Ena Murray Keur 5. Ena Murray
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Ena Murray Keur 5 - Ena Murray страница 19
“Ek is geneig om jou te glo. Miskien het dié soort ding al tweede natuur by jou geword en kom jy nie eens meer agter dat jy dit doen nie. Maar nou vestig ek jou aandag daarop, en ek verwag dat jy van hom sal wegbly.”
“Werklik, jy is verregaande vermetel. Ek …” Sy snak na asem.
“Ek stel nie belang in wat jy van my dink nie, juffrou Marais,” sê hy ysig. “Dit was ’n gemene, lae ding om te doen juis noudat Thero al jou liefde en begrip nodig het.”
“En jy? Jy wou haar nie eens ondersoek nie! As ek jou nie so te sê op my knieë kom smeek het nie, sou jy haar laat gaan het sonder om ’n vinger te verroer!”
“Jy verkeer onder ’n wanindruk, juffrou. Ek sou Thero nooit toegelaat het om hiervandaan te vertrek sonder dat ek alles in my vermoë gedoen het om haar te help om haar gesondheid terug te kry nie. Ek wou maar net die weerstand afbreek wat sy in haar opgebou het. ’n Mens kan net gesond word as jy wíl en daardie feit moes sy eers onder oë kry en erken alvorens ek haar kon behandel.”
Magriet kyk hom radeloos aan. Toe sy dus daardie dag by hom gaan smeek het om Thero te ondersoek, was hy reeds vasbeslote om alles vir Thero te doen. Sy kon maar haar asem gespaar het!
Sy voel skielik oneindig moeg en vee oor haar oë. Liewe land, die dag toe sy Thero beloof het om haar na Abendruhe te vergesel, het sy nooit gedroom dat sy in so ’n web van emosionele roeringe vasgevang sou word nie. Nog minder het sy verwag om met ’n man soos Emile Fraser kennis te maak. Sy staan op en neem haar handsak die tweede keer.
“Ek kan jou verseker, dokter, dat ek Thero nooit doelbewus leed sal aandoen nie. Ek is ook nie so verwaand om een oomblik te dink dat ek ’n man wat in my niggie belangstel van haar sal kan afrokkel nie. Jy het in elk geval my belofte dat ek nie tussenbeide sal kom as hulle … as hulle ’n wederkerige gevoel vir mekaar het nie.”
“Ek verwag meer as dit, juffrou. Ek verwag jou plegtige belofte dat jy Jooste geensins aanmoediging sal gee nie. Ek eis van jou …”
Weer begin Magriet se bloed kook.
“Jy het geen reg om enigiets van my te eis nie, dokter. Ron Jooste is my vriend. Ek weier om hom sonder rede aanstoot te gee net om jou belaglike wens te bevredig.”
“My wens om van jou niggie ’n gelukkige, gesonde mens te maak, is dus in jou oë belaglik.”
“O! Jy weet goed ek bedoel dit nie so nie!” Sy beur by hom verby na die voordeur. “Ek wens ek het nooit my voete hier gesit nie!” roep sy uit.
Hy kry haar aan die skouers beet en ruk haar taamlik hardhandig van die voordeur af weg.
“En ek is bly dat jy na Abendruhe gekom het. Ek sal nog van jou ’n mens maak. As jy dan altyd ’n man op sleeptou moet hê, gooi jou vangnette vir my uit. Ek het presies dieselfde as wat Ron Jooste het en ek is heel moontlik nog ’n beter vangs. My kollega is nog ’n bietjie onervare, gans te onervare vir ’n meisie soos jy!”
“O! Jou … jy …” stotter sy buite haarself van woede.
Hy hou haar magteloos aan die skouers gevange. Skielik lag hy openlik op haar af.
“Ek dink … ek dink …” stik Magriet die woorde uit, “ek dink jy is die gemeenste, inmengerigste, verwaandste …”
“Ensovoorts, ensovoorts,” murmel hy en skielik trek hy haar stywer teen hom vas en fluister laggend teen haar mond: “Ek dink dit gaan nogal interessant wees om jou belangstelling in Jooste na my oor te plaas!”
Sy lippe rus kort en hard op hare. Dan laat hy haar skielik gaan en gryp haar arm vas wat sy vinnig oplig.
“O nee! Daardie soen was nie ’n klap werd nie! Slaap lekker. En onthou om môreoggend ’n tas te pak vir sowat drie dae. Ons sal nie langer as dit weg wees nie.”
Magriet se oë knip vinnig asof sy sukkel om by te hou by sy gedagtegang en vra verward: “Waarheen gaan ons?”
Sy oë spot.
“Jy leer gou! Ons gaan Simonsvlei toe. Ons vertrek sodra ek seker is my operasiegeval van môre is buite gevaar.”
“Hoekom moet ek saamgaan?”
“Sodat ek jou in die oog kan hou, Grietjie. Jy dink tog seker nie dat ek jou drie volle dae lank vrye teuels hier sal gee nie.”
Magriet is aanvanklik te verstom om ’n woord uit te kry.
“Jy kan nie ernstig wees nie!” laat sy dan floutjies hoor.
“Ek is. Heeltemal. Ek vertrek môre vir drie dae na Simonsvlei en jy, Magriet, gaan saam – dis gewis!”
5
Magriet is van voor af ontsteld toe sy die volgende oggend wakker word en die vorige aand se gebeure in herinnering roep. Maar terselfdertyd is sy ook onrustig. Sou dokter Fraser dit werklik ernstig bedoel het toe hy gesê het dat sy vandag saam met hom Simonsvlei toe moet gaan? Maar hy het geen mag oor haar nie. Hy het geen reg om haar rond en bont te gebied nie. Sy sal nie saamgaan nie, besluit sy. Sy sal hom wys.
Omstreeks tienuur loop sy Ron, taamlik dikmond, by Thero in die kamer raak. Dis met die eerste oogopslag duidelik dat hierdie twee nie gemaklik voel in mekaar se geselskap nie. Ron is stuurs en uiters formeel teenoor Thero en Thero kyk skaars in sy rigting. Magriet wonder bekommerd of hulle die vorige aand rusie gemaak het, maar vra liewer nie uit nie. Hy maak byna dadelik verskoning en is skaars by die deur uit of Thero draai na haar niggie.
“Jy is darem ’n mooi een, Magriet,” beskuldig sy sommer reguit. “Ek het dit nie van jou verwag om my so in die rug te steek nie.”
Magriet is dronkgeslaan deur hierdie beskuldiging. “Waarvan praat jy, Thero? Ek is nie bewus daarvan dat ek jou in die rug gesteek het nie.”
“Wat noem jy dit dan anders as jy gisteraand die hele tyd jolyt hou met Ron, maar toe dit huistoegaantyd word, skuif jy hom gerieflik op my af en verdwyn met Emile?”
Toe Thero nog baie siek was, daardie eerste paar weke, het Magriet gehoop dat daar ook ’n innerlike verandering ten goede by haar sal intree. Maar ’n mens verander nie oornag nie. Die ou selfsugtige streek is nog daar en dit steek weer vanoggend kop uit. Thero was te lank daaraan gewoond om in alles haar sin te kry. Emile Fraser het haar belangstelling gewek juis omdat hy oënskynlik niks meer as professionele belangstelling in haar toon nie, en dit frustreer Thero mateloos. Sy is nie gewoond daaraan om te sukkel om belangstelling by ’n man op te wek nie. Op iemand moet sy haar frustrasie uithaal. Gisteraand was dit blykbaar Ron wat moes deurloop en vanoggend is dit Magriet.
Diep in haar hart voel Thero skuldig oor haar optrede teenoor die jong dokter gisteraand. Sy het hom onomwonde gesê dat sy sy belangstelling in haar lastig vind. Die ongelukkigheid in sy oë en die bitterheid in sy stem het haar egter deur die nag bygebly. Dis daarom dat sy vanoggend weer in een van haar moeilike buie is. Nou moet Magriet dit ontgeld. Maar vanoggend misreken sy haar met haar saggeaarde niggie. Vandat hulle op Abendruhe