'n Nooi vir Omdraaikrans. Sarah du Pisanie

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу 'n Nooi vir Omdraaikrans - Sarah du Pisanie страница 1

'n Nooi vir Omdraaikrans - Sarah du Pisanie

Скачать книгу

      SARAH DU PISANIE

      ’n Nooi vir Omdraaikrans

      Jasmyn

      1

      “Ek moes natuurlik geweet het dit klink te goed om waar te wees! Jy het nog niks verander nie, Hilda. Jy is nog net so selfsugtig soos altyd.”

      “En jy is nog net so uitgesproke soos altyd!” Die pragtige meisie met die los blinkbruin hare se oë blits gevaarlik. Met moeite beteuel sy haar humeur.

      Mariet Fourie vou haar arms voor haar bors en leun terug in die regop fluweelstoel. Sy vou haar enkels oorkruis en haar hele houding is een van onwankelbare vasberadenheid.

      Hilda Cronjé stap soos ’n ingehokte dier op en neer op die sagte, wollerige mat. Sy gaan staan ’n oomblik stil by die kaggelrak, haar rug na haar gas gekeer, en haar hande bewe van ingehoue woede terwyl sy vir haar ’n sigaret aansteek.

      “Dit was gemeen en onbedagsaam van jou om my hierheen te laat kom. Ek het uit my werk bedank. Arme oom Dolf sit nou sonder ’n tikster. Hy was nogal grootmoedig genoeg om my die kans te gun. Hy het dit beskou as ’n wonderlike geleentheid. Nou kom ek eers agter dat dit weer een van jóú kastaiings is wat ek uit die vuur moet kom krap. Ons is nie meer op skool nie, Hilda! Ons het daardie deel van ons lewe twee jaar gelede al afgelê.”

      “Maar probeer tog verstaan, Mariet. Ek kon mos nie drie maande lank daar gaan sit nie! Dit … is tog belaglik! Buitendien sal jý dit geniet. Ek weet jy sal!” Hilda se stem raak weer pleitend toe sy besef dat sy haar benadering heeltemal sal moet verander. Sy het al vergeet hoe beslis Mariet oor sekere dinge kan wees.

      “Of ek dit sal geniet of nie, is nie nou ter sprake nie, Hilda. Jy het my onder ’n wanindruk gebring en daaroor neem ek jou kwalik!”

      “Jy ken my tog, Mariet. Ek handel altyd impulsief. Ek wou jou so graag weer sien. Toe ek dus hoor dat ek op ’n plaas sal moet gaan bly, het ek dadelik aan jou gedink. Jy was nog altyd lief vir die stil plaaslewe. Daar is nog meestal ’n klomp kinders ook.”

      “Luister, Hilda, die vier jaar dat ons twee kamermaats in Windhoek was, het my baie dinge van jou geleer. Jy is nie nou besig om kluitjies te bak nie, jy is besig om hele brode in die oond te steek.”

      Hilda byt ingedagte aan haar lip. Sy sal die storie so moet draai dat sy op Mariet se gevoel kan speel. Mariet het haar altyd teen die ander beskerm en haar onder haar vlerk geneem.

      “Ag, Mariet …” Hilda snuif liggies en druk haar sakdoek teen haar oë. “Ek het al die jare by my eie ma gebly, dit was so anders. My stiefma is aaklig! Sy steek my pa teen my op. Ek mag niks doen nie.”

      Mariet voel hoe die kors om haar hart ’n krakie maak. Arme Hilda! Sy was maar altyd die “arm rykmanskind” – arm aan geestelike skatte en lewensgeluk. Haar ouers is geskei toe sy op ’n baie gevoelige ouderdom was. Sy het egter ook maar die situasie goed uitgebuit, die een teen die ander afgespeel en gesorg dat sy die beste uit albei kry.

      Mariet kyk na die groot bruin oë wat nou so hartseer lyk en toe sy vorentoe beweeg, hang die lang bruin hare sag teen haar wang. Op hierdie oomblik lyk sy na ’n baie ongelukkige, weerlose ou meisietjie.

      “Arme Hilda! Ons was almal vir jou so jammer toe jou ma in ons matriekjaar so tragies verongeluk het. Jy weet dit tog. Jy weet ook dat ek altyd vir jou ’n spesiale ou plekkie in my hart gehad het.”

      “Ek weet, Mariet, en ek het dit so baie waardeer. Jy het my glad saamgeneem na jou mense toe gedurende die kort vakansies. Dit was so lekker – ons almal saam op die ou dorpie in jul ruim ou huis. Julle is sulke lieflike, opregte mense.” Daar is opregte hunkering in Hilda se stem.

      “Ek is seker daarvan dat jy die saak verkeerd insien, Hilda.” Mariet staan vinnig op en gaan sit langs haar op die bank. “Jou pa was dan altyd so lief vir jou. Hy voel seker maar noudat jy sy volle verantwoordelikheid is, wil hy jou ander dinge ook leer; dinge wat ’n mens nie met geld kan koop nie.”

      Hilda laat haar kop sak en speel met haar sakdoek. As Mariet moet weet hoe waar haar woorde op hierdie oomblik is, sal sy haarself as ’n profeet beskou.

      Sy trek egter haar skraal skouertjies beslis agtertoe. Sy is nié van plan om so ’n vreeslike straf vir so ’n ou oortredinkie te aanvaar nie. Dit is net Selma se slinksheid! Dit is sy wat haar pa opsteek om met sulke wrede en gemene dinge vorendag te kom. Hy het nooit vroeër aan sulke dinge gedink nie.

      “Mariet …!” Die bruin oë is vol trane en baie pleitend. “Dit is mos nie so ’n vreeslike groot guns wat ek jou vra nie! Jy gaan drie maande lank baie interessante werk doen én jy word daarvoor betaal. Jy kan wonderlike ondervinding opdoen. Ek sal jou ook nog ruim vergoed buiten die salaris.”

      “Is jy nou heeltemal dottie? Jy weet baie goed ek sal nooit geld van jou aanneem nie.”

      Haar oë vernou terwyl sy stip na Hilda kyk. Hulle twee was nooit boesemvriendinne nie. Hulle was vier meisies in ’n kamer, en sy en Bertha was baie groter vriendinne as sy en Hilda.

      Tog was sy altyd jammer vir Hilda omdat sy nie liefde met haar geld kon koop nie. Sy het haar dus maar onder haar vlerk geneem.

      Ná Hilda se ma se dood het sy haar gedurende langnaweke en kort vakansies saamgeneem huis toe. Hilda het dit buitengewoon baie geniet. Dit het haar laat besef dat Hilda ook maar diep binne-in hunker na liefde en die warmte van ’n huislike kring.

      “Hilda, kom ons begin weer heel voor. Jou pa wil hê jy moet drie maande lank by hierdie man … dokter … e …”

      “Doktor Liebenberg.” Hilda sit ongemerk nader aan Mariet. “En hy is nie ’n geneesheer nie, hy is ’n kopdokter, en boonop ’n akademiese ou wrak.”

      “Doktor Liebenberg gaan werk. Volgens jou woon hierdie sielkundige op ’n plasie.”

      “Dit is nie eintlik ’n plaas nie … baie kleiner, amper soos ’n kleinhoewe. Hy boer ook nie daar nie.”

      “Wel, wat hy ook al daar doen, maak nie saak nie. Die feit bly staan, hy woon daar en sy tikster moet ook daar kom bly omdat hy aan ’n boek of ’n ding werk.” Mariet tik die punte een vir een op haar vingers af.

      “Jy sal dit vreeslik geniet, Mariet. Die ou dorpie waar julle woon, is ook mos maar klein. Jy is tog gewoond aan die platteland.”

      “Ek sál dit baie geniet, Hilda. Die man wil egter nie vir mý hê nie. Jý het die werk gekry. Soos ek dit nou verstaan, het jou pa spesiaal gereël dat jy die werk kry om jou ’n slag los te maak uit hierdie rykmansbestaan wat jou so bedorwe maak.”

      “Dit is nie waar nie! Ek –” Hilda kyk op in Mariet se eerlike groen oë en knip dan vinnig haar sin kort.

      “Daar is nog dinge wat jy verswyg, Hilda. Ek dink jy moet maar liewer vir my die hele waarheid vertel.”

      “Ek hét jou mos alles vertel. Pappa het skielik besluit dat ek nou moet gaan werk. Nou, vandat hy en Selma getroud is, is alles wat ek doen, verkeerd. Dit is sý! Sy wil my uit die huis uit hê. Hulle is drie maande lank Amerika toe en nou moet ek in die gramadoelas gaan sit.”

      Hilda se stem is opstandig en ongelukkig en haar hele houding is so pateties dat Mariet onwillekeurig haar arms om haar slaan en haar styf teen haar vasdruk.

      “Toemaar! Dit is dalk nie so erg nie. Ek sal self met jou pa praat. Jy kan by ons kom bly.”

      “Nee!

Скачать книгу