Donna en die droomman. Anita du Preez
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Donna en die droomman - Anita du Preez страница 1
Anita du Preez
Donna en die droomman
Satyn
1
Dit tref haar met ’n bang:
As dié man sou vra, sal sy hom toelaat om aan haar te vat.
Net so.
Sonder om te huiwer.
Omdat dit hý is. Die een van wie sy nog altyd stilletjies droom. Die onbekende donker man wat reg oorkant haar voor een van die skilderye staan, is haar droomman. Asof met yslike vlerke swiep die gedagte uit die dakbalke van Jayd se splinternuwe spierwit galery, so heftig deur haar sinne dat haar bene wil swik.
Donna stut haar met een hand teen die enkele rou baksteenmuur en probeer fokus op die growwe tekstuur. Sy moet fokus op die rede waarom sy vanaand by die uitstalling is. Dis om haar beste vriend, Jayd, se splinternuwe kreatiewe onderneming te kom steun. Nié om vreemde mans te kom beloer nie. Of te begeer nie.
Nee, komaan. Sy moet net diep asemhaal. Soos in joga. Dis tog ’n simpele, oorhoopse idee dat sý aan gevat wil wees. Nou. Hier. Wat nog te sê deur ’n wildvreemde skepsel soos dié. Almal weet tog ’n mens vat nie sommer ongenooid aan Donna Ferguson nie. Haar suster, Karen, is die touchy feely one. Nie sy nie. Sy laat mense nie sommerso in haar ruimte toe nie. Veral nie na die egskeiding nie. Sedert Ruhan weg is, voel sy al meer soos ’n skilpad sonder dop. Uitgelewer. Asof haar selfvertroue met langverlof is en al haar senuwees ontbloot teen haar vel lê.
Sy loer weer.
Hý kan maar.
Donna onderdruk haar gedagtes met mening, maar hulle dobber dadelik weer boontoe. Dwing haar om nóg ’n slag skrams in die man se rigting te kyk. En, ja. Sy kan sien hy is beslis ook van haar bewus.
Sjoe! Daar’s net iéts omtrent hom. Sy het hom dadelik raakgesien. Daarna kon sy die forse, donker gestalte voor die grootste Kannemeyer-skildery nie weer miskyk nie. Sy het so baie gehou van wat sy sien dat sy nie eens agtergekom het dat sy onverbloemd staar nie. En toe hy na die volgende skildery beweeg, kon sy sien hy dra Converse sneakers en verbleikte jeans by sy formele swart baadjie oor ’n gewone wit hemp. Sy moes eenvoudig goedkeurend glimlag asof hy alreeds hare was. En onmiddellik was dit so: Asof hy die een is wat maar nog altyd daar ver iewers in een van die agterste kamers van haar bewussyn gewag het. Haar pasmaat, die een wat haar uiteindelik sou verstaan. Haar sou wéét. Die man op die wit perd waarvan die sprokies deur die eeue heen vertel, en oor wie sy van kleins af gelag het, en tog heimlik as maatstaf gebruik het om alle mans aan te meet.
Ag, nee, kom nou. Dis mos simpel. Sy is tog ’n realis met twee universiteitsgrade. Iemand soos sy, wat gesien het wat haar pa aan haar ma gedoen het en self ook al ’n slag in die kerkpaadjie af is, weet presies hoe dit regtig anderkant die pienk sonsondergang lyk. Dat die hele ou storie van love at first sight die grootste snert onder die son is. Iemand soos sy, wat in die film- en advertensiewêreld werk, weet mos voor haar siel dat sulke fantasieë met die hulp van heelwat rook, spieëls en Photoshop gefabriseer word.
En die man is nie eens regtig mooi nie.
Dis net … dis asof sy hom ken. Al was hy nog altyd net ’n teenwoordigheid in haar drome, net dáár, sonder gestalte, is dit asof haar vingers presies weet hoe dit sou voel om die effens weerbarstige grys hare teen sy slape agter sy ore in te vou. Asof haar hande die pad onthou van die groewe op sy breë voorkop, verby sy prominente neus tot by die gekerfde lyne langs sy vol, goed besnede mond. Waarom weet sy nie. Sy ken hom tog van geen kant af nie. Het hom nog nooit in haar lewe of in haar drome werklik gesien nie. Net maar altyd geweet hy is daar. Iewers.
Sy kyk liewer af. Vat aan die knip van haar handsakkie, maar loer tog weer onder haar wimpers deur. Net om seker te maak. En sy is dadelik spyt, want daar is onmiddellik oogkontak. Boonop laat die gedagte dat hy met daardie sterk vingers wat die wynglas vashou, aan haar sal raak, haar lyf in afwagting tintel. Sy neem weer ’n slukkie wit wyn. Het sy dalk klaar te veel gehad? Of sou sy dalk heeltemal van haar trollie af geraak het? Werk dit dalk so met vroue wat, soos sy, al maande sonder man sit?
Sy bloos.
Ag, nee, flippet. Sy was mos nog nooit ingestel op terloopse liggaamlike kontak nie. Almal by Buitenkant Produksies weet dat hulle baas ’n eenkantmens is. En dis goed so. Die head honcho van ’n suksesvolle reklamemaatskappy kan tog nie te eie met haar werknemers raak nie, of hoe?
Nee wat, sy moet dié soort ding liewer vir Karen los. Karentjie druk en squeeze en kry simpatie en liefies by almal. Nie sy nie. Haar onwilligheid om lyflik te wees, het haar per slot van sake haar huwelik gekos.
“Weet jy, Donna,” het Ruhan getier net voor hy weg is, “jy vry meer met daai verdomde, vet kat van jou as met my, en net sekere mense, soos jou gay kunsgalerymaatjie en daai bleddie suster van jou, met haar baie convenient hartsiekte en al, mag mos aan jou raak. Maar ek? Nee, ék is skynbaar melaats. Seker dié dat jy nie eens my van wou aanneem nie! Seker bang die Van Rooyen-gene smeer af aan jou. En weet jy wat? Ek is gatvol.”
En dit was alles waar.
En nou? Donna is verstom hoedat elke neuron in haar brein luidkeels begin jubel toe die vreemde man nader stap. Sy is skielik so sonder verweer dat sy te bang is om behoorlik na hom te kyk en sy net skalks onder haar wimpers na hom loer. Hy lyk ook effens op sy hoede. Daar is ’n diep frons tussen sy digte, donker wenkbroue, en hy kom staan en maak asof hy ook net belangstel in die fênsie peuselhappies op die perspex-tafelblad reg langs haar. Donna hou haar asem op voor sy huiwering. Sy kan sien hy kou liggies aan sy onderlip se binnekant. Skielik tref dit haar. Dalk lyk hy maar net so peinsend omdat hy moet kies tussen die branderige doopsousie of die avokado? Sy voel die skaamte in haar nek opstyg. Genade, sy was te lank uit sirkulasie om te onthou hoe dit werk.
Toe draai hy direk na haar, sy glimlag net op haar gerig. Sy draai om en kyk of sy haar nie misgis nie. Maar dis net die baksteenmuur agter haar, dus moet die sexy glimlag vir haar bedoel wees. Toe sy terugkyk, vorm sy lippe: “Hallo”. Dalk het hy dit hardop gesê, maar dit lawaai om hulle. Daarom kyk sy liewer af na haar bordjie verlepte eetgoedjies.
Maar toe hy sy hand om haar boarm vou, wéét sy. Haar lyf skrik nie eens nie, want dit voel presies soos wat sy al so dikwels gedroom het. Asof haar vel die grein van sy vingertoppe herken. Al wat sy weet, is dat sy uit eie vrye wil haar goedjies net daar langs sy wynglas tussen die oorskiet op die tafel neersit en saam met hom uitstap sonder om haar te bekommer oor hoe dit lyk.
Met die omdraai, swik sy effens op die nuwe stiletto’s wat sy spesiaal vir Jayd se groot aand gekoop het. Die man verskuif sy hand om haar elmboog stewiger vas te vat. Haar asem ruk in haar keel, en sy kyk liewer nie reguit na hom nie. Sy sien net skrams verby sy skouer dat Jayd vir haar groot oë maak, en met ’n wye handgebaar oor die gaste se koppe woordeloos vra waarom sy dan nou sommerso wegstap. Hy beduie woes na die helderkleurige bont kunswerke teen die strak wit mure en sy liplees: “Jeez! Dis Kannemeyer.” Maar dit maak geen verskil meer aan haar nie, al het sy hom skaars ure tevore nog met koorsagtige ywer gehelp om alles perfek teen die einste mure te hang.
Buite op die systoep is dit sterk skemer.
“Dis beter hier, stiller,” sê die man.
Donna knik, steeds te bang om te praat. Waarom sy, wat feitlik daagliks ’n hele personeel moet toespreek, skielik stomgeslaan is in die teenwoordigheid van ’n enkele mens, verstaan sy nie. Sy is skreiend bewus van sy lyf so na aan haar, maar hulle staan net so. Langs mekaar. Moet sy nou iets doen? Net toe die