Witwatersrand. Wilbur Smith
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Witwatersrand - Wilbur Smith страница 14
“Ek sal jou wys!” Doef!
“Ek sal jou leer!” Doef!
Teen hierdie tyd is Sean by hulle. Hy gryp mnr. Clark se arm en ruk hom terug. “Los hom! Hy het niks gedoen nie!”
Mnr. Clark sien Sean se gesig voor hom, die gesig wat hom nou al twee jaar terg. En buite homself van woede, bal hy sy vuis en haak af na die gesig.
Sean steier van die geweld van die hou. Sy oë traan. ’n Oomblik lank lê hy uitgestrek oor die lessenaar waarop hy te lande gekom het. Hy gluur Clark aan en grom soos ’n dier.
Die geluid bring Clark tot besinning. Hy staan agteruit, maar hy vorder net twee tree voor Sean op hom is. Sean slaan hom met albei vuiste, hik-hik met elke hou, totdat Clark voor teen die swartbord vassteier. Hy probeer wegbreek, maar Sean vang hom aan die kraag van sy hemp en pluk hom terug. Die kraag skeur halfpad af in Sean se hand en die seun slaan hom weer. Clark gly af teen die muur totdat hy op die vloer teen die muur bly sit en Sean hygend oor hom staan.
“Loop hier uit,” sê Clark. Sy tande is rooi van die bloed en ’n paar druppels loop oor sy lippe. Sy kraag staan windmakerig regop langs sy oor.
Daar is geen geluid in die vertrek behalwe Sean se harde geblaas nie.
“Loop hier uit,” sê Clark weer.
Die woede sak stadig uit Sean se lyf weg. Hy staan ’n oomblik bewend van die reaksie en dan stap hy deur toe.
“Jy ook!” Clark wys na Garrick. “Loop hier uit en moenie weer terugkom nie!”
“Kom, Garry,” sê Sean.
Garrick staan op uit sy lessenaar, hink na Sean toe en saam loop hulle uit op die speelterrein.
“Wat gaan ons nou doen?” Daar is ’n groot rooi bult op Garrick se voorkop.
“Ek skat ons moet seker maar huis toe gaan.”
“Wat van ons goed?”
“Ons kan dit tog nie alles dra nie. Ons sal dit seker maar later moet laat haal. Kom ons loop.”
Hulle stap uit die dorp uit en met die pad langs plaas toe. Hulle is al byna by die brug oor die Bobbejaanspruit voor hulle weer met mekaar praat.
“Wat dink jy sal Pa doen?” vra Garrick. Dis die groot vraag wat albei besig hou sedert hulle uit die skool gekom het.
“Wat Pa ook gaan doen, dit was dit werd,” grinnik Sean. “Het jy gesien hoe neuk ek hom, hè? Doef! Vol in die bek.”
“Jy moes dit nie gedoen het nie, Sean. Pa gaan ons vermoor. Vir my ook en ek het niks gedoen nie.”
“Jy het gesnuif,” herinner Sean hom.
Hulle kom op die brug aan en gaan leun langs mekaar oor die reling terwyl hulle in die water afstaar.
“Hoe voel jou been?” vra Sean.
“Dis seer. Ek dink ons moet bietjie rus.”
“Nou goed, as jy so sê.”
Hulle bly ’n hele ruk stil en dan: “Ek wens darem jy het dit nie gedoen nie, Sean.”
“Dit sal nie help om te wens nie. Ou Neusgate is behoorlik opgeneuk en al wat ons nou kan doen, is om te prakseer wat ons vir Pa gaan vertel.”
“Hy’t my geslaan,” sê Garrick. “Hy kon my verongeluk het.”
“Ja,” stem Sean regverdig saam. “En hy’t my ook geslaan.”
Hulle dink ’n rukkie na.
“Miskien moet ons maar wegloop,” stel Garrick voor.
“Sommer so sonder om Pa daarvan te sê?” Dit pla Sean nogal.
“Ja, ons kan matroos gaan word of so iets.”
“Jy sal seesiek word, jy word dan siek op die trein.”
Weer dink hulle hard oor die probleem. Dan kyk Sean na Garrick en Garrick na Sean, en asof hulle vooraf ooreengekom het, staan hulle regop en vat weer die pad Theuniskraal toe.
Ada is voor die huis in die tuin doenig. Sy het ’n breërandstrooihoed op haar kop om die son uit haar gesig te hou en oor die een arm dra sy ’n mandjie blomme. Sy is so besig met haar blomme dat sy nie die twee seuns sien voor hulle halfpad oor die grasperk is nie. Toe sy hulle sien, bly sy botstil staan. Sy moet haarself staal, probeer om haar emosies onder beheer te kry. Uit ondervinding weet sy dat sy die ergste van haar twee stiefseuns moet verwag en dat sy dankbaar moet wees wanneer dit nie die ergste is nie.
Hulle loop al stadiger hoe nader hulle aan haar kom. Uiteindelik steek hulle albei vas soos twee opwenmannetjies wat afgeloop het.
“Hallo,” sê Ada.
“Middag, Ma,” antwoord hulle tegelyk.
Garrick vroetel in sy sak, haal ’n sakdoek uit en snuit sy neus. Sean staar in die lug na die spits Hollandse gewel van die opstal asof hy dit nog nooit voorheen gesien het nie.
“En toe?” Ada se stem bly kalm.
“Mnr. Clark het gesê ons moet huis toe kom,” kondig Garrick aan.
“Hoekom?” Ada voel sy gaan nie lank kalm bly nie.
“E … e …” Garrick kyk na Sean, maar hy gee nog altyd sy volle aandag aan die gewel.
“E … e … Ma sien, Sean het hom teen die kop geslaan totdat hy neergeslaan het. Ek het niks gedoen nie.”
Ada kreun saggies. “Ag, nee!” Sy haal diep asem. “Nou goed. Begin heel voor en vertel die hele storie.”
Hulle vertel stuk-stuk en om die beurt. Dis ’n deurmekaarspul van woorde en elke af en toe val hulle mekaar in die rede en argumenteer oor die kleiner besonderhede. Toe hulle klaar is, sê Ada: “Julle moet maar na jul kamer gaan. Julle pa werk vandag in die kampe hier by die huis en hy sal nou-nou kom eet. Ek sal probeer om hom so ’n bietjie voor te berei.”
Die kamer voel vir hulle soos ’n dodesel.
“Hoeveel dink jy sal hy ons gee?” vra Garrick.
“Hy sal ons seker deurloop totdat hy moeg is, dan sal hy rus en ons nog gee,” antwoord Sean.
Hulle hoor hoe Waite se perd die werf binnetrippel. Hy sê iets aan die staljong en lag hard. Die kombuisdeur klap en dan is daar ’n halfminuut lank ’n gespanne stilte voor Waite eensklaps iets bulder. Garrick wip soos hy skrik.
Die volgende tien minute kan hulle hoor hoe Ada en Waite in die kombuis praat: dis sy gedreun en haar kalmerende gemurmel. Dan klink Ada se voetstappe in die gang af tot by hulle deur. Sy kom binne.
“Julle pa wil julle sien, hy’s in sy werkkamer.”
Waite staan voor die kaggel. Sy baard