Pruimtwak en skaduboksers. Danie Marais
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Pruimtwak en skaduboksers - Danie Marais страница 6
Om te dink jy kan aanlyn saamleef in die 21ste eeu en ’n objektiewe kommentator bly, is dalk om soos ’n mal professor te glo jy kan jou met DNS-skommelende middels inspuit en nugter die gevolge op jou eie bewussyn analiseer. Dís hoekom Miley my pla. Al haar toertjies is nie veronderstel om my regtig te skok of te prikkel nie, maar om my aandag te trek. En daarin het sy helaas geslaag.
Ek is een van die meer as 700 miljoen agies wat na die “Wrecking Ball”-video op YouTube gaan kyk het. Ek het boonop pas ’n rubriek op haar gemors en die begaafde Sofia Coppola het dit selfs nodig gevind om ’n skitterende fliek te wy aan verveelde, ryk en mediadronk telgies nes sy. Ons behoort ons te skaam.
HOOR MY BRUL
As jy verstom saam met Shakespeare se Hamlet wil uitroep: “What a piece of work is man!” hoef jy nie verder as ons popkultuur te soek nie. Dis alles dáár in die lirieke van ons grootste poptreffers.
“Wat sê hulle nou, Pappa?” is waarskynlik die vraag wat ek vanjaar die meeste moes beantwoord, want Lea, my dogtertjie van vyf, het ernstig begin belangstel in sekere liedjies. “The Eye of the Tiger” van Survivor was een van die lirieke wat ek moes uitlê nadat dit in Turbo – die animasieprent oor ’n onwaarskynlike ren-slakkie – gebruik is en sy dit gereeld in die motor begin versoek het.
“As jy wil wen, moet jy ’n oog soos ’n tier hê,” het ek probeer verduidelik.
Lea het daaroor gedink en met ’n ernstige frons gesê: “Maar ’n mens kan nie ’n oog soos ’n tier hê nie.” Toe haar maatjie Sam egter ’n volgende keer saamry en Survivor weer Rocky se temalied deur die luidsprekers jaag, het sy vir hom skoolmeesterlik my verduideliking van die refrein herhaal.
En toe tref Katy Perry se “Roar” haar. Op YouTube kyk sy oor en oor die video van Katy wat in haar Sheena-koningin-van-die-oerwoud-pakkie al wat ’n man en wilde dier is wegbrul. Die lirieke sing sy woord vir woord uit volle bors saam en natuurlik veral die refrein:
I got the eye of the tiger, a fighter, dancing through the fire
’Cause I am a champion and you’re gonna hear me roar
“Ek is ’n tier, Pappa” verklaar sy wanneer ek geamuseerd met haar in die truspieëltjie oogkontak maak. En dan dink ek aan ons wilde wêreld en die dapper muis op die agtersitplek in haar Hello Kitty-hemp en ek reken Anton Tsjechof was, soos gewoonlik, reg: “Selfs in Siberië is daar geluk.” Hy was ook reg toe hy in “Across Siberia” opgemerk het: “In Siberië brul nie net die bere nie, maar mossies en muise ook. ‘Die kat het hom gevang en hy brul,’ sê hulle van ’n muis.”
“Roar” herinner my nie net aan Tsjechof en Katy se eksman, Russell Brand, nie (“Roar” is glo geskryf nadat Perry terapie ontvang het om hul mislukte huwelik te verwerk), maar ook aan ’n essay van Chuck Klosterman in Sex, Drugs and Cocoa Puffs. In “Toby over Moby” wys Klosterman daarop dat die meeste toptreffers se woorde vir gewone mense tel, en bitter baie ook. Kultuursnobs glo volgens hom poplirieke is: “(a) heeltemal irrelevant of (b) slegs relevant indien dit moeilik verstaanbaar is”. Maar, sê hy, dis nie hoe gewone mense dink nie – gewone mense wil meesal presies verstaan wat kunstenaars sê en dit word duidelik wanneer jy sien watter liedjies regtig inslaan buite hipsterneste soos New York, LA en Seattle.
Die meeste mense, reken Klosterman, droom nie daarvan om soos intellektuele, boheme of kunstenaars hul lewe in iets dramaties, cool of metafories te transformeer nie. Hulle sien hul lewe as ’n werk wat hulle moet afhandel. Hulle wil hê hul lewe moet eenvoudiger wees as wat dit reeds is; dat hierdie lewe, anders as ’n goeie, genuanseerde gedig, net een betekenis moet hê.
Wanneer hulle dus droom van ’n beter bestaan, is dit óf geheel en al verbeelde versugting (soos die waansinnig gewilde countrysanger Toby Keith se 19de-eeuse Lone Ranger-fantasie), óf dis die uitdrukking van ’n verbete praktiese finansiële of emosionele behoefte. Dink byvoorbeeld aan Whitney Houston se enorme treffer “I Want to Dance with Somebody (Who Loves Me)”.
Klosterman kom tot die slotsom die rede hoekom country-popsterre soos Garth Brooks en Shania Twain al ongeveer 120 miljoen meer plate as Bob Dylan verkoop het, is nie omdat musiekkopers almal ’n klomp volslae idiote is nie. Dit is omdat Brooks en Twain beter daarin geslaag het om die menslike toestand onder woorde te bring: “Hulle mag minder talentvol wees, maar hulle verstaan meer mense.”
En nou’s ek in die versoeking om saam met Klosterman te sê ek het darem een ding met die groot Bob Dylan gemeen: Nie een van ons verstaan die mensdom nie.
Maar dit sou ’n halwe waarheid wees. Ek en baie van die grootste treffers verstaan mekaar uitstekend in al ons ingewikkelde, doodgewone menslike eenvoud – nes “Roar” my dogtertjie en miljoene ander begryp wat klein, onderdruk en magteloos voel.
Dit het ek deeglik besef by Neil Diamond en U2 se konserte toe ek saam met die hele Kaapstad-stadion “I am I said to no one there” en “I still haven’t found what I’m looking for” gesing het. En toe Bruce Springsteen met “Dancing in the Dark” op sy eerste Kaapse konsert laat waai, het ek geroar nes Katy en klein Lea, maar niemand het my gehoor nie, want duisende ander het saam met my gebrul: “I wanna change my clothes, my hair, my face”. En: “You can’t start a fire worrying about your little world falling apart / This gun’s for hire / Even if we’re just dancing in the dark”.
Ek vermoed Shakespeare en Tsjechof sou ook saamgesing het.
DIE VIDA E-CAPPUCCINO-BLUES
“So, jy wil regtig nie ’n hipster-haarsnit hê nie?” vra die haarkapper gemoedelik nadat ek die eerste keer in drie jaar my hare in die Kaapse middestad laat sny. “Nee, regtig nie,” antwoord ek effe verbaas oor die vraag.
“Ek glo jou,” sê sy asof sy haar solidariteit met my in ’n lig beledigende kompliment verklaar. Sy lyk om en by veertig met gitswart gekleurde hare. Só asof sy ook in die 1990’s laas jonk en werklik oor haar haarstyl en klere begaan was. Jethro Tull se 1976-albumtitel, Too Old to Rock ’n’ Roll, Too Young to Die, som ons twee in ons generiese jeans en T-hemde netjies op. “Jy weet,” sê sy, “as ’n jong ou vra ek moet vir hom asseblief net nie ’n hipsterstyl sny nie, dan weet ek presies wat hy wil hê. Dan gee ek hom ’n absolute hipster-haarsny – kort aan die kant met ’n rockabilly-Elvis-eendstert bo – en hy gaan doodgelukkig huis toe.”
Hipsters in stede is nie ’n nuwe verskynsel nie – Robert Lanham se satiriese gids, The Hipster Handbook, het al in 2003 verskyn. Dit het net besonder algemeen geword om hipsters te verpes – almal van my ouers tot ek en my Generasie X-vriende tot die ambassadeur van zef, Jack Parow, is deesdae dik geïrriteerd. In “Eksie Ou” spot Parow só met die Moederstad se hipsters wat in plekke soos Power and Glory, Superette en & Union uithang:
ons dra brille sonder lense, bly in open plan flats
vol bal-en-klou-tafels en opgerolde yoga mats
side path hairstyles en sailor tattoos
ons facebook vol geplak van foto’s van ons shoes
rook net tabak deur ou-oom-pype
dit proe dalk soos kak ma’ dit lyk baie greater
nog ’n