptelik bekendgestel is. Dit het geblyk die beste evalueringsinstrument vir EI in Suid-Afrika te wees, en baie betroubare navorsing is tot dusver hierop gegrond: EI is ’n versameling niekognitiewe vermoëns, bekwaamhede en vaardighede wat ’n uitwerking het op ’n mens se vermoë om sukses te behaal in die hantering van omgewingseise en druk.(2)
EI verwys dus na die volgende dimensies van intelligensie:
•Persoonlik
•Sosiaal
•Emosioneel
•Innoverend (vernuwend)
•Oorlewingsvaardighede
Hierdie boek is gegrond op Bar-On se benadering tot EI (emosionele intelligensie). Die telling van ’n EI-toets staan bekend as die EK-telling (EQ), terwyl die telling vir kognitiewe vermoë as IK (IQ) bekend is. (Q [Engels] = “quotient”; K [Afrikaans] = kwosiënt. ’n Sinoniem vir “kwosiënt” is “syfer” of “uitkoms”.)
In die literatuur sal ’n mens dikwels vind dat, wanneer die skrywer verwys na vaardighede wat emosionele intelligensie betref, die term EK eerder as EI gebruik word, wat nie 100% korrek is nie. Deesdae is dit feitlik aanvaarbaar om die term EK te gebruik wanneer jy na EI verwys en ek doen dit ook in hierdie boek.
’n Groot getal boeke oor EK is reeds gepubliseer waarin die nadruk slegs op die emosionele dimensie van intelligensie val. Self glo ek juis die niekognitiewe dimensies bepaal sukses in die lewe, eerder as net die emosionele dimensies. Hoewel die emosionele dimensies belangrik is, vorm hulle slegs ’n deel van die niekognitiewe dimensies.
IK vs EK
IK is die assessering van ’n individu se intellektuele, analitiese, logiese en rasionele vermoëns. Dit verskaf ’n aanduiding van die individu se vermoë om dinge te leer, op take te fokus, objektiewe inligting op te roep en te onthou, asook hoe hy redeneer en getalle hanteer, abstrakte en analitiese denke gebruik en die manier waarop hy probleme oplos deur vorige kennis toe te pas.(3)
EK is die niekognitiewe dimensies van intelligensie. SJ Stein beskou dit as die vermoë om die politieke en sosiale omgewing te lees; om intuïtief aan te voel wat ander mense wil hê en nodig het, asook wat hul sterk punte en swak punte is; om onverstoord te bly onder stres; en om innemend te wees, die soort mens wat ander mense graag wil ken.(4)
IK-feite
•IK voorspel sukses op skool.
•IK voorspel gemiddeld slegs 10% van sukses in jou werk.
•IK is gevestig en bereik ’n hoogtepunt in die laat tienerjare en vroeë twintigerjare.
•IK is kultuurgebonde.
•IK kan nie ontwikkel word nie.
EK-feite
•EK is nie gevestig nie. Dit kan voortdurend ontwikkel word.
•EK ken geen kultuurverskille nie.
•EK is in die algemeen nie gebonde aan geslag nie. Vroue kan meer emosioneel wees en oor ’n hoër vlak van empatie beskik, asook doeltreffender met interpersoonlike verhoudings wees. Mans, daarenteen, kan hoër vlakke van selfvertroue hê, meer optimisties wees en ’n hoër vlak van strestoleransie toon.
•EK kan realisties en objektief gemeet word, soos IK.
•Hoe sterker jou EK-vaardighede, hoe groter jou kanse op sukses.
•EK kan selfs al in jou kinderjare ontwikkel word. Die ontwikkeling van EK-vaardighede in die kinderjare dui beslis op sukses in volwassenheid.
EK en sukses
Dit is duidelik dat IK nie meer as 10% tot sukses bydra nie en dalk selfs net 4% gemiddeld tot sukses in die werkplek.(5) By ’n konferensie oor EK wat in 1999 in Chicago gehou is, het Goleman gesê IK bepaal 15% van die sukses van leiers in beroepe, terwyl EK 85% bepaal. Vir meer inligting oor navorsingsbewyse, sien die Consortium for Research on EI in Organisations, waarvan Daniel Goleman en Cary Cherniss die voorsitters is, op die webbladsy: www.EIConsortium.org.
Dit is ’n ontstellende feit dat kinders al hoe slimmer word terwyl hul emosionele intelligensie op die afdraande pad is. Onder kinders bestaan daar deesdae toenemende vlakke van wanhoop sowel as vervreemding, dwelmmisbruik, misdaad en geweld, depressie, eetprobleme, ongewenste swangerskappe, afknouery en ’n neiging tot skoolverlating. ’n Mens kan jou kwalik indink wat dit vir toekomstige ouers en die arbeidsmag voorspel!(6)
Dit is dus nie meer net ’n prerogatief om die EK-vaardighede van kinders te ontwikkel nie, maar ’n absolute noodsaaklikheid. Ten einde dit te doen, moet ons met die ouers begin sodat hulle toegerus is met die nodige EK-vaardighede om hul kinders te help.
Iets omtrent hierdie boek
DEEL I
DEEL I het te doen met EK-vaardighede vir VOLWASSENES in die algemeen (onder wie OUERS). Die doel daarmee is nie om al die dimensies te behandel nie, maar net ’n paar wat gekies is om die individu te help om sy of haar emosionele volwassenheid te ontwikkel.
In HOOFSTUK 1 is die klem op die vermeerdering van selfvertroue deurdat die leser toegerus word met vaardighede om sy of haar selfbemeestering en selfagting te verbeter. ’n Mens kan jou potensiaal beter gebruik deur negatiewe kondisionering te verander, te leer om geesteskrag te gebruik, en deur die ontwikkeling van ’n vermoë om selfspraak te beheer.
In HOOFSTUK 2 word emosionele selfbewussyn behandel en die leser gehelp om sy of haar emosies te hanteer sowel as om doeltreffender met woede en kritiek om te gaan.
HOOFSTUK 3 handel oor optimisme en gee riglyne hoe om mislukkings te hanteer. Dit leer die leser ook van hulpeloosheid en pessimisme en hoe dit depressie kan veroorsaak. Die leser word ook verskillende tegnieke geleer wat kan help om pessimistiese gedrag in optimistiese gedrag te verander.
In HOOFSTUK 4 word stresbeheer behandel. Hier word tegnieke en vaardighede bespreek om die leser te help om die lewe doeltreffend te hanteer en strestoleransie te verbeter.
HOOFSTUK 5 bevat riglyne om te besin oor die balans in jou eie lewe en die leser word gelei om doelwitte te stel om ’n selfverwesenlikte individu te word wat in staat is om sy of haar potensiaal ten beste te gebruik.
DEEL II
DEEL II het te doen met die kind en meer bepaald met maniere waarop die EK-vaardighede